Ek sou kon, maar…

Ek was nog in die hoërskool toe ek die eendag kerm en kla oor iets wat my ontneem is en wat volgens my, my toekom, toe my pa so in die middel van my sin heel droog opmerk “jou ouers hou jou darem terug né?” wat seker ‘n mooi manier was om te sê “jammer om van jou kak te hoor”. Daai sin het van toe af ‘n standaard tussen my en my sussie geword. Enige ding wat nie ons kant toe kom nie word spottenderwys verklaar met “my ouers het my teruggehou”. Soos in ek kon Miss World gewees het, maar “my ouers het my teruggehou”. My ma en pa weet van hierdie spot en later het die ding so hand uit geruk dat as ek kla oor die weer in Swede my ma sommer antwoord met “jou ouers het jou teruggehou”.

Ek praat vanoggend met my sussie en sy vertel my dat haar seuntjie ‘n dolfyn koek vir sy verjaarsdag wil hê. Nou kyk, ek sê nie maklik ek haat iets nie, maar ek haat dolfyne. Nie die regte egte goed wat in die see swem nie, die dolfyne op goue hangertjies en kerse en posters en duvets. Ek haat dit. En ek haat daai spesifieke blou-kleur wat daarmee saamgaan. Ek kan dit nie verklaar nie, dit is nou maar net eenmaal so. Ek sê toe vir haar sy moet hom oortuig dat hy eintlik ‘n ander koek vir sy verjaarsdag wil hê. Sy antwoord natuurlik “jy’t nooit ‘n dolfyn koek gehad nie, want jou ouers het jou terug gehou”. Ek lag lekker vir ons ou standaard grappie, maar toe begin ek sommer vir die pret daarvan daaroor na te dink. Waarvan het my ouers my regtig teruggehou?

Snaaks genoeg is die eerste antwoord wat by my opkom Voortrekkers. Ek wou nooit ‘n Voortrekker gewees het nie, maar dis nie die punt van die “jou ouers het jou teruggehou” storie nie. Ek het net geweet ek sou nie een kon wees nie, want my ma het iets daarteen gehad. Ek dink dit was volgens haar te Transvaals. (Sy’t in Tamboerskloof in die Kaap grootgeword en sit ook nooit haar mond aan pap en sous nie, dis ook te Transvaals). Ek het dus ook nooit gekamp nie en het vandag toe nog nooit in ‘n tent geslaap nie. Die feit dat ek ‘n tent kan gaan koop en kan gaan kamp aangesien ek nou groot is het nog nooit by my opgekom nie. Ek wil nie kamp nie.

Ek het tasse vol Barbie poppe gehad, maar nooit ‘n Ken nie. Dit val my nou by. My ouers het my teruggehou.

Ek het nie ballet gedoen nie, ek is nie as ‘n vegetariër grootgemaak nie, ek het nooit Formula One gekyk nie. My ouers het my teruggehou!

Ek gaan Woensdag Suid-Afrika toe om bietjie by my ma-hulle te gaan kuier, ek dink ek gaan hulle mooi vertel hoe ver hulle my eintlik teruggehou het. Ek vermoed my pa gaan hierdie keer vir my sê jammer om van jou kak te hoor…

Ek weet dis nie eintlik iets waaroor ek moet spot nie en dat daar baie mense is wat regtig beperkinge in hulle lewens ervaar as gevolg van hulle ouers, maar ek het nou maar eenmaal nie in so ‘n familie grootgeword nie, so in die gees van April Fools – waarvan het jou ouers jou teruggehou?

 

 

Advertisements

Jy’s seker mal?

Gedurende ons roadtrip in Frankryk ry ons deur ‘n klein dorpie en ek trek my Frankryk gids nader om te lees of daar iets te siene in die dorpie is. Ons kom toe af op facteur Cheval se “Palais Ideal”, ‘n “Facteur” is ‘n posman in Frans.

Die agtergrond is dat die posman elke dag vir hoeveel jaar dieselfde posroete gedoen het (die roete was omtrent 32 kilometer te voet) en duidelik baie tyd gehad het om te dink. Hy sê dan ook self “What can we do while perpetually walking in the same surroundings except think. To distract myself I built a fairy palace in my dreams.” Hy stamp toe eendag sy voet teen ‘n klip en vat dit as ‘n boodskap van Moeder Natuur af om aandag aan die vorms van klippe te begin gee. Hy begin toe klippe te versamel al langs sy posroete om sodoende boumateriaal vir sy droom “paleis” te hê. En toe begin hy bou.

Die vreemdste, snaakste, mees amazingste ding. Ding is seker verkeerde woord – struktuur is seker meer gepas. Dis was net weird. Dis asof hy alles wat in sy kop opgekom het gedoen het. Egiptiese beelde, hindu tempels, diere, mense, torings, trappe en nog en nog en nog. Verder het hy sy gedagtes in die sement geskryf, so oral is daar sê-goed (in Frans natuurlik) teen die mure. Hy het begin bou in 1879. Hy was klaar in 1912.

 

Voor aansig

 3 Men

Toe ek daar was het ek in my kop gedink die ou moes mal gewees het. Hoe anders kom mens met so iets vorendag?

Die inligtingsblaadjie het baie van Cheval se sê-goed vertaal en hier volg ‘n paar daarvan:

“In creating this rock, I wanted to prove what willpower can do”

“To a valiant heart, nothing is impossible”

“For good men, all people are brothers”

“Our motto is to love everyone”

en die laaste een, wat my laat stop en dink het:

“It is not time which passes, but ourselves”.

Die plek was vir my vreeslik vreemd en ek het dadelik die begeerte om so iets te wil bou vir myself verduidelik deur dit af te maak as malligheid, maar wie is ek om so te besluit? Ek kyk na van sy aanhalings en wonder wat sou gebeur as ons maar almal daarvolgens sou lewe.

Ek sukkel soms om iets ordinêr en eenvoudig behoorlik klaar te maak, hierdie ou (against all odds), met sy bure wat geglo het hy is mal het iets gedoen wat hy regtig wou. En dit is fantasties.

Frankryk(er)

Ek is terug van my Franse rendezvous af! Hoe lekker reis ook altyd vir my is, is daar nie veel beter as om jou eie voordeur weer oop te sluit na so ‘n trippie nie.

Ten spyte van die feit dat ons gehoop het vir son en die koudste, koudste weer in Parys gehad het (toe ons heel bo by die Eiffel toring uitkom het daar hope ys gelê), was die stad vir my regtig mooi en interessant. Die Franse het nie gespeel as dit by monumente, parke en boulevards kom nie. Bigger is better. As die monument die Franse nasie as geheel, of beter nog, ‘n spesifieke persoon vereer, is dit nog groter. Die hele stad skreeu omtrent “Kyk hier!”. Ek wil nie eers dink hoe besig Parys in die somer moet wees nie, want selfs in relatiewe lae seisoen was daar oral baie toeriste en L-A-N-G toue.

Na die naweek in Parys het ons in ons gehuurde Peugeot (wat anders?) gehop en suid gejaag. Ek sê jaag, want dit is wat die Franse doen. Veral in vergelyking met die baie wetsgehoorsame Swede wat op ‘n goeie dag 90 in ‘n 110 sone doen. Ek wens ek kan sê die rollende heuwels vol wuiwende gras is verlig deur die son. Dit het gereën. ‘n Baie nare ysige windjie het ook gewaai. Maar daar was spasie! Die vistas was groot! Geen geboue! Net ooptes.

Toe ons die eerste aand by ons B & B aankom en alles lê toe onder die sneeu het ons gedink dat ons maar net sowel in Stockholm kon gebly het, maar die volgende dag het dinge darem beter gelyk en toe ek daai eerste Provensaalse huisie tussen die lavender bosse en olyfbome met die blou shutters sien (ek het lank gedink oor die Afrikaanse woord – luik?), was ek baie tevrede. Dit was nog bietjie vroeg in die seisoen, maar alles was al heel groen. Regtig pragtig.

Meeste van die Franse vistas het my erg herinner aan dele van Suid-Afrika en ek kan nie eintlik sê dat daar iets “uniek” is aan die omgewing wat ons gesien het nie, maar dis die hele pakket wat dit Frankryk maak. Die huisies, die omie met die baguette onder sy arm, die verskriklike lang dorpsname wat vir my (as navigator) alles dieselfde geklink het, die kerke…

Vir die van julle wat ‘n stadiger pas lewe beplan, die Franse platteland is regtig die plek, alles maak toe tussen 12:15 en 14:30. ALLES. En ‘n stukkie brie op ‘n stukkie vars brood iewers waar die gras groen is, maak mos die lewe die moeite werd.

Toe ons vanoggend ‘n draai by die Reims Katedraal maak en die son val deur die mooiste glasvensters, besef ek weer ek is verryk.

Glad Påsk van Stockholm af

sneeu21mrt.jpg

Ons het wakker geword in ‘n spierwit winterwonderland.

Dit het al ‘n hele paar keer in Stockholm gesneeu, maar die sneeu hou nie vreeslik lank nie en voor mens mooi weet is alles weer weg. Dit sneeu nou al die hele week aan en af en dit moes deur die nag gesneeu het, want vanoggend was te mooi. Omdat dit ‘n publike vakansiedag is, is baie mense weg vir die naweek en daar was omtrent geen spore of merke op die sneeu teen die tyd wat ons uitgegaan het nie.

willow21mrt.jpg Die bome sonder hul blare in die sneeu is vir my verskriklik mooi.

Ek het soos ‘n mal ding rondgehardloop en die sneeu ten volle geniet

j21mrt.jpg

Moes natuurlik ‘n snowangel maak, al was daar nie regtig genoeg sneeu nie. Ek was verbaas dat dit regtig eintlik soos ‘n engel lyk as mens klaar is!

snowangel21mrt.jpg

Eerste tekens van die komende lente

lente21mrt.jpg

Ek hoop almal het ‘n verskriklike lekker naweek en moenie te veel paaseiers eet nie (of ten minste nie meer as wat ek sal eet nie, dit behoort vir julle ‘n wide scope te gee!). Geniet julle hasies (in watter vorm hulle ookal mag kom).

Ek is weer volgende Saterdag terug met Franse stories.

Die Poolse boor polka (deel 2) en ander brokkies

Ek het vanoggend ‘n handgeskrewe nota gekry. In Sweeds. Met die vreemdste woorde waarvan ek 2 verstaan het. Nie en kombuis. Ek trek toe maar die woordeboek nader en begin opsoek. Die bouers vervang ‘n iets (ek dink dis ‘n afvoerpyp) en ek moenie tussen 10:00 en 12:00 in my kombuis “rondhang” nie. Watter tipe versoek is dit? Beteken dit ek mag die ketel aansit solank ek die water uit die badkamer kry? Beteken dit ek mag ‘n broodjie maak? Beteken dit my blote teenwoordigheid in die kombuis (MY kombuis!) gaan hulle bouwerk beïnvloed? Want as dit die geval is gaan ek nou vir die laaste 15 minute daar staan en op en af spring of te kyk wat gebeur. Julle wil mos boor!

Wat my nog van die nota gepla het is die totale afwesigheid van die woorde “jammer”, “asseblief” en “dankie”. Ook geen telefoonnommer nie. Grr!

Ek kan ook nou rapporteer dat my woon – en werkspermit verleng is tot die einde Augustus toe. Ons is daai tyd al lankal terug in Suid-Afrika, maar dis altyd lekker om ‘n Schengen visa te hê vir so lank mens dit kan kry. Ons is vroegoggend na die Immigrasie raad toe (al die vorms is reeds vooraf elektronies ingegee en ons het die antwoord per pos gekry, moes net die plakker in ons paspoorte kry). Ons het ons nommer gekry en gewag. Hoe is dit dat daar altyd so vreeslik baie kinders is wat huil in staatsinstansies? Na ‘n ruk is ons nommer (29!) geroep en kon ons die plakkers kry. Mens neem sommer jou foto by die toonbank, maar ons visas het hierdie keer nie fotos op nie, ek wonder hoekom… (En ek het ewe my make-up opgesit en my hare geblaas vir die photo op!) Dit was vir my opmerklik dat alle immigrante dieselfde “look” het. Meeste van die immigrante in Swede kom van nare plekke met oorlog en ethnic cleansing en ‘n tekort aan kos af, so die “look” is seker een van pyn en verlange en ‘n harde lewe.

Verder sneeu dit al vir 2 dae hier, maar vir elke sneeubui is daar weer sonskyn, so daar is nie hope sneeu nie. Daar word koue weer en sneeu vir die hele week voorspel, maar sodra dit sneeu is ek uit by die deur. Ek geniet die sneeu vreeslik en kry maar soveel ek kan daarvan voor ek weer huistoe gaan.

Ons vlieg Saterdagoggend dou voor dag Parys toe vir die Paasnaweek en roadtrip dan in die res van Frankryk rond tot die daaropvolgende Saterdag, nog geen idee waarheen ons ry nie, but have car, will travel. Ek is vreeslik opgewonde!

Oor en uit.

Die Poolse boor polka

Hoe sê mens “hou op fokken boor!” in Pools? Ons bure (of iemand in die blok, ek sal beter voel as ek die bron kan identifiseer) is besig met ‘n bou en brekery. Ek weet dat hulle bou en breek omdat ek die konstante geluid van een of ander powertool kan hoor. Dit klink soos ‘n boor, maar ek mag verkeerd wees. Ek weet ook dat ek die 1-man werkspan in Pools moet aanspreek, aangesien ek die bouer/breker, kom ons noem hom Krzysztof (het Poolse name nie altyd baie z’s in nie?) op en af onder in die straat sien stap as dit sy smoke break is. Hy praat dan ook gewoonlik hard genoeg op sy foon dat sy stem 2 verdiepings optrek en deur double glazing vensters gehoor kan word. Hy praat Pools. Selfs al sou ek geen idee gehad het van hoe Pools klink nie sou ek geweet het om hom as Pools te identifiseer aangesien almal wat enige iets met hulle hande doen, (skrynwerkers, verwers, bouers, loodgieters), betroubaar is, en nie heeltemal so duur is soos hulle Sweedse ekwivalente nie, omdat die Sweedse “Skatteverket” (belastingowerheid) nie heeltemal van hulle bestaan weet nie, Pools is. In Stockholm het jy nie ‘n bediende nie, jy het ‘n Polish.

Die Swede is gewoonlik baie bedagsaam en los netjies getikte briefies vir hulle bure oor enige tipe aktiwiteit wat moontlik aandag sal trek. “Die water sal vandag van 07:00 – 07:15 af wees, ons is VREESLIK jammer”. “Ons hou ‘n partytjie vir ons ouma. Daar sal 3 mense wees. JAMMER vir die geraas!”. “My kind kry tande, JAMMER vir die gehuil” en so aan en so voorts. Daar is dan ook selfoon nommers sodat jy iemand kan uitkak as die JAMMER jou nie aanstaan nie. Hierdie mense wat nou breek en bou het nie ‘n nota gelos nie. Hulle het seker geweet Krzysztof gaan baie mense kwaad maak (lees Netjane) en hulle het nie tyd om telefoonoproepe van Suid-Afrikaners wat ‘n mengsel van Sweeds, Afrikaans en Engels praat omdat hulle so kwaad is, te antwoord nie.

Die probleem met die bou geluide is nie die geluide per se nie, ek het al genoeg DIY in my lewe gedoen om gewoond te wees aan alle tipe geluide, dis die ritme waarmee dit gedoen word wat my kwaad maak. Die boor (of watookal dit eintlik is) begin so opwarmings “jiiiiiinnnnnn” en dan stop dit. Dan sit mens mos nou daar en wag dat die ding weer moet begin. Dan begin dit weer “jiiiiiiin, krrrrrr” en dan stop dit. Eers hier by die derde probeerslag is dit ‘n vol siklus van “jiiin-krrr-ghhghghghgrrrr”. Vir ‘n sekonde, of minder. (Miskien boor hy baie vreeslike klein gaatjies?) Net om weer oor te begin! Ek wil net hê hy moet jinn-krr-ghhghghghgrrr vir ‘n uur en dan klaar wees, nie hierdie stop-start-stop-start ritme wat nou plaasvind nie. Dit is nou die tweede dag van ek en die Poolse boor polka. Gister was ek vir meeste van die tyd uit, in die reën, sneeu en wind, wat beteken het ek was nog meer kwaai toe ek gistermiddag by die huis kom en vir Krzysztof buite in die straat sien rook. Ek het hom aangegluur, maar ek dink my gluur sou meer effektief gewees het as ek “hou op fokken boor!” in Pools kon byvoeg.

[TydSkrif]

Hier’s bietjie huiswerk vir julle, gaan lees mooi hoe om dit te doen by Johan Swarts se blog , maar dis eintlik baie maklik. Kies jou 3 gunsteling Afrikaanse posts wat jy enige plek sedert 1 Desember 2007  raak gelees het, stuur die naam en link van die post na tydskrif@gmail.com en tag dan 3 ander bloggers om dieselfde te doen. (O ja, moenie skaam wees om jou eie goed ook te nomineer nie!)

Hop to it!

Hier’s myne:

http://lxding.wordpress.com/2008/02/19/te-naby/

http://sonkind.wordpress.com/2008/02/13/peanut-sondag/

http://diegestorwesoldaat.wordpress.com/2008/02/06/straatkind/

Ek tag dan nou ook vir Rosanlindfranklin, Boendoe en die Wosonki’s.