Sê my

Ek’s ‘n nuuskierige mens. Ek hou daarvan om goed te weet. Enige obskure, nuttelose en totaal onnodige stukkie trivia vang my aandag en word onthou. Ek onthou baie dikwels nie die belangrike goed nie, maar vra my wat die hoofstad van Franse Guyana is en ek kan jou vertel.

Ek is dieselfde met mense en hulle dinge. Ek wil weet hoekom hulle sekere goed doen, waar hulle vandaan kom, hoeveel kinders hulle het en wat hulle in hulle vorige werk gedoen het. Ek hou nie juis van mense nie, so ek weet nie hoekom ek so baie van hulle stories hou nie, maar ek wil altyd net daai stukkie meer as wat “gemanierd” is weet. Ek vra baie min, want ek weet dit is slegte maniere en sal waarskynlik kwaad wees as mense my besigheid so begin invra, maar ek wonder steeds. Ek doen niks met die informasie nie, maar ek is ‘n gebore versamelaar en informasie is vir my maar net nog ‘n ding om te hê.

Ek wens daar was nie “reëls” oor wat mens mag vra en wat nie. Ek wens ek kon vra net wat in my kop opkom, vir vreemdes ook. Ek wens ek kan net vir ‘n rukkie alles uitvind en nooit die antwoord kry dat dit niks van my besigheid is nie.

Ek sal vir baie mooi mense vra of dit harde werk is om mooi te wees. Ek sal vir mans met comb-overs verduidelik dat hulle baie beter lyk sonder hare en dan vra of hulle dikwels in ‘n spieël kyk. Ek sal vir my Standerd 7 Afrikaanse juffrou vra of sy geweet het dat onderwysers veronderstel is om kinders op te voed en te onderrig en nie betaal word om net heeldag lipstick aan te sit en te flirt met die rugbyseuns nie. Ek sal vir taxi bestuurders vra waaraan hulle dink as hulle dag in en dag uit soveel mense so verskriklik kwaad maak. Ek sal vir rassiste vra hoe dit voel om iemand te haat gebasseer op vooropgestelde idees. Ek sal vir poepholle vra of hulle besef mense hou nie eintlik van hulle nie? Ek sal vir mans en vrouens wat pakkies wat bymekaarpas aantrek vra hoekom hulle dit doen. Ek wil weet hoekom mense sonder kennis van enige ander geloof of gebruik nogsteeds so uitgesproke oor ander gelowe is. Ek wil vir sielkundiges vra of hulle regtig omgee. Ek wil vir mense wat skei vra hoe dit voel as mens nie meer lief is vir die een wat jou hart aanvanklik gehad het nie. Ek wil vir die meisie met die ring deur haar lip en tong vra of kos ooit daar vassit.

Wat sal jy vra?

 

 

Advertisements

17 thoughts on “Sê my

  1. boendoe Maart 16, 2008 / 5:25 nm

    Haai! Is daar NOG een soos ek? Ek is mal oor mense se stories. Ek glo elke mens HET ‘n storie. En waar en wanneer ek kan, probeer ek die storie uit hul kry. En dan vra ek nog, ‘hoekom het jy dit of dat gedoen?’ of ‘en wat gebeur toe?’ Ek weet voor my heilige siel dis nie ordentlik nie, maar ek kan myself nie keer nie. Niemand het gelukkig nog ooit vir my gese ‘mind your own business’ nie, maar ek dink hulle weet ook (hoe, weet ek nie) dat hulle stories veilig by my is. En partykeer is dit nice as iemand MY storie uit my probeer kry. Amper asof ek en my lewetjie ook vir iemand anders interessant is!
    Ag man, jou possie het nou ‘n nervie raakgedruk! Ek HOU van vrae vra!

  2. mykopop Maart 16, 2008 / 6:31 nm

    Ek sal dalk vir die ryk ouens die presiese resep vra om daar uit te kom! Of wens jy eintlik jy kan gedagtes lees?

  3. hanlie Maart 16, 2008 / 8:13 nm

    Ek wonder ook maar net – oor alles! Ek vra nooit uit nie!

    Maar ek verstom my aan hoeveel mense al sommer prontuit vir my gevra het hoekom ek en my eerste man uitmekaar is! Dis mos baie persoonlik… En dan is daar natuurlik diegene wat wil weet wanneer ons dan met ‘n gesin gaan begin. Nogal ‘n teer puntjie by my.

  4. Da Mario Maart 17, 2008 / 7:35 vm

    Ek moet eers in iemand belangstel voor ek vragies vra. En ek antwoord eers nadat ek in hulle ook belangstel.
    Ek het nie veel van ‘n saak met die ou wat voor my in die ry staan by Hyperama nie…

  5. René Maart 17, 2008 / 9:02 vm

    Ek het so baie vrae wat ek vir mense wil vra … maar eintlik wens ek net ek kon gedagtes lees … soos in genuine gedagtes lees … dan hoef ek nie vrae te vra of “mind your own business” antwoorde te kry nie / of geen antwoorde te kry nie!!

  6. rb Maart 17, 2008 / 11:04 vm

    Ek hou ook van vrae vra. Mens kry maklik vreemde mense aan die praat as jy hulle oor hulsef uitvra. Dan hoef ek nie teveel te praat nie en luister net, en dan hou die mense sommer van jou, want jy is iemand wat omgee!

  7. sterfling Maart 17, 2008 / 3:01 nm

    Ek is net so nuuskierig soos jy. Wil alles van almal weet vir geen rede eintlik nie.

    ‘n Vraag wat ek baie mans al wou vra is: Waarom lees jy so maklik meer in ‘n vriendskap met die teenoorgestelde geslag, wat duidelik net van haar kant platonies is? En, waarom dink jy ‘n vrou wat geskei is is hardop?

    En vir baie vrouens: Waarom flirt jy met die man as jy weet hy is getroud, dink jy hy stel werklik in jou belang? En waarom wys jy die helfte van jou tieties vir almal, hoe sal jy voel as mans die helfte van hulle goete begin wys?

  8. KruidjieRoerMyNie Maart 17, 2008 / 3:30 nm

    😆
    Jy moet eendag ‘n post plaas oor wat jy ons almal wil vra, want ek is seker jy brand om te weet. Of ons gaan antwoord is ‘n ander saak…

  9. netjane Maart 17, 2008 / 4:59 nm

    Jy’s heeltemal reg Roer ek het ‘n hele klomp vrae vir die bloggers, maar netnou-netnou raak iemand vir my kwaad!

  10. platterfuss Maart 17, 2008 / 5:47 nm

    hehe! Dis die voordeel van impulsief wees, en sonder takt! Ek vra voor ek dink en worry oor ordentlik wees. Mense gewoonlik so geskrik en geskok dat hulle antw voor hulle besef!

    Ek vrek oor ons ou spesie!

  11. Daisy Maart 18, 2008 / 12:36 nm

    Janee Jane, ons is wraggies voëltjies van enerse vere…..ek hou ook nie vreeslik van mense nie….praat ook nie sommer eerste nie…maar hulle fasineer my vreeslik…..en as ons eers aan die gesels raak kan ek nie aners as om te vra nie? Gelukkig kan dit nie skade doen nie…

  12. Skoor Maart 18, 2008 / 2:25 nm

    Ek sal jou laaste vraag antwoord!

    Nee, kos sit nie in jou tongpiercing vas nie, en as jy jou tong borsel, kom die piercing ook onder die borsel, en gorrel met ‘n goeie mondspoel, en jou smile het ekstra skitter.

    Maaaaaaar, byt daai R200 se piercing een te veel keer raak (vra my hoe, maar dit gebeur) en jy kan duisende se skade aanrig.

    Dis hoekom ek myne summier uitgeruk en weggesit het. Nie oor ek wou nie, maar oor ek moes. Demit.

  13. sommergoed Maart 18, 2008 / 6:42 nm

    Ek wil weet hoe party ma’s dit regkry om hulle kinders met net een kyk stil te kry? Ek wil nog en nog goed vra maar kom ons los dit vir ‘n ander keer!

  14. ICE Maart 19, 2008 / 8:35 vm

    Ek wil net vir party, of sal ek sê meeste?, padgebruikers vra hoekom hulle nie dankie sê, of “acknowledge” as mens vir hulle ‘n “gap” gee, of bedagsaam op die pad is, nie?

    Jissie man, dit is nie so moeilik om jou hand te lig, kop te knik of ten minste te smile nie, of is dit?

  15. sterfling Maart 20, 2008 / 5:35 nm

    Nee Nettie, vra maar daai goete wat jy oor wonner. Ons sal of net nie ‘n woord antwoord nie of ons lag daaroor, maar kwaad? NOOIT

  16. vygie Maart 25, 2008 / 12:48 nm

    Mal daaroor om mense te kyk. Was dit nie hoeka Cecil John Rhodes wat gesê het die meeste mense hou van koeie op hulle grasperke, maar hy hou van mense nie? Maar ek vrek eerder voor ek vra. Meestal is my verbeelding goed genoeg dat ek ook nie nodig het om te vra nie. Ek dink sommer ‘n storie uit.

  17. Jo-Ann Schou April 5, 2008 / 9:27 vm

    Daai een kyk wat kinders stil maak… die geheim lê in die perfekte lig van die wenkbrou. Myne werk op my hond en het wragtig al op vreemde neulende kinders in die supermark gewerk. Maar vreemde babas gaan spontaan aan die huil as hulle my sieng.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s