Wie is ek?

Ek doen soms goed wat liefie nie verstaan nie en dan sê ek sommer “jy sal nie verstaan nie, dis ‘n afrikaanse ding”. Ek weet nie eens of ek dit self glo nie, maar soms is daar net nie ‘n ander manier om dit te verduidelik nie. ‘n Vriendin van my ma is met ‘n Griek getroud en Andrew reken “ons” (Afrikaanse mense) is vreeslik vreemd en baie vermaaklik. Hy is Suid-Afrikaans, so dis nie asof Afrikaanse mense ‘n nuwe spesie is nie, maar lyk my ons kon net so goed gewees het.

Ek weet nie eens wat dit is wat ons anders doen nie, maar liefie is telkemale verbaas as ons na my tannie in die Vrystaat toe gaan. Dieselfde met die regte Karoo tannies. En as ek ‘n storie vertel en ek sê “She was a real Afrikaanse tannie” dan lyk dit altyd vir my of liefie die storie beter verstaan. Dit gaan verder as net taal, dit kan nie net so eenvoudig wees soos koeksusters en beskuit nie. Daar’s een of ander element wat iemand “Afrikaans” maak. Miskien is Afrikaans nie die regte woord om te gebruik nie, maar ek hou nie van die woord “boer” nie. Maak nie saak hoe die tye verby gaan nie, in elke mens wat in ‘n Afrikaanse huis gebôre is en grootgeword het bly daai stukkie “iets” sit – en ek wil weet wat dit is. Ek wil ook weet of dit net ek is wat dit voel.

Toe ek moes kies waar om te gaan werk het ek ‘n aanbod van ‘n vreeslik Engelse firma gehad (ek sou die enigste Afrikaanssprekende gewees het) en van ‘n Afrikaanse firma. Ek het die Afrikaanse firma gekies (vir minder geld), maar ek het op een of ander manier geglo hulle sal my tipe mense wees en goed op my tipe manier doen. Ek was nie verkeerd nie.

Hier in Swede word ek keer op keer gevra “Is that typically Afrikaans?”. Hulle is lyk my nie te veel gepla oor Suid-Afrikaans as ‘n geheel nie, maar ek weet nooit eintlik wat om te antwoord nie. My tipies Afrikaans en ‘n ander ou se tipies Afrikaans verskil waarskynlik hemelsbreed. Die engelssprekende Suid-Afrikaners waarmee ek meng het ‘n heel snaakse idee van wat dit is om Afrikaans te wees. Hulle weergawe behels gewoonlik mense wat permanent kaalvoet loop en ‘n tannie wie se naam Poppie is. O, en die pa het altyd ‘n geweer. Ek lag altyd, maar wil so graag vir hulle kan verduidelik wat presies dit is wat iemand Afrikaans maak.

Dis nie ‘n politiese vraag nie, dis ‘n kulturele een. En dit moet baie te doen hê met ons voorouers. Ek kan sien ek “hoort” nie hier in Swede nie. My wortels lê nie hier nie. Ek kan niks van ‘n fisiese Afrikaanse in hierdie mense sien nie. Duitsland ook nie. Oostenryk het snaaks genoeg al nader aan huis begin voel. In Nederland was die taal vreemd op my oor, maar die mense het op ‘n manier bekend begin lyk. Dis toe ek in België kom wat ek besef het dis hier waar ek vandaan kom. Die mense lyk dieselfde as my mense, die vrouens se lywe lyk dieselfde, die kleresnitte pas my goed.

Hoeveel van wat ‘n mens is bly behoue van geslag tot geslag? En dink julle daar is ‘n “Afrikaanse” geen?

 

 

 

 

 

 

Advertisements

19 thoughts on “Wie is ek?

  1. ^stoutsus^ Februarie 11, 2008 / 1:28 nm

    Liewe hemel, welkom. Jou baie vrae laat my kop draai, bloot omdat jy ‘n punt beet het en ek nie die antwoord nou het nie. 🙂

    As jy die outjies van Roxette daar in Swede raakloop, vertel hulle SA het ‘n konsert of 7 nodig…seblief…

  2. René Februarie 11, 2008 / 3:02 nm

    Ek dink regtig ons is ons eie spesie! So gebore en so gelaat staan! En waar kry jy ‘n taal met soveel sag-op-die-oor-lekker-op-die-tong vloekwoorde!? Hahahaha!!!

  3. kyker Februarie 11, 2008 / 7:27 nm

    Ek glo dat dit wat ons so erg Afrikaans maak, nie ‘n oorerflike geen is nie. Nee wat. Ons Afrikaanse karakters kry hulle beslag tydens ons jeugjare. Dit het te doen met in watter huis ons grootword en met wie ons meng op skool. Dis die kollektiewe menswees in Suid Afrika wat van ons mense maak wat anders is as ander nasies: Ons kan vir onsself lag, gemoedelik saamkuier en rerig omgee vir ander.

  4. Da Mario Februarie 11, 2008 / 8:09 nm

    Netjane, ek het ookal gewonder, veral toe iemand my eendag vra wat nou eintlik my kultuur is?? Wat maak mense Afrikaans? Ek wonder self…

    Maar Rene, hoe weet jy van die vloekwoorde? Jy vloek mos nie?! 😮

  5. netjane Februarie 11, 2008 / 11:10 nm

    DM – Rene hang so gereeld daar by die Soldaat se blog uit dat sy nou al stringe ken. 😉

    Kyker – Ek is geneig om deels met jou saam te stem. Die huis en die vriende in die vormingsjare speel ‘n groot rol. Soveel so dat mens later net met dieselfde tipe mense bly meng.

    ^stoutsus^ – Ek hou my oë oop vir Roxette. Miskien kan ek nog ‘n Abba revival band ook bymekaar kry – ek het wragtag al genoeg Dancing Queen op die radio gehoor in hierdie jaar dat Agnetha self nie ‘n beter job sal doen nie.

  6. boendoe Februarie 12, 2008 / 10:18 vm

    Oulike blog! Lekker gelees.

  7. boegels Februarie 12, 2008 / 11:18 vm

    Welkom by die blogesfeer. Het jou op my favorites gelys en hoop om nog baie te hoor oor Swede.

  8. Jasper Februarie 12, 2008 / 11:38 vm

    Braaivleis en biltong
    Mieliepap en appelkoos jem
    356 jaar se onderline stryery en opinie verskille
    356 jaar poging om ‘n identiteit te ontwikkel

    As ek in SA stap, sien ek so duidelik die verskil tussen Europeers en Suid Afrikaners.

    Daar is iets in Afrikaans Suid Afrikaans wees. Dit is nog net nie ge-eien nie dink ek..

  9. netjane Februarie 12, 2008 / 11:46 vm

    Jasper – dis daai “iets” waaroor ek wonder! Ten minste weet ek nou ander dink ook daar is “iets”. Ek dink dit het te doen met ‘n kollektiewe hardkoppigheid ook

  10. Dellie Februarie 12, 2008 / 1:11 nm

    My eerste oogwys by jou.

    Is daardie “iets” regtig uniek aan Afrikaanse Suid Afrikaners, of het ander kulture ook hulle eie “iets”?

    Ek kom kuier weer!

  11. rosalindfranklin Februarie 12, 2008 / 3:53 nm

    Afrikaanssprekend is dalk beter ‘n beskrywing, maar daar is ewige ou debatte die hele tyd oor wat ‘n Afrikaner nou eintlik is.
    Ek myself voel soos iemand van suider-Afrika, ek voel ek hoort hier van Afrika. En my moedertaal is Afrikaans. Ek voel definitief nie soos ‘n Europeër nie en sal ook nie daar hoort nie.
    Maar self voel ek my identiteit, die self wat ek is, is ook meer as die taal en kultuur waarin ek grootgeword het. Dit is ook die individu wat ek is.

  12. Skoor Februarie 12, 2008 / 3:55 nm

    Ek stem met Stoutsus, kry daai band terug in SA, ek en sy wil saam gaan kyk, sy weet dit nog net nie!

    Ons het so ‘n mengsel van bloed in ons are, iewers sal al die gene en wildgeite mos maar wil uit, en dan word dit gelable as ‘n Afrikaanse Ding.

    Ten minste reken mense ons as uniek, ne.

  13. Die Gestorwe Soldaat Februarie 12, 2008 / 5:15 nm

    Oi, Jane! Jy sal ‘n man ‘n slegte naam gee, jong! As ‘n reël is my eie taalgebruik mos darem nie sooo sleg nie…

    /me sal nooit vannag kan slaap nie…

  14. netjane Februarie 12, 2008 / 5:22 nm

    Ek vra dan vreeslik verskoning Soldaat – wil nie op hierdie blog (ook) ‘n vuisgeveg hê nie. 😉

    Jy kan maar rustig slaap vanaand – ek was net vol grappies. (Klink ek nou soos Frank?)

  15. Da Mario Februarie 12, 2008 / 8:51 nm

    netjane…
    Ganadiglik darem nie…. 😆

  16. René Februarie 13, 2008 / 10:23 vm

    Ai siestog Jane – dis darem nie by Soldier waar ek die vloekwoorde hoor/lees nie! Maar ek weet jy het net gegrap! 😆

    Ek het 5 boeties – waarvan vier regte egte karoomanne is – en nou ja … need I say more?

    Soldier, slaap rustig seblief … daar is niks fout met jou taalgebruik nie!

  17. maeree Februarie 15, 2008 / 11:28 vm

    nie heeltemal op die onderwerp nie, maar toe ek in swede was, het ek uiteindelik beter gekliek met die afrikane as die swede. ons en die nigeriërs en ethiopiërs en ghanese het heerlik saam gekuier. hoewel ek die wêreld se respek vir die swede het en graag een van hulle wil wees, is ek eintlik ‘n afrikaan.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s