Toebroodjies

Toe ek in Standerd 2 was is my ma en pa vir 8 weke oorsee. My pa moes in London gaan werk het en daarna het hulle op ‘n uitgebreide Europese toer gegaan.

My suster was in Standerd 9 en my broer was in die weermag. Ek en sussie het babysitters gekry. Die een wat die eerste skof gehad het, het by ons kom inwoon om sodoende my angstigheid te verminder. Vir die tweede skof sou ons na ‘n ander tannie toe gaan en in haar tuinwoonstel bly. Sy’t 4 seuns gehad. Ek het my verbeel hulle gaan my almal so terroriseer soos wat my broer geneig is om te doen.

Die middag voor my ma-hulle gevlieg het is ek omgekoop met ‘n Barbie.

Die tweede babysitter het kom inloer of die eerste babysitter haar werk doen. Tannie nommer twee het gemeen “vrou” nommer een (sy was ongetroud en het ‘n kind gehad, in daai dae ‘n no-no, maar ek het baie van haar gehou) doen nie ‘n goeie job nie en voor jy kon sê “christelike opvoeding” is ek en sussie in die tuinwoonstel. Lank voor ons daar moes wees.

Tannie twee, of haar kombuis regterhand, maak getrou broodjies vir die kinders om skool toe te neem. Nie net twee snye soos ek gewoond is nie, maar vier. Die twee broodjies het verskillende goed op. Daar is ‘n patroon. Of moontlik is patroon nie die regte woord nie, want die broodjies verander nie van dag tot dag nie. Broodjie een: ham, kaas, tamatie, blaarslaai. Met botter. Ek eet nie botter op my brood nie. Ek eet ook nie ham nie, want dis nat. Broodjie twee: kaas en konfyt. Met botter. Ek eet nie botter op my brood nie. Ek eet ook nie kaas en konfyt op een broodjie nie, tensy die broodjie sopas uit die toaster uitgekom het.

Ek bly in ‘n huis wat nie my eie is nie, ek slaap in ‘n bed wat nie my eie is nie, ek kry broodjies waarvan ek nie hou nie, en my ma-hulle kom nie vinnig genoeg huis toe nie. Ek is uiters pligsgetrou, het ‘n groot sin vir verantwoordelikheid en sê vir niemand as daar iets fout is nie. Ek verstaan dis nie goeie maniere om kos weg te gooi nie, maar die kosblik kan nie vol teruggaan kombuis toe nie. Ek eet elke dag my broodjies.

Ek onthou nie baie van daai tydperk nie, maar ek eet deesdae ook nie eens meer kaas en konfyt op toast nie.

 

 

 

Advertisements

19 thoughts on “Toebroodjies

  1. Rustig Mei 26, 2008 / 10:01 nm

    😆
    Ek moes ook altyd so by mense gaan bly het as my ouers iewers heen moes gaan. My ma was groter senuwee wrak as ek. Ek eet nie sommer vleis, melk of botter by ander mense nie. As ek nie van iets gehou het nie dan het ek geweier om dit te eet. Ek kon vir ure by die tafel sit, maar eet is min. Gelukkig het ek die meeste van die tyd by mense gebly wat regtig min gespin was. Mens kan maar lekker dwars wees as jy ‘n kind is.

  2. Wipneus! Mei 26, 2008 / 11:29 nm

    Daar is niks so erg om iets te moet eet onder dwang nie.
    Ek was ‘n terrie op skool met kos, vandag nog so vol fiemies…..

  3. kaalvoetinireen Mei 27, 2008 / 3:25 vm

    bly om te hoor ek is nie die enigste persoon wat so vol nonsens is as dit by kos kom nie. Ek het my ma al haar dae gegee. Ek het op ‘n stadium net roereiers en piesang ge-eet, met ‘n glas melk natuurlik 🙂

  4. Louisa Mei 27, 2008 / 5:31 vm

    As iemand sulke broodjies vir my gemaak het sou ek nie wou huis toe gaan nie! 🙂

  5. Paula Mei 27, 2008 / 8:47 vm

    Ek het altyd my toebroodjies uitgedeel aan ander as ek nie daarvan gehou het nie. Veral die stroop en grondboonbotter toebroodjies. Ek het niks daarvan gehou nie!

  6. boendoe Mei 27, 2008 / 10:13 vm

    Ouers besef nie hoe hulle hul kinders knak nie! Kyk nou net. Na al die jare onthou jy nog steeds die toebroodjie-petalje! 😀

  7. Pikkelik Mei 27, 2008 / 10:23 vm

    Ek was seker bevoorreg, my ouers het nooit iewers heen sonder ons nie, maar nou moet ek bieg, ek eet net botter op my brood, niks anders nie…

  8. Dellie Mei 27, 2008 / 10:43 vm

    My aakligste herinnering aan toebroodjies, kom uit die koshuis. Daai broodjies is seker al net duskant ontbyt gemaak, en staan dan in sulke groot silwer bakke totdat dit pouse by die skool is. Dan kan die koshuisbrakke aantree en twee broodjies elk kry. Die vreeslikste filling was roereier en tamatiesous. Dan het dit al droog geword. Maar as mens honger is, maak jy plan. Hou daai broodjie so bietjie onder die kraan, en dan is hy ten minste slukbaar! Daar was ook een of ander visserige mix, maar net die reuk het my maar laat uitwyk na die anderkant van die speelgronde.

  9. Emil Mei 27, 2008 / 11:03 vm

    Ongelooflik hoe die storie jou bybly!

    Ek eet bittergraag appelkooskonfyt met kaas op toast. En nou appelkooskonfyt met hierdie nuwe marmite smeer met die kaas by (dankie Johan!).

    Ham is nat?

  10. netjane Mei 27, 2008 / 11:12 vm

    Emil: Ek het vreeslike snaakse eetgewoontes, maar iemand sal dit eers begin agterkom as hulle baie fyn oplet. My probleem met kos is nie die smaak nie, maar die tekstuur, so “sandwich ham” is nat. “Smoked ham” is effens beter, maar oor die algemeen sal ek dit nie kies nie. Eet ook nie rosyntjies nie, oor dieselfde rede, die tekstuur gril my.

    Ek dink as ek grootgeword het in vandag se dae sou een of ander sielkundige my met tas sintuig sindroom of iets gediagnoseer het. My ma noem dit natuurlik net vol kak wees!

  11. demoerin Mei 27, 2008 / 2:23 nm

    En hier dank ek die maan, sterre en al die newels dat ek nie fiemies het nie! Mmmm, nee lekker marmelade op toast….of avo met sout en peper. Lekkerrrrr.

  12. Rustig Mei 27, 2008 / 8:40 nm

    Gunsteling toebroodtjie is Toasted Cheese and Peanut butter Sandwich!

  13. netjane Mei 27, 2008 / 8:43 nm

    Dit klink baie interessant Rustig – enige spesifieke tipe kaas?

  14. sonkind Mei 27, 2008 / 8:48 nm

    As ek en my sussie nie ons kos wou eet nie, dan het my ma ons altyd die storie gespin van al die honger kindertjies in Afrika en hoe dankbaar ons moet wees vir ons kos. Toe strip my sussie eendag haar lelik vir my ma, sy kon kleintyd nogal met geleentheid ordentlik vloek, het selfs eendag vir die dominee gesê hy moet gaan k&k.

    Anyway, sy was so 6 jaar en sy skiet daai dag die bord so oor die tafel en hak af; “Nou gee dan die donnerse slegte kos vir al daai bleddie honger kindertjies, want ek vrek eerder voor ek dit eet!”

    Nodeloos om te sê, haar agterent het verjaar, maar later jare het ons lekker gelag daaroor.

  15. kaalvoetinireen Mei 28, 2008 / 7:58 vm

    ek like ‘n lekker piesang en mayo broodjie…verkieslik bruinbrood….en ‘n lekker avo en kaasbroodjie!….

  16. Adrie Mei 28, 2008 / 8:13 vm

    Son

    😆 Ek hou sommer baie van jou suster. Ek is seker jou ma het met die honger kinders storie opgehou.

  17. krista Mei 28, 2008 / 8:23 vm

    Issues, baby, issues! 😆

  18. attie Mei 28, 2008 / 2:29 nm

    Moes baie my tannie hulle bly toe ons jonk was. Ek het baie slae gekry oor ek nie pampoen eet nie omdat ek nie daarvan hou nie. Haar eie seun het nie nodig gehad om pampoen te eet nie, omdat hy nie daarvan hou nie, maar ek moes eet. Later het ek dit geëet sodat ek nie sale hoef te kry nie. Vandag sit ek nie my mond aan pampoen nie – uit beginsel uit. Ek sê dit elke keer as hulle by is.

  19. Rustig Mei 29, 2008 / 9:35 vm

    Nee wat sommer Pick & Pay Cheddar sal doen. As ek regtig wil uithang dan koop ek lekker Switserse Gryer of Emmentaler.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s