Na die aandag

Dis ‘n vreeslike vreemde gevoel om vir ‘n lang ruk die “center of attention” te wees en dan eweskielik net weer “normaal” te wees.  Ek onthou die eerste keer wat ek so gevoel het was nadat my week om die skoolhek ooptesluit in Graad 1 verby was. Die aandag het aangeskuif.

 

Ek het verloof geraak en toe Swede toe getrek en toe teruggekom en toe voorberei vir die troue en toe getrou en toe op wittebrood gegaan en nou is ek terug en getroud en die aandag het aangeskuif.

 

Ek is nie ‘n aandag vraat nie, ek hou eintlik nie eens daarvan om vreeslik in die kollig te wees nie, maar ek voel nou so ordinêr. Ek voel verskriklik om dit te dink, te voel en aan die wêreld te erken, maar dit is nou maar eenmaal so.

 

Ek dink vir mense wat lank in ’n verhouding was en lank saamgewoon het verander trou nie vreeslik baie goed nie. Waarop hulle mens moet voorberei is die terugkeer na ”normale” lewe. Dat om getroud te wees nie beteken mens het nie nog wasgoed om te doen of ’n wekker wat lui sodat mens kan werk toe gaan nie.

 

Maar my trouring is nog mooi blink! 😉

 

Terloops, wat de moer is fout met mense wat al op die troue oor babas begin uitvra?

 

Advertisements

Hoe gemaak?

Ek’s terug, maar nou het ek vir so lank nie geblog nie dat ek half verlore voel. So amper of ek nie meer hier hoort nie…

Ek sal vanaand hard moet dink aan ‘n “I’m back!” post.

Hou hierdie spasie dop… 😉

Ek is getroud!

Ek is getroud!

Ek het die mooiste troue gehad, met die beste man op ‘n pragtige plek. Die weer was uit die boonste rakke en ek was (en ek is nie eers skaam om dit te erken nie) die mooiste bruid ooit. Die tafels was mooi, my blomme was pragtig, die dominee het mooi gepreek, my man (so lekker om te sê!) het so mooi toespraak vir my gehad dat selfs die mans in die gehoor gehuil het.

Ek is so trots op hoe my troue uitgedraai het dat ek kan bars!

Vir die op Facebook – ek word by die minuut getag deur vriende – gaan kyk!

Dankie vir al die mooi wense en ondersteuning van al die bloggers, ek waardeer dit vreeslik.

Groete – ek’s nou op wittebrood! 🙂

Ek wonder

Staan ek toe nou so in my trourok en dink ek lyk pragtig en ooh en aah oor myself en dink oor hoe ek die heel mooiste rok in die hele wêreld het en hoe geen ander bruid nog ooit mooier as ek gelyk het nie, toe die ontwerper vir my sê “Die komende week is jou week vir maer word.”

Ek glimlag toe maar mooi, knik, gee ‘n benoude bruid giggel en laai toe maar die rok in my kar. Al die pad oppad terug van Pretoria af dink ek “wat de moer beteken dit?” “wat de moer beteken dit?” “wat de moer beteken dit?”.

Beteken dit ek gaan automaties maer word in die komende week of beteken dit ek moet maer word in die komende week? In albei gevalle, wat dan van die rok wat ek dink nou so perfek is? Mense sê vreemde goed.

Nog iets waaroor ek gewonder het toe ek lekker in middagverkeer vassit oppad terug van Pretoria af, was hoe om op een of ander manier dit wat ek oor bestuurders kwytraak aan hulle oor te dra. Ek praat nou nie van vinger wys en tong uitsteek nie, ek wil hê my boodskap moet eweskielik in ‘n mooi stem oor hulle radio uitbasuin word. “Linker baan poephol!” “Opskud Oupa!” “Poppie, fokus!” en ander dergelike dinge. Ek wil hê hierdie boodskappe moet anoniem verskyn en my glad nie in gevaar stel nie. Ek’s net effens bang vir wat oor my radio gesê gaan word…

More is my laaste dag by die werk vir amper ‘n hele maand. 🙂