Stoep praatjies

Die son skyn nou al elke dag vir 3 dae lank (‘n Stockholm rekord!). Die lug is ‘n perfekte blou kleur. Oral lê nog bietjies bietjies sneeu. Die feit dat die sneeu nie smelt nie, selfs met die sonskyn moet vir julle ‘n aanduiding gee dat dit lekker koud is. Ek dink die temperatuur trek by -5 en dan praat ons nog nie eens van die aanvoelbare temperatuur nie. Ten spyte van die koue wil ek so graag my koppie koffie vat en dit buite gaan drink. Ons bly op die tweede vloer en het nie die luuksheid van ‘n balkon nie. Ek kan in die binnehof gaan sit, maar dis donker en nat en glad nie lekker nie. Dis ook nie dieselfde om in die (piepklein) parkie voor ons huis te gaan sit nie. Dis eintlik nie eens ‘n park nie – meer soos ‘n groepie bome met 4 of so bankies tussen in geplaas – seker maar vir die woonstelbewoners se gebruik, nie dat ek ooit sien iemand sit daar nie. Die regte groot park met paadjies en bome en speelgoed en monumente is omtrent ‘n blok weg wat sal beteken dat ek my koffie in ‘n warmfles moet gooi en dan daar gaan drink. Ek’s nie lus vir ‘n piekniek nie, ek wil net my koffie iewers buite drink.

Waarna ek vandag verlang is ‘n stoep.

Die huis waarin ek grootgeword het was om die swembad gebou, so oral was eintlik stukkies stoep, maar my plek was so in die hoek van die tuin op ‘n bankie waar ek mooi die doen en late van die huishouding kon dophou, sonder dat hulle altyd opgemerk het waar ek was. My eerste eie plek het so ‘n regte posseël grootte tuintjie gehad en mens moes met 2 trappies aftree van die sitkamer af om in die tuin te kom. Daai trappies het lekker son gekry, dit was my “stoep”. Ons huis het ‘n lekker stoep wat mooi oor die tuin uitkyk en heeltemal beskut is van die wind en weer. Ek het ‘n lekker leunstoel en dis waar ek sit en dink. Vakansietyd op Stilbaai saammet al die niggies en nefies het die stoep te lekker oor die rivier uitgekyk en ek onthou nog Ouma wat elke aand daarop aandring dat al die stoele ingebring moet word, vir ingeval dit reën. Toe ons later ons eie huis in die Oos-Kaap bou was die “deck” die hoogtepunt. My ma is ‘n knaphand met die “decorating” en daai deck lyk soos ‘n 5 ster hotel se sitkamer. Natuurlik waai die wind meeste van die tyd en jy moet jou tye aan die seekant van die huis goed kies, maar om daar te sit is regtig iets. My tannie se huis op ‘n sitrusplaas in Addo het ‘n regte plaas stoep gehad. En as die son so sak oor die boorde kon die wêreld maar vergaan. Dieselfde met ‘n ander tannie se plaasstoep in die Waterberge. Die huis is baie hoër as die res van die omgewing gebou en dis ‘n goeie 8 trappies van die tuin na die stoep, mens voel regtig soos King of the Hill.

Ek krul myself nou maar in my eie vensterbank op en verbeel my ek sit nie in die sitkamer nie. Die venster is op so ‘n skrefie oop, net om ‘n bietjie van die buitewêreld se klanke in te bring en ek droom van bosveld vlaktes en suburban bliss.

Advertisements

12 thoughts on “Stoep praatjies

  1. attie Februarie 16, 2008 / 2:20 nm

    Ek wonder altyd of die opdiep van sulke herinneringe nie die verlange baie erg maak nie. Dan skryf jy die herinneringe nog so mooi ook – laat mens voel jy sit slef op een van daardie stoepe.

  2. hanlie Februarie 16, 2008 / 4:26 nm

    Daar is niks soos ‘n plaasstoep nie! Ons praat baie oor hoe ons ‘n huis sal bou en dring altyd op ‘n groot stoep aan!

  3. mykopop Februarie 16, 2008 / 9:05 nm

    Jy sê 3 dae sonskyn is ‘n rekord. Soos dit onlangs in Jhb gereëm het sê ek dankie dat ek vandag heeldag kon werk, my “stoep” vorder, net jammer ek het vroeër in die week hoop gehad om hom vandag klaar te maak. Dit gaan half jammer wees om ‘n “tool shed” op hom neer te sit.

    Daar is darem nog so 2 stoepe vir my, een so 750 km ver en en ander een nog so 150 daarby. Ek probeer nog net uitwerk hoe om myself met die druk van ‘n knoppie in sekondes te kan verPLAAS!

  4. netjane Februarie 16, 2008 / 9:18 nm

    Mykop – jy’s so handig, as jy daai verPLAAS regkry, sit hom stap-vir-stap op die blog.

  5. Da Mario Februarie 17, 2008 / 7:26 nm

    Baie mooi, ek verlang omtrent self na koffie op een van daai stoepe. None the less, ek dink dit wat jy nou ervaar is net so mooi en lekker.

  6. Oubaas Februarie 17, 2008 / 8:06 nm

    Iets om op te rook, te tuur, te gesels, of – soos in jou geval – koffie op te drink. In Europa bespreek ek altyd hotelkamers met stoepe. Dis belangrik om te kan opstaan, ‘n deur te kan oopmaak (of oopskuif) en buitentoe te tree – maak nie saak hoe koud dit is nie. Een ding wat eie aan ons is: Die begeerte vir ‘n uitsig.

  7. LT Februarie 17, 2008 / 10:35 nm

    My gedagtes wat aan ʼn stoep gekoppel is;

    Sagvloeiende lanternlig
    Almal om jou wat eensklaps soos mis voor die son verdwyn…..
    Herinneringe verewig in beeld
    Hemel op aarde of was die aarde in die hemel?
    Iemand wat op die stoep bly talm…… die soetigheid van sy gedagtes wat jou hele wese in lieflikheid hul
    Goue oomblikke in Ewigheid verseël

  8. TristonJ Februarie 18, 2008 / 9:25 vm

    Mmmm, daar is niks soos n ogend op n stoep te begin, net daar te sit met n warm koppie kofie in die hand en dink oor die dag wat voorlê!

  9. Skoor Februarie 18, 2008 / 9:30 vm

    Ek en Skoorlief droom ook van ‘n lappie grond met ‘n kliphuis, en ‘n oorhang dak wat die stoep koel hou.

    Waar die honde le en snork, en die katte geirriteerd na die hoenders op die stoepmuur staar, en waar die sterre soos ‘n bigscreen TV voor ons afspeel in die donker somersaande.

    Maar in SA sal dit maar ‘n Boerehart se droom bly, want ek wil nie my stoep met ysters toemaak, en groot spreiligte op die hoeke van die draadkamp rondom my huis he nie.

    En die .308 wat aan die haak teen die muur in die gang hang, moet daar wees oor die jakkals gistraand agter die rante geskreeu het, en ek my lammers wil beskerm. Nie omdat my bure laasmaand vermoor is deur jeugdige kriminele nie.

    Jaaaa. Drome op ‘n Maandagoggend.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s