Kersfees goed

Kleintyd was Kersfees ‘n groot gebeurtenis in my lewe. Kerstyd het beteken ons gaan Stilbaai toe na die groot huis op die rivier en tannies en ooms en niggies en nefies was daar. Langsaan was klein-niggies en nefies. En dan was daar ouma. Al was sy oud en nie meer vreeslik mobiel nie het sy daai huis met ‘n ysterhand (en kruk) regeer.

Wie eet wat en wanneer. Wanneer die kleinkinders mag buite speel (nie in die middag sonder ‘n hoed nie en glad nie blikkaspaai na skemer nie – daar’s slange). Die kersfees koek mag net op ‘n sekere tyd gesny word en ons klomp se Tripoli speel moet by die geeltafel gebeur – die tannies en ooms speel brug by die eetkamertafel. Kleinkoekies is nie vir eet en eet en eet nie en die blikke was in die kas in die eetkamer, naby haar slaapkamer. Al het dit gelyk of sy sit en slaap was haar ore nog goed, as daai blik se deksel (nog ‘n regte blik, nie ‘n plastiek ene nie) nog so ‘n skuur geluid maak raas sy al. En bewaar die een wat dit regkry om koekies te steel en nie die deksel weer reg opsit nie, dan raak die koekies pap – ‘n sonde groter as die steel.

Die groot ding van Stilbaai se Kersfees was eintlik die versierings. Sakke en sakke vol versierings wat al vir jare saammet die huis kom. Goed wat my ma-hulle nog as kinders gemaak het toe hulle daar vakansie gehou het. Glas goed, corny goed, kitch goed. Elke jaar het die sakke en bokse op ‘n sekere datum te voorskyn gekom. En nie ‘n dag vroeër nie. Ouma sit op die bank soos ‘n koninging, majoor en ouma (all rolled into one – a “look” wat sy nogal goed kon doen). Daar is nie plek vir interpretasie nie. Die versierings kom presies waar hulle die vorige jaar en die jaar voor dit was. Daar waar ouma sê. En as jy nie verstaan nie – dan wys sy met die kruk. Net sekere kleinkinders kon aan sekere goed raak. Hoe ouer die kleinkind, hoe meer delikaat die versierings. Vir een of ander rede het ek en my sussie nooit verder as die plastiek holly gevorder nie. Jaar in en jaar uit. ‘n Ander niggie het die engel gekry. Jaar na jaar. (Ek dink my sussie dra nogsteeds letsels). As alles uitgepak en opgehang was het ouma tevrede gesug.

Later jare het ons as gesin alleen vakansie gehou by ons huis in die Oos-Kaap. Kersfeesversierings was my verantwoordelikheid. Dit het jaar na jaar verander. Bome het gewissel, kleure en style het gewissel, maar ek het die koningin-samajoor rol vervul. Goed hang net waar ek sê dit moet. Toe my broer se dogtertjie oud genoeg raak om te wil help het dit baie geduld van my kant af gekos om nie die goed wat sy ophang weer te verskuif nie. (ek kon mos onthou hoe graag ek aan ander versierings as die plastiek holly wou vat!).

Laasjaar het ek my eerste (en seker laaste) aanloop tot ‘n “white Christmas” gehad. Ek het versierings en liggies en goedjies gekoop, maar kon myself nie sover bring om dit op te sit nie, aangesien ons Kersfees in Jordanië spandeer het.

Ek en Liefie het egter intussen ons eie Kerstradisie begin. Ons probeer om iets wat as Kersversiering kan dien in elke land wat ons besoek te koop.

Ek sit nou hier en jeuk om my Kersgoed uit te pak en die huis te versier, maar dit voel nog nie vir my reg nie – hier’s nie niggies en nefies en ‘n kerskoek nie. Hier’s nie kleinkoekies en wortelslaai nie. Hier’s nie ‘n ouma nie. Hier’s nie rivier of ‘n see nie. Dis net ek en my herinneringe.

Advertisements

9 thoughts on “Kersfees goed

  1. Sonkind November 27, 2008 / 11:15 vm

    Lank terug het iemand eendag vir my gesê mens moet nooit terugloop op jou spore nie, want jy sal jou goeie herinneringe opmors deur dit te doen, want niks is ooit weer soos wat dit was nie.

    Ek het ervaar dat dit verskriklik waar is. Maar juis daarom het sulke herinneringe soos wat jy hierbo beskryf het, vir my kosbaar geword en koester ek daardie herinneringe. En ek is ook gelukkig genoeg om sulke kleinood-herinneringe te hê.

    Wees bly jy is so bevoorreg om soveel onthou te kan hê en maak nou jou eie nuwe herinneringe saam met Liefie 🙂

  2. neykie November 27, 2008 / 11:39 vm

    Ons kersfees boom is al van begin November af op, en liggies buite verhelder die landskap van ons plaas.

    Kersfees kleintyd? Ek kan nie een enkel goeie ding van dit onthou nie.

  3. Pikkelik November 27, 2008 / 2:59 nm

    Jou herinneringe is kosbaar, koester dit, skryf dit neer, bere dit vir jou kinders, maar moet nie in die verlede probeer leef nie! Die tyd is nou!!!! Jou tyd is nou, maak jy nou vir jou nageslag sulke herinneringe. Maak jou eie tradisies en leef dit so dat jou kleinkinders eendag so ‘n kosbare storie kan skryf soos wat jy vandag geskryf het!

  4. White Knight November 28, 2008 / 10:48 vm

    Dagse NetJane

    Ek stem saam met die ander, jou herinneringe is kosbaar bewaar dit vertroetel dit en leer daaruit. Soos jou verlange om meer te mag doen as net dieselfde elke jaar.

    Maar maak jou eie lewe se stories skryf dit elke jaar soos ‘n boek met nuwe bladsye. Doen wat pas by julle en die omstandighede. Doen wat vir jou vreugde bring.

    Groete

  5. Adrie November 28, 2008 / 10:54 vm

    Ek is die Engeldraer in ons huis.

  6. Celeste November 30, 2008 / 7:32 nm

    Ek het self ook net goeie herinneringe aan Kersfees tye toe ons kinders was, maar ‘n mens sal dit nooit weer terug kry nie.
    So ons het nou maar ander tradisies begin vir Cat sodat sy ook hopelik eendag daaraan sal terugdink as goeie jare.
    Maar as die familie (die wat nog oor is) bymekaar kan wees vir Kersfees – dan maak ons ‘n plan en kom bymekaar – die liefde en lawwighede is nog steeds daar!

  7. boendoe Desember 1, 2008 / 9:16 vm

    Kersfees is nie Kersfees sonder vriende en famililie (en veral kinders) nie. Ek sou ook nie gebodder het met ‘n boom as ek nie kiddies gehad het nie. 😉

  8. Renee November 19, 2009 / 3:45 nm

    Hi Jane,

    Ek het ‘n klein koerantjie wat ek versprei in die overberg en garden route. Mag ek asb hierdie artikel van jou plaas? Dit is vreeslik oulik. Ek sal ook bysit wie dit geskryf het en waar dit vandaan kom.

    My koerant se naam is Die Post.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s