Ysland dag 3 (30 Junie)

Ek het vandag gesien hoe dit lyk as die aarde sy toys gooi. Ysland is een van die wêreld se aktiefste vulkaniese gebiede en hier is ‘n uitbarsting so elke 5 jaar. Dit was agterbly is indrukwekkend.

Dele van die landskap is nie prentjie mooi nie, maar die snaakse vorms wat die lava agterlaat en hoe dit lyk as daai lava weer oopbreek is vreeslik interessant. Ons het dan ook teen ‘n krater (die grootste in die wêreld van sy soort, watter soort dit dan ook mag wees) uitgebeur en dit was vreemd stil toe ons bo kom. Soos mens ry sien jy dan ook plek-plek stoom wat net by die grond uitborrel wat dui op geotermiese aktiwiteit. Hier in Ysland word die stoom ingespan om elektrisiteit op te wek en ook om kweekhuise warm te maak. Ysland kweek piesangs.

Omdat elektrisiteit hier goedkoop en carbon neutral is, word ‘n groot aluminimum smelter nou hier gebou. Die stoom wat by die grond uitborrel het dan ook soms sulke modder “hotpots” tot gevolg, dit lyk regtig soos iets uit ‘n sci-fi film uit. Die foto’s lyk interessant, maar een ding wat die foto’s nie vasvat nie is die reuk. Die wat wetenskap as vak gehad het sal die reuk van vroteiergas goed onthou. Al hierdie vulkaniese/geotermiese aktiwiteit lei tot baie swael en swael verbindings wat vrygestel word. In Reykjavik ruik die warm water in die storte ook sterk na swael.

Ons het toe deur ‘n groot deel niks gery. Verbeel die Karoo, sonder die bossies, die windpompe, die skape, die huisies. Verbeel kilometers van golwende gruis. Nie ‘n grassie of ‘n verdwaalde onkruid nie. Niks. Niks. Niks. Net die kar se termometer wat waarskuwings teen sneeu en ys flits. En mis wat onheilspellend oor die gruis aangesweef kom. Ek het verwag dat Mordor voor ons gaan opdoem.

In ‘n onlangse peiling is vasgestel dat meeste Yslanders in trolle glo. Ek verstaan hoekom. Meeste dele van die land lyk vir my net reg vir feë-agtige karakters. Die inwoners lyk vir my ook na hobbits en almal is van gemiddelde lengte, die meeste mans is nie veel langer as ek nie. Hulle het sulke oop ronde gesigte is en almal half plomp. Yslanders het van die wêreld se suiwerste bloedlyne en kan hulle voorgeslagte terugtrek tot die oorspronklike setlaars. Interessant genoeg volg hulle ook ‘n benamingstelsel waarvolgens die kind die pa se naam plus seun/dogter as “van” kry. Boeties en sussies sal dus nie dieselfde van hê nie. Mense word dan ook volgens voornaam in telefoonboeke gelys en niemand het baie nut vir vanne nie.

Ons het toe al om die vingers van ‘n paar fjords gery. Ek het fjords in Noorweë gesien en heeltemal verlief geraak en ek is nou weereens bereid om te verklaar dat fjords hoog op my lys van gunsteling natuurverskynsels tel. Ek is mal oor die kombinasie van see en berg en die absolute verlatenheid van die vissersdorpies aan die punte van die fjords.

Toe ons vanaand by ons blyplek stop met die mooiste uitsig oor ‘n fjord en die omie sê dat hy vreeslik jammer is en dat die besprekings deurmekaar geraak het, maar dat hy vir ons ‘n privaat huisie met ons eie kombuis en BADKAMER het teen dieselfde prys as ‘n normale kamer was ek omtrent uit my vel uit.

Wat meer het ‘n meisie nodig as ‘n warm bed, ‘n Liefie, ‘n koppie tee, ‘n blokkie Cadbury’s sjokolade en ‘n laptop? O, en ‘n uitsig oor ‘n fjord na die Noord-Atlantiese see.

Advertisements

2 thoughts on “Ysland dag 3 (30 Junie)

  1. Wipneus! Julie 3, 2008 / 3:03 nm

    Jinne ja, nee NJ wat meer het ‘n meisie nodig!!

  2. skoor Julie 4, 2008 / 8:22 vm

    Ek hou van jou uitdrukking van as die aarde sy toys gooi!

    Lekker reise.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s