Kersfees goed

Kleintyd was Kersfees ‘n groot gebeurtenis in my lewe. Kerstyd het beteken ons gaan Stilbaai toe na die groot huis op die rivier en tannies en ooms en niggies en nefies was daar. Langsaan was klein-niggies en nefies. En dan was daar ouma. Al was sy oud en nie meer vreeslik mobiel nie het sy daai huis met ‘n ysterhand (en kruk) regeer.

Wie eet wat en wanneer. Wanneer die kleinkinders mag buite speel (nie in die middag sonder ‘n hoed nie en glad nie blikkaspaai na skemer nie – daar’s slange). Die kersfees koek mag net op ‘n sekere tyd gesny word en ons klomp se Tripoli speel moet by die geeltafel gebeur – die tannies en ooms speel brug by die eetkamertafel. Kleinkoekies is nie vir eet en eet en eet nie en die blikke was in die kas in die eetkamer, naby haar slaapkamer. Al het dit gelyk of sy sit en slaap was haar ore nog goed, as daai blik se deksel (nog ‘n regte blik, nie ‘n plastiek ene nie) nog so ‘n skuur geluid maak raas sy al. En bewaar die een wat dit regkry om koekies te steel en nie die deksel weer reg opsit nie, dan raak die koekies pap – ‘n sonde groter as die steel.

Die groot ding van Stilbaai se Kersfees was eintlik die versierings. Sakke en sakke vol versierings wat al vir jare saammet die huis kom. Goed wat my ma-hulle nog as kinders gemaak het toe hulle daar vakansie gehou het. Glas goed, corny goed, kitch goed. Elke jaar het die sakke en bokse op ‘n sekere datum te voorskyn gekom. En nie ‘n dag vroeër nie. Ouma sit op die bank soos ‘n koninging, majoor en ouma (all rolled into one – a “look” wat sy nogal goed kon doen). Daar is nie plek vir interpretasie nie. Die versierings kom presies waar hulle die vorige jaar en die jaar voor dit was. Daar waar ouma sê. En as jy nie verstaan nie – dan wys sy met die kruk. Net sekere kleinkinders kon aan sekere goed raak. Hoe ouer die kleinkind, hoe meer delikaat die versierings. Vir een of ander rede het ek en my sussie nooit verder as die plastiek holly gevorder nie. Jaar in en jaar uit. ‘n Ander niggie het die engel gekry. Jaar na jaar. (Ek dink my sussie dra nogsteeds letsels). As alles uitgepak en opgehang was het ouma tevrede gesug.

Later jare het ons as gesin alleen vakansie gehou by ons huis in die Oos-Kaap. Kersfeesversierings was my verantwoordelikheid. Dit het jaar na jaar verander. Bome het gewissel, kleure en style het gewissel, maar ek het die koningin-samajoor rol vervul. Goed hang net waar ek sê dit moet. Toe my broer se dogtertjie oud genoeg raak om te wil help het dit baie geduld van my kant af gekos om nie die goed wat sy ophang weer te verskuif nie. (ek kon mos onthou hoe graag ek aan ander versierings as die plastiek holly wou vat!).

Laasjaar het ek my eerste (en seker laaste) aanloop tot ‘n “white Christmas” gehad. Ek het versierings en liggies en goedjies gekoop, maar kon myself nie sover bring om dit op te sit nie, aangesien ons Kersfees in Jordanië spandeer het.

Ek en Liefie het egter intussen ons eie Kerstradisie begin. Ons probeer om iets wat as Kersversiering kan dien in elke land wat ons besoek te koop.

Ek sit nou hier en jeuk om my Kersgoed uit te pak en die huis te versier, maar dit voel nog nie vir my reg nie – hier’s nie niggies en nefies en ‘n kerskoek nie. Hier’s nie kleinkoekies en wortelslaai nie. Hier’s nie ‘n ouma nie. Hier’s nie rivier of ‘n see nie. Dis net ek en my herinneringe.

Ongemanierde merrie!

Ek word baie moeilik baie kwaad. Ek wip my gat, maar wys bitter min my gevoelens vir die buite my binnekring. Ek is die een wat kalm bly op die foon, my kollegas sit die moelike kliënte deur na my toe, omdat ek so vreeslik beheersd bly. My stemtoon styg nie, ek is net kalm.

Ek vloek in die verkeer as ek oor goed nadink en ek is lekker demoerin as ek die foon neersit na so ‘n gesprek, maar terwyl ek met ‘n kliënt of ‘n kollega of enige ander medemens handel is ek vreeslik beskaafd. Ek noem dit goeie maniere. Ek weet my ma sal my gatvelle aftrek as ek durf om my toys lelik te gooi. Ek dink soms ek kom verder omdat ek nes ‘n donkie weer en weer en weer my kop stamp totdat ek uiteindelik my sin kry. Ek sê net oor en oor dieselfde ding, of vra oor en oor “maar hoekom” en so gaan die storie aan. Jane word nie kwaad nie.

Maar as ek die dag kwaad word!

Ek sit nou hier en stoom. ‘n Aktetikster by ‘n ander firma (hoe graag wil ek haar naam tik!!) het vanmiddag, terwyl ek nou so vreeslik vriendelik en kalm is, die volgende geskreeu:

“I will not argue about this with you!” Ek sê toe net ek “argue” nie, ek vra net hoekom. Toe skree sy nog ‘n paar goed en toe – en hierdie was die deal breaker – gooi sy die foon in my oor neer.

Hoe durf mense so op te tree? Hoekom dink mense dis reg? Voel hulle beter oor hulself? Ek sou nog probeer verstaan het as ek vreeslik sleg teen haar opgetree het, of haar uitgetrap het, om miskien selfs vir haar gejok het oor iets. Ek het niks van die bogenoemde gedoen nie. Ek was vriendelik, professioneel, prakties en aangenaam. Ek het duidelik gepraat, ek het my saak gestel en van haar verwag om dieselfde te doen.

Nou waar staan ek nou? Ek haar baas gebel, maar die is nie beskikbaar nie. Hoekom dink sy nou die probleem is opgelos of lewe ons in ‘n tyd waar die een wat die hardste skree die verste kom?

Dan bly ek maar eerder heeltemal stil.

Bom skok

Ek sit vanoggend hier aan die verkeerde kant van ‘n paar (okay, ‘n hele paar) Jägerbombs. Ek wou nie eens na die party toe gaan nie, maar aangesien dit ‘n groot kliënt behels het, moes ek maar. Ek is nie meer ‘n groot drinker nie en een drankie is gewoonlik genoeg vir my, maar nadat die kliënte weg is, het die partytjie heel aangenaam geraak.

Ek het vir Liefie aangesê om my te kom haal en my kar maar hier by die werk laat oornag. Ek is een van die wat laat gebly het wat die vroegste geloop het. As ek so kyk na die vaal en dun ogies wat vanoggend al hier by die kantoor ingesluip het, is ek ook maar bly ek het halt geroep toe ek dit gedoen het.

Nou wag ek natuurlik in spanning vir die eerste kliënte/telefoonoproepe/leêrs van die dag.

Hoe kon ek vergeet dis ‘n slegte idee om op ‘n Donderdagaand te kuier?

Lekker naweek bloggers en bloglesers. Dis Netjane – oor en uit!

Voorhuweliksekontrak

As deel van my werk stel ek so dan en wan voorhuweliksekontrakte op. (Ek het net die moeite gedoen om die Notariële eksamen te slaag, omdat die Notariële seël my vreeslik beïndruk het.)

So is my jongste kliënte dan ook blykbaar verlief, ten spyte van die feit dat hy 15 jaar ouer as sy is en dat ek dink dit ‘n kak idee is om op 22 te trou. (Haar paspoort foto wys haar nog in haar skoolklere!). Ek dink toe ook dis veral ‘n kak idee om op 22 te trou en nie die aanwasbedeling in te sluit nie. Ek dra toe ook die boodskap mooi aan die aanstaande paartjie oor. (Ek het darem nie die woord kak gebruik nie). Hy sê hulle sal na die troue ‘n kontrak tussen die twee van hulle opstel. Hallo! VOORhuweliksekontrak. In elk geval.

Die situasie het so afgespeel:

Ek vra vragies (onskuldige goed soos hoe gaan dit met die troureëlings). Sy kyk met skaapogies na hom, waarna hy knik en sy dan eers antwoord. Ek merk op dat sy ‘n ongewone van het. Hy antwoord ja. Sy maak geen oogkontak nie en smelt omtrent in die sitplek in. Dis amper asof ek met ‘n spook gepraat het. Is dit wat ‘n man aan ‘n jong meisie kan doen? En indien wel – hoekom trou sy met die ou!? Ek het geen verloofring opgemerk nie, ek het gekyk of sy swanger is, sy is nie en hulle trou eers aan die einde van Januarie. Ek kon glad nie die storie uitpluis nie, maar om een of ander rede voel ek vir haar baie jammer.

My tweede stel kliënte vir die dag was ‘n paartjie wat 24 jaar van mekaar verskil. Dit is albei se tweede rondte in die wêreld van trou en hulle het darem ‘n heel sinvolle kontrak met mekaar kon sluit. Wat vreemd was, is dat hy ‘n dokter is en sy die ontvangsdame. Dis die tweede keer in ‘n kort tydjie wat ek ‘n kontrak vir die dokter en sy (baie) jonger ontvangsdame opstel. Ek het gedog dis net ‘n cliché.

Hoekom is mense so bang om huweliksvoorwaardekontrakte te sluit? “Ons gaan nooit skei nie!” *giggel giggel* *soentjie soentjie* En dan ek wat “bad cop” speel: “Ja, maar een van julle gaan voor die ander een doodgaan.” Dan lyk bruidjie altyd baie bleek en macho bruidegom gee haar been ‘n ou drukkie. “Toemaar Liefie”.

Word wakker girls! Lees op. Vind uit. Bel my as dit moet! Maar moet tog net nie by my aankom en die volgende sin mompel nie: “net wat Jannie sê is vir my reg” en dan nog daarna giggel nie. Dit laat my crack.

Kroonprinses

Verander ek toe vanmiddag in ‘n sprokies karakter. “Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie is die mooiste in die land?” Ek gee nie eens daai spieël ‘n kans om te dink of te antwoord nie, skreeu sommer vir myself die antwoord uit: Jy!

Ek het my troufoto’s teruggekry. Ek is sommer weer verlief op Liefie, op Ons en op myself. Narcissus se moer. (Ek trek darem die streep by die soen deel…). Kan iemand nou so trots wees op iets wat hulle nie eens self gedoen het nie? Die fotograaf moet al die krediet kry, maar man, ek was ‘n mooi bruid en Liefie is dashing en handsome en dazzling. En saam is ons ‘n Hollywood glanspaartjie.

Ek is nie ‘n vreeslike glamour girl nie, so om na die foto’s te kyk is om iets raak te sien wat nie gewoonlik daar is nie. Amper asof ek na iemand anders kyk. Ek is so trots op hoe goed uitgedraai het dat ek kan bars, maar ek moet myself inhou, want ek kan darem nie heeltemal so verskriklik erg “vain” wees voor my naasbestaandes nie – ek sal nooit die einde daarvan hoor nie. Dis die rede vir hierdie blog. So gee my maar hierdie paar paragrawe om my eie beuel te blaas. Wat’s die slagspreuk nou weer? “Because you’re worth it!”.

Terwyl ek nou in hierdie skoonheidskoningin waan van my is, tref dit my dat ek moet inskryf vir een van die bruid van die jaar kompetisies. Of vat dit ydelheid een stap te ver?

So vergewe my maar hierdie een laaste foto – ek kan myself net nie help nie… 😉

J.bouval

Japan, Japanner, Japaneeste

wishes

Ek is ‘n reisger. Al gaan ek nie fisies êrens heen nie, is my brein pal op reis. Ek het nog altyd ‘n paar lande in my gedagtes gehad, lande waarheen ek nooit gedink het ek sou gaan nie, maar waaroor ek in elk geval nog gedroom het en oor gewens het. Japan was een van hierdie lande.

My droom het waargeword met ons wittebrood. Ten spyte van die feit dat ek oor die land gedroom het, het ek geen vooropgestelde idees gehad nie en het ek eintlik bittermin van Japan buiten die normale “sushi, Hiroshima, baie mense” geweet.

Ek en Liefie het met ‘n baie beperkte reisplan gebasseer op verskeie vriende en kennisse wat reeds in Japan was, se aanbevelings daar aangekom. Ons het darem ook alkeen ‘n “Japan Rail Pass” gehad wat baie (trein) deure vir ons oopgemaak het gehad.

Wat ‘n land! Van die heel eerste tot die heel laaste Japanese ervaring was die land ‘n droom. Die mense is vriendelik, hulpvaardig en vreeslik aangenaam. Die dorpe en stede is maklik om te ontdek en die vervoer is uitstekend. Die stedelike “sights” is regtig ‘n thrill ‘n minute. Kyk, kyk, kyk, kyk. Of dit nou die geboue of die winkels of die mense of die skoon strate is. Mens kyk net. Die heeltyd.

Buiten die toeriste aantreklikhede moet ek sê dat die mense van Japan my die meeste sal bybly. Hul hele manier van doen het my net ure oor ‘n koppie koffie by die stasie laat talm, sodat ek hulle net kon waarneem. Hulle neem eerstens hulle werk vreeslik ernstig op. As mens iets doen, doen dit reg. Ek het gedink die Swede is presies as hulle iets maak of doen, maar teenoor die Japanese outjies lyk hulle derde wêrelds!

Ek kon myself verder verkyk aan die hele kultuur van “cute”. Selfs sakemanne het Hello Kitty charms wat aan hulle selfone hang. Elke dogtertjie se hare is in twee poniesterte met strikkies en knippies en allerhande tierlantyntjies. Hoërskoolmeisies is netjies in hulle skooluniform, maar hulle tasse is vol blinkertjies en fieterjasies geplak. Die speletjies arkades staan vol hoërskoolseuns wat sakke vol beertjies uit die masjiene vang. Selfs die oudste tannies sal een of ander poppie of beertjie of iets blinks of met ‘n klokkie iewers aan haar persoon hê. Verder het ek my doodgelag vir die Japanese wat met hemde met Engelse woorde op rondloop, maar duidelik geen benul van die betekenis het nie. Dit het my laat vermoed dat daar geld te make is uit iets soos “Hello Kitty is my bitch”. 😉

Die energie wat die Japanese uitstraal was vir my fantasties. Daar is duidelik iets te sê vir ‘n gesonde dieët, tai chi en meditasie. Selfs in die besigste stasies voel mens glad nie daardie sweterige druk wat mens in byvoorbeeld London se treine sal voel nie. Amper asof elkeen so “bubble of serenity” saammet hulle dra.

Buitelanders blyk baie gewild te wees en ons het gereeld glimlagte gekry. Skoolkinders het omtrent oor hulle voete geval om skaam aan ons te vat en van die meer voor op die wa outjies het fotos geneem. (en ek is nie eens blonde nie!). Ons het deurgaans uitstekende diens gekry en al was alles peperduur, het ons nooit ingedoen gevoel nie. Die kwaliteit van hulle kos is regtig baie goed. Ons het selfs ‘n paar vreemde disse probeer, en ek leef nog…

Japan was regtig ‘n droomland en al was ek nou al daar, sal dit nogsteeds in my gedagtes bly draai – ek droom nou oor hoe dit sou lyk as die kersiebloeisels bot.

En nou vir die fotos!

tokyo-temple osaka-garden

temple-lanterns

japanese-wedding