Posted by: netjane | August 5, 2008

Blokkies tag

Hier is my huiswerk. Dit was vir my lekker om te doen en sommige van die vrae was nogal moeilik om te antwoord! (Een woord om myself te beskryf? Ek het nooit net een woord vir enige iets nie!). Die “celebrity” vraag se antwoord was (na ‘n lang gedink) George Clooney, maar ek sien die blokkie is nou leeg. Dis eintlik ‘n baie beter antwoord…

1. Jeanne d’Arc, 2. Toasted Cheese II, 3. Linden trees, 4. rojo sobre negro (mosaico) / red on black (mosaic), 5. Little Dr Ross/George Clooney, 6. Coke. Red Around The World, 7. taking time., 8. Ice Cream with Chocolate Sauce, 9. Princess Painting, 10. “love comes from the most unexpected places…”, 11. Le Carnaval de Nice - 1 : flying papers, 12. NetJane by Netopia

Vir die wat wil saamspeel - gaan loer by Rene van Woestynsand tussen my tone, dis juis sy wat my getag het.

O ja! Die vrae:

Questions:

1. What is your name?

2. What is your favourite food?

3. Which school did you attend?

4. What is your favourite colour?

5. Which celebrity do you consider to be your favourite?

6. Your favourite drink?

7. Your dream holiday?

8. Your favourite dessert (poeding, nagereg)?

9. What do you want to be when you grow up?

10. What do you value most in life?

11. One word to describe you?

12. Your blog name or nick?

Posted by: netjane | August 4, 2008

Asem in - asem uit.

Ek neem my werk en verantwoordelikhede ernstig op. ‘n Mens doen jou werk, maak nie saak wat dit is nie, na die beste van jou vermoens, en mens is trots op wat jy elke dag doen en verrig. Ek verwag dieselfde van die wat saammet my werk.

Ek is nog nie twee dae terug by die werk nie en ek raak alklaar lus vir baklei. ‘n Klient is nie daar vir jou gerief nie. Jy kom nie by die leer uit wanneer dit jou pas nie. Jy het ‘n werk om te doen - doen dit! Hoe begin ek baklei as ek nog nie eens behoorlik die nuwe gesigte in die kantoor ken nie? Ek is nou semi hoof van die departement en as sulks wil ek he goed moet op my manier gedoen word. Spoedige dienslewering is vir my van kardinale belang. Ek is nie lus vir ‘n “maybe” houding nie. Ek gaan nou seker die kantoor “bitch” moet wees.

Hoekom sien sommige mense hulle werk as ‘n manier om daglig ure om te kry? As jy dit dan so haat, hoekom is jy hier?

Posted by: netjane | August 1, 2008

Working girl

Ek is terug by die werk. Dit voel vreeslik vreemd. My kop is nog vol watte en die brein is nog nie heeltemal op spoed nie.

My terugkoms was lankverwag en as sulks is ek met ope arms en hope werk ontvang. Een van die dametjies (ek kan haar nou my dametjie noem, want ek’s soortvan die afdeling hoof) is met verlof, so ek het haar leers vir nou oorgeneem en natuurlik was daar finansies om te doen, so eweskielik moes my brein op meer as bloglees fokus.

Hier’s baie nuwe mense in die kantoor en ek dink nie hulle dink veel van die nuwe pop wat so kontant hier rondloop nie. Hulle weet natuurlik nie dat ek al lankal kaatjie van die baan was nie. ;)

Na ek hoe lank uitgehou het, het ek vanoggend met ‘n seer keel wakkergeword, dis regtig goor! Ek en Liefie het moreaand ‘n lekker partytjie om na uit te sien, so ek is seker dit gaan pret wees.

Siende dat ek nou weer deel van die werkersklas is kan ek met ‘n bree glimlag vir julle ‘n LEKKER naweek toewens!

(Ek is so gewoond aan my Sweedse keyboard wat al die kappies en doitjies ophet, dat ek nou sukkel. Ek sal sorg dat ek die shortcuts leer!)

Posted by: netjane | July 30, 2008

Vroom-vroom

Raai wie’t ‘n kar gekoop?

EK!

Ek kan hom/haar (ek moet nog op identiteit besluit) môremiddag oplaai. Ek is omtrent opgewonde! Een klein probleempie: die huurmotor is in my naam omdat Liefie se lisensie verval het. Liefie het intussen ‘n nuwe lisensie, maar net ek kan die huurmotor bestuur. So wie bestuur MY kar huistoe? Vir die eerste keer? Liefie. Hy lag lekker en ek lag nie saam nie.

So as julle wonder wie’s die sexy girl in die verkeer - dis ek! ;)

Posted by: netjane | July 28, 2008

Pa se prinses

Hoe gebeur dit dat ‘n pa se prinses mettertyd nie meer soveel van ‘n prinses vir hom is nie?

Ek is 7 jaar na my suster en 9 jaar na my broer gebôre. My pa wou nog ‘n seuntjie gehad het en was so oortuig dat ek ‘n seuntjie gaan wees dat hy voor my geboorte vir my ‘n geelhout riempies bank laat maak het, hoekom weet ek nie, maar nou ja. Ek is toe ‘n dogtertjie.

Mammie droom van ‘n dogtertjie met pienk strikke in haar hare en wat ballet doen. Pa droom van ek weet nie wat nie. Ek doen nie ballet nie, maar op een of ander manier kry ek die amper onmoontlike reg: ek ontwikkel buitengewone goeie verhoudings met beide my ouers. Toe ek oud genoeg word om dit te besef, kom ek agter dat ek my pa om my pinkie kan draai en dat ek regtig sy hart se punt is. Ek sê dit sonder bybedoelings en snaaksighede, dit is maar net ‘n feit.

Selfs deur my tienerjare fliek ek en my pa nog gereeld saam en as hy iewers heen gaan, gaan ek saam. Reg deur universiteit kom ek terug van klasse af en ek, ma en pa drink saam tee. Liefie se koms verander niks nie en ek en Pa bou voort op ons verhouding. Ek kom later agter hy begin effens onttrek en neem dit nie meer as vanselfsprekend aan dat ek saammet hom iewers heen sal gaan nie. Hy maak keuses sonder om my te raadpleeg.

Nadat my pa behoorlik aftree en see toe trek en ek in my eie plek intrek is dinge nie meer dieselfde nie. Ek weet nie of dit is omdat ek hom nie elke dag sien nie en of hy maar net besef het dat sy tyd as die “man in my lewe” gekom en gegaan het nie, maar somehow is ek nie meer “daddy’s little girl” nie. Dis seker ‘n kinderagtige gedagte van my kant af, maar ek is wragtag jaloers op my broer se dogtertjie, want in haar verhouding met oupa, sien ek dit wat ons eens op ‘n tyd gehad het.

Wat is die dinamiek van ‘n pa/dogter verhouding? Kan dit dieselfde bly nadat die dogter ‘n lewensmaat gekies het? Ek is half hartseer, maar ek kan nie my vinger plaas op dit wat ek verloor het nie.

Veels geluk met Pa se verjaarsdag.

Posted by: netjane | July 27, 2008

My eerste dae terug

Dit voel asof ek nooit weg was nie. Dis fantasties om terug te wees, maar net so woep-waps is ek weer in my ou/nuwe lewe teruggesuig.

Ek het die laaste paar dae ‘n klompie karre op toetsritte geneem en ek kan net my kop oor manlike verkoopspersoneel skud. Ek loop by die handelaar in, ek sê ek wil ‘n kar koop en wat ek kan bekostig. Liefie staan langs my en sê nie ‘n woord nie. Die verkoopsman stel homself aan Liefie voor en ignoreer my. Liefie word ingelig oor torque en kilowatts en petrolverbruik en enjin grootte. Die kontrole vir die radio op die stuurwiel en die grootte van die kattebak word aan my uitgewys. Een ou het so ver gegaan as om te sê die agtersitplek is groot genoeg vir kinderstoeltjies! Almal wys vir my die kleure waarin die kar kom en lyk dan verbaas as ek oor diensplanne en waarborge vra. Poepholle.

Ek en Liefie slaap weer knus in ‘n dubbelbed na ons aan ‘n king in Stockholm gewoond geraak het. Ek kan nie sê dis aangenaam nie en ons container beter vinnig opdaag! Ek is nie gewoond aan die koudkry binne die huis nie en my vel is erg droog van die Johannesburg lug. Verder is ek stokflou en is teen 9 uur elke aand in die bed. Ek vat maar alles stap-vir-stap en probeer om nie oorweldig te voel nie. Vrydag begin ek weer werk en ek weet nie mooi hoe dit gaan verloop nie!

Dit het ook nou onder my aandag gekom dat ‘n groot gedeelte van ons trougaste nie hulle uitnodigings ontvang het nie, want die Poskantoor dink duidelik nie dis belangrik om briewe af te lewer nie. My ma, broer en nog ‘n vriend van my bly almal in dieselfde dorp en nie een het ‘n kaartjie gekry nie. Verder het sommige van die Kaapse gaste kaartjies gekry, maar nie almal nie. Port Elizabeth is ook ‘n kaartjie-loos. Snaaks genoeg is posaflewering in Nylstroom, De Aar, Hannover, Oudtshoorn en Addo nie geraak nie. Al die oorsese gaste het ook hulle kaartjies gekry, so dis nie Sweedse pos se skuld nie. My probleem is nou dat ek nie genoeg ekstra kaartjies het nie, aangesien ek nie verwag het om omtrent al my kaartjies weer te pos nie en siende dat ek die kaartjies in Stockholm gemaak het, ek nie meer kaartjies kan maak nie, omdat ek nie die fisiese papier en ander goed het nie. Sal maar vir die mense met wie ek op ‘n baie gemaklike voet is vra om hulle kaartjies te skenk sodat ek dit sodoende kan “recycle” aan die ander gaste. My pa het vas geglo hy’s nie uitgenooi nie!

Die koraalboom in my tuin begin sy eerste rooi blomme uitstoot en ek’s verskriklik bly om terug in Suid-Afrika te wees.

Posted by: netjane | July 22, 2008

Finish en klaar.

My laaste blog uit Stockholm uit. Dit voel vreemd om te dink ek vlieg môre weg. Sê net so totsiens vir ‘n lewe wat nie meer gaan wees nie.

Ek het vanaand gemengde gevoelens. Ek praat vroeër met my ma en sy vertel my van vriende van ons wat met ‘n wapen aangehou is in ‘n winkel omdat die boewe vas geglo het die oom is die eienaar van die winkel (hy was net ‘n klant). Ek lees van ander bloggers wat hulle goedjies gaan pak en die teenoorgestelde roete as myne gaan volg. Land-uit. Ek lees dat 18% van huise wat deur wit mense besit word in die mark is omdat die eienaars die land verlaat. En ek pak my goedjies en vlieg met ‘n spoed land in . En ek is nog opgewonde daaroor ook. Ek wil nie teleurgestel word nie.

Op ‘n prettiger noot kry die “wat gaan ons eerste eet?” speletjie wat ek en Liefie al vir 15 maande lank speel nou momentum. Ek dink die wenners is braaivleis en biltong. Dis ook vir ons goed dat die twee gekombineer kan word. Ek het ook ‘n kaas-en-tamatie broodjie op Albany witbrood op my lysie. Ek weet die brood is wind en bevat geen voedingswaarde nie, maar teen die brood wat mens hier op die rakke vind en wat altyd ten minste twee dae oud is, gaan daai Albany sagte-sagte-sagte brood uit die boonste rakke wees.

‘n Paar ander gedagtes:

1.Ek het nogsteeds nie my “by-line” of watookal mens dit noem verander nie en die “Sweedse stories en ander nonsens” is na vanaand nie meer van toepassing nie. Help!
2. Is dit ‘n natuurlike effek van vlieg dat mens heeldag “Leaving on a jet plane” sing?
3. Gaan ek onthou om ‘n kar te bestuur?
4. Ek wonder of ek môre gaan huil?
5. Hoe gaan ek oorleef sonder onbeperkte internet teen ‘n stink spoed?
6. Gaan my sussie toelaat dat ek by haar blog?
7. Waaroor gaan ek van nou af blog?

Ek mag dalk vir ‘n paar dae stil wees - my to-do lysie is langer as lank en Liefie is nogal ‘n slawedrywer as hy die dag wil en ek is nie seker oor waar ek my volgende internet fix vandaan gaan kry nie, dink maar aan my!

Sweedse groete (vir ‘n laaste keer!!)

Hej då! :)

(ek is oorstelp van opgewondenheid!)

Posted by: netjane | July 21, 2008

Die Skim is terug.

Ek is terug!

Ek is ook vreeslik jammer dat ek net soos ‘n dief in die nag verdwyn het, maar ek het op die laaste nippertjie besluit om nie my rekenaar in te pak nie en die outjie by wie ons gebly het kon nie sy wireless network se wagwoord onthou nie en en en…

Duitsland was fantasties. Ons is flou gekuier! Ons gasheer is ‘n regte dinamo en sy energie ken geen perke nie. Hy het selfs 2 groot verrassings vir ons gereël en dit het tot gevolg gehad dat ‘n ander vriend van Frankfurt af gekom het vir ‘n aandete in Stuttgart en 2 ander vriende van Berlyn gekom het vir die naweek. Ons het omtrent gekuier! Ek het veels te veel geëet en kan eerlik sê dat ek nie baie vinnig weer duitse spesialiteite wil sien nie! Ek het ook my deel gedoen vir die duitse bierbedryf.

Nog iets fantasties in my lewe - Ons het ‘n vroeër vlug terug Suid-Afrika toe gekry! Ons vlieg Woensdagaand. Ek is omtrent uit my vel uit!

Posted by: netjane | July 10, 2008

Wat pas nie?

Terug by die huis! Hoe presies ek ‘n tydelike woonstel met 3 tasse as my aardse besittings as “huis” ervaar, weet net ek. Dis seker maar omdat ek terug is in Stockholm. Of omdat daar ‘n bad is.

Ons huur tans ‘n woonstel wat aan Liefie se werk behoort en aangesien ons eintlik net so 7 dae aan en af nog in Stockholm gaan slaap werk dit goed en goedkoper uit as ‘n hotel. Toe ons uiteindelik vanaand hier aangeland het van die lughawe af het ons vinnig gaan kos koop sodat ek darem iets vir aandete aanmekaar kon slaan. Toe ek begin rondsoek in die kombuis vir goed, slaan een van my snaakse maniere deur. Die kaste is nie na my sin ingerig nie en ek moes myself dwing om eers klaar te kook voor ek die kaste begin regpak het. Hoekom ek omgee hoe iets lyk waarin ek eintlik geen belang het nie, weet ek nie, maar dit moes net reg.

Ek is die tipe wat in Pick ‘n Pay die verlore blikkie groente wat iemand iewers anders gelos het terugneem na die regte rak toe. In Look & Listen groepeer ek die DVD’s sodat dieselfde titels bymekaar is. Ek kan myself nie keer nie. Dis onwillekeurig, as ek myself kry sorteer ek goed uit. Liefie gluur my al aan en dan doen ek dit as hy sy kop wegdraai. As daar ‘n rooi pen tussen die swart penne in CNA lê haal ek dit uit en sit dit by die swart penne. Dieselfde met Hallmark kaartjies, as ek ‘n verjaardagkaartjie onder die “Innige simpatie” afdeling sien wil ek omtrent crack. Ek skei die wit- en bruinsuiker pakkies in koffiewinkels, want ek hou nie daarvan as dit gemeng is nie. (Ek drink nie eens suiker in my koffie of tee nie!).

Ek weet nie wat ek groepeer en wat nie. Al my broeke hang byvoorbeeld nie langs mekaar in my klerekas nie, maar hemde, toppies en t-shirts is netjies gegroepeer. Handsakke is nie volgens kleur nie, maar volgens grootte. My CD’s is nie alfabeties of volgens genre nie, hulle val maar net waar hulle val.

My “maniertjie” pla my nou…

Posted by: netjane | July 8, 2008

Daai gevoel

Toe ek nog op universiteit was, was daar altyd ‘n tyd in die jaar, so skuins voor jaar eind eksamens begin het, wanneer daar iets in die lug en die gevoel van die stad was en ek het dit altyd vir myself beskryf as dit voel soos somer. Dit kon miskien ‘n liedjie op die radio gewees het of ‘n spesifieke manier hoe die son geval het wat my laat opmerk het dat dit soos somer voel, maar na ek daai eerste “gevoel” gekry het, was alles vir my sommer net reg.

Ons het vandag by talle klein kusdorpies ingery. Die strande is kalm en die kinders baljaar rond en die ou tannies is (ongelukkig) in hulle bikinis. Oral eet mense roomys en op die horison is seilbootjies sigbaar. Die huise se tuine is mooi versorg en daar’s ‘n algemene gevoel van vakansie. Daar was toe ‘n gegrom van donderweer en so ‘n jakkals trou met wolf se vrou reënbuitjie wat uitgesak het en toe ek die reën ruik, toe voel dit vir my soos somer. Ek het al vantevore opgemerk dat die brein en sy truuks my altyd onkant vang, maar dat ek eintlik net vir ‘n donderstorm gewag het om die somer te “aanvaar” bewys net weer my punt.

Dis vir my vreemd om somer sonder Kersfees te hê. Dis my tweede somer in die Noordelike halfrond en dit voel net nie vir my asof dit “my” somer is nie. Die Swede voel seker so oor ‘n Kersfees met baie son. Mens raak so geheg aan dit waaraan jy gewoond is.

Ek begin nou kriewelrig raak vir ‘n regte huis. Dit gebeur altyd met my nadat ek vir ‘n ruk gereis het, veral as ons baie rondbeweeg. Ek voel soos ‘n skurk omdat ek nie vanaand in die stad rondstap nie, maar ek vat vir eers ‘n blaaskansie.

« Newer Posts - Older Posts »

Categories