Musical chairs

Ek het al baie moeilike goed in my lewe gedoen, maar iets wat ek gedink het sommer chop-chop gedoen sal word is besig om my grys hare te gee.
Dis regtig moeilik en verg baie moeite om tafel plasings vir die troue te doen. Ek het nie baie trougaste nie, waarskynlik in die omgewing van 60. (Effens van die onderwerp af: hoekom het mense so ‘n moerse fobie om te RSVP. Ja of Nee. Dis nie so moeilik nie). In elk geval. Eerstens het ek nie ‘n tradisionele bruidstafel nie, aangesien ek en Liefie nie strooimeisies of -jonkers het nie. Liefie se pa is reeds oorlede en dit sal half stupid lyk as ons tweetjies en my ma en pa en sy ma daar sit en tone tel. Ek kan nie waag om my broer en suster aan die tafel te sit nie, aangesien hulle klein kindertjies het en my sussie se kinders effens van ‘n handvol is. Liefie se suster en sy broer se vrou is nie juis die beste van vriende nie en so word nie lys van moontlike opsies korter…

Verder het ek nie ronde tafels gekies nie, maar vierkantiges en reghoekiges wat dan in verskillende kombinasies bymekaar gesit kan word. Sekere gaste kan net by ander gaste gesit word. Mens kan mos nie twee susters wat mekaar lank nie gesien het nie en ver gereis het om die troue by te woon skei nie? Verder is daar gaste wat by niemand anders pas nie. Dan is daar gaste wat so mooi bymekaar pas, maar as mens hulle bymekaar sit is dit amper te obvious. Ons het drie couples wat van Duitsland af kom. Dan sit ons nog met die  Griek wat met ‘n Boerin getroud is, maar nie die Taal so lekker praat nie, maar mens wil die Boerin by haar pelle sit en om dan vir die Griek ‘n Engelssprekende “maatjie” te gee sit mens nog ‘n Engelse mens by die tafel, maar eweskielik is die situasie nou so dat al die plaasmense moet Engels praat en die een is ‘n skaapboer van De Aar wat glad nie die rooitaal mooi praat nie.

Dan nog besluit waar ek en Liefie moet sit en ons wil nie favourites speel nie en sekere mense dink nog dis ‘n groot eer om by die bruidspaar te sit. Ek oorweeg dit sterk om randomly vir sekere gaste rooi stickers op te plak soos hulle instap en dan later aan te kondig: “sal almal met rooi stickers asseblief by die bruidstafel aanmeld. It’s your lucky day!”.

Met die gemeet en gepas van name kom ek agter ek het ‘n eks boyfriend aan die bruidstafel laat opeindig en asof dit nie vir al my skoolpelle weird genoeg is dat ek ‘n eks boyfriend troue toe nooi nie, sit ek hom nog aan die hooftafel ook! Verder bring nie een van die gays partners nie of het hulle nie partners nie en ek wil nou ook nie ‘n pienk tafel skep nie. Dan onthou ek die dominee, fotograaf en haarkapper moet ook iewers sit. Ek  kan seker ook nie die haarkapper en sy nuwe lover wat spesiaal vir ‘n dirty weekend kom om my hare te doen langs die dominee sit nie. Mens kan nie kinders van hulle ouers skei nie en hoe boring is dit vir ouers om aan tafel met ander ouers met kinders te sit? Dan kon hulle net sowel Spur toe gegaan het. Ons het ‘n enkele Muslim paartjie en my broer is so lief vir Osama jokes.

Daar’s min crossover gaste en daarby bedoel ek die wat mense in meer as een groep ken en dus as skakel kan optree. Van die min crossover gaste is ‘n Sjinese Mauritian wat Engels met ‘n swaar Franse aksent praat/

Dis moeilik se ek julle. Moeilik.

Twinkle toes

Ek wou eers net se dat die hond my blogwerk opgevreet het.

Maar toe kyk ek af en sien my splinternuwe spesiale Lentedag skoene. (Ons kantoor hou sommer vandag Lentedag, want wie wil op ‘n Maandag partytjie hou?) In elk geval. Dis die mooiste skoene in die hele wereld. Ek het hulle al laasjaar in Engeland gekoop en net nog nooit ‘n geleentheid gehad om hulle te dra nie, maar vandag was die dag. I am stepping out in style. So nou is ek vreeslik opgewonde en stap ek met ‘n ekstra wiggle en kan ek nie wag vir die cocktails om te begin vloei nie. Nou hoop ek maar van hierdie energie wat ek vandag voel versprei in die blogwereld, want iets swaarmoedig hang deesdae in die lug.

Dis al wat ek wou gese het. Miskien moes ek maar gestop het by “die hond het my blogwerk opgevreet”.

Niks om oor skaam te wees nie

Wat ek nou gaan erken is seker nie goed vir die hele Woman’s Lib beweging nie en die bra-verbranders sal my seker stenig, maar dis nou maar een van daai dinge. My naam is Jane en ek hou van wasgoed was.

Ek hou nie van die sorteer in kleure nie, ek hou nie daarvan om deur die sakke te kyk om seker te maak daar’s nie tissues of slippies of geld in nie, maar dit gee my ‘n vreeslike gevoel van genoegdoening as ek die “start” knoppie op die masjien druk en die water so sjjjhhhh geluid maak.

Die tweede stap van my wasdag “high” is as alles so netjies op die draad uitgehang is. Volgens kleur, natuurlik. Ek weier om ‘n tuimeldroer te gebruik en die ophang van klere op ‘n perd in Swede het my erg geirriteer. Ek hou daarvan om in my agterplaas te staan, met die draad wat so stadig in die rondte draai as daar ‘n ligte windjie is. Ek kort nog net ‘n voorskoot met pennetjies voor in die sak om die 1930’s Suburbia beeld te vervolmaak. Die agterplaas het ‘n mooi suurlemoen boom in om die prentjie te voltooi.

Teen die tyd wat ek die wasgoed van die draad afhaal en netjies opvou in die mandjie is ek omtrent trots op myself. Ek skat ek kry dieselfde gevoel as iemand wat jag en ‘n bok geskiet het. So ‘n “I came, I saw, I conquered” gevoel.

Daai netjies opgevoude wasgoed bly dan in die mandjie totdat Stephina op Maandae kom.

Stryk doen niks vir my nie.

Lady in red

My Donderdagoggend het soos ‘n Maandagoggend begin en dit maak my half kwaad, want geen mens verdien om twee Maandagoggende in een week te beleef nie.

Ek het die huis se matte uitgeruk en die blokkiesvloere laat skuur. Hoekom ek so ‘n taak aangepak het terwyl ek eintlik met trougoed moet besig wees, weet net ek, maar laat ek vir julle vertel: maak nie saak of die outjies vir jou vertel dat daar min stof gaan wees nie, daar’s nogsteeds vrek baie stof. Maak nie saak of die outjies vir jou vertel die vernis gaan nie erg ruik nie, dit stink moerse en gee jou ‘n high of note. Alles lyk mooi en vandag begin die reverse groot trek weer by my huis. Sal maar sien hoe ek dit regkry om die kaste en banke en beddens gesleep te kry.

My groot groot groot opwinding vir vandag: Ek pas my trourok vir die eerste keer aan! Ek het laasweek die “basic pattern” aangepas, maar dit was effens van ‘n antiklimaks aangesien ‘n totaal onhandvaardige mens soos ek nie eintlik die potensiaal kon visualiseer nie. Vrydag het ek materiaal gekies (Rooi sy! Ooolala) en vandag pas ek. Ek kan nie wag nie!

My Liefie vlieg vanaand van Swede af terug. Ek kan nie wag nie!

And last, but not least – my skip kom in, of so iets. Maandag laai hulle (uiteindelik) my container van Swede af. Ek gaan weer baie klere en skoene he. It’s the simple things in life….

Dankie

Mens kry so gevoel as iets gebeur wat jy nie verwag het. Dis nie verbasing nie, dis net so ‘n “gevoel”. Nie lekkerkry of blydskap nie, dis iets anders. So tipe van gevoel wat die woord “haai” sou gewees het.

Ek sit nou hier met so ‘n gevoel. Ek het nie noodwendig gedink die ding wat gebeur het gaan nie  gebeur nie, ek het net nie gedink dit gaan gebeur soos wat dit gebeur het nie. Is ek kripties?

Dankie vir die oproep. Dankie vir die hulp. Dankie dat dit glad nie weird was nie en dankie dat ons pelle is. Ek waardeer dit.

Padkos

Wat is dit met Suid-Afrikaners en padkos?

Ek en Mammie skiet toe Vrydagmiddag se kant deur Nylstroom toe. Ons moes iets oppad aflaai en vat toe die R21. Voor ek weet wat my kar doen stop ek by die 1Stop wat ‘n Woolworths Food by het. Vir padkos. As ek in ‘n kar klim wil ek eet. Dis net op ‘n goeie dag wat ek verder as 50km kan ry sonder om iets vir die pad in te pak of te koop.

Ek dink dis moontlik geneties. Oppad see toe het my pa skaars die Grasmere tolplaza gehaal voor hy sy eerste broodjie wou gehad het. My broer is vreeslik lief vir sy Wimpey in Bloemfontein. My sussie vra altyd of ek “schnakies” het as sy in my kar klim. My ma kan nie verby ‘n tuisnywerheid of padstal ry nie.

As kind het ek gesmag om soos van daai families te wees wat langs die pad by die tafeltjies gestop het en ‘n kan tee ook gehad het. Ons het die streep by broodjies, koeldrank en lekkers getrek. My ma het geweier om ‘n flask in te pak en gesweer die goed lek altyd. Ons het nie frikkadelle, hoenderboudjies en hardgekookte eiers gehad nie. Elke vakansie het my pa daarvoor gevra en elke vakansie het hy dit nie gekry nie.

Verder het ons ook by ‘n verskeidenheid slaghuise gestop vir biltong en droewors. By padstalle vir gedroogte perskes en ander lekkernye. Ons kan nogsteeds nie Port Elizabeth toe ry sonder om by die Nanaga padstal te stop vir roosterkoek nie. Die Igloo tuisnywerheid in Steynsburg het ons elke vakansie gesien.

Met al ons Europese roadtrips het ek en Liefie padkos gepak.

‘n Trip is net nie dieselfde daarsonder nie.

Naweek wegbreek

Lekker naweek hou! Ek gaan bietjie plaas toe.

Ek is vrek bang vir ‘n koei (of moet dit nou eintlik bees wees?). Nie die melkkoeie nie, hulle is vir my vriendelik, maar daai Afrikaner beeste op my oom se plaas gee my die creeps. (Lekker stads sissie, ek). Van kleintyd af loop ek ‘n wye draai om die beeste in die veld. Dis nou as ek hoegenaamd van die bakkie afklim.

Ek is nie heeltemal pateties nie en swem darem in die plaasdam en vryf die skape en so aan. My grootste plaas treat (behalwe nou die biltong) ? Vroegoggend koffie op die stoep.

Met al die onmin op die blogs: Gedra julleself en mooi speel met die ander maatjies!