Ek gaan seker nou ‘n vraag vra wat ongevraagd kon gebly het, maar hoekom wil die super in your face christene altyd vir mens bid? Of liewer, vir mens bid as iets met jou gebeur of jy ‘n keuse maak wat hulle nie verstaan nie? Hoekom maar nie net sê “ek dink aan jou” nie? Of is dit dieselfde ding?
My ma en suster was vandag gaste in die gehoor op “Die Ander Kant” – die program op KykNet wat handel oor ‘n heldersiende vrou wat ook met die “ander kant” praat. Of jy nou dink dis kak of nie, wat maak dit saak? As dit nie jy is wat op die program gaan nie, as dit nie mense na aan jou is nie, as dit bloot ‘n werkskollega se ma en suster is, hoekom moet jy ‘n ophef daaroor maak as die kollega dit bloot in die verbygaan noem, omdat iemand anders gevra het of my ma lekker by my kuier? Daar word nou vir my ook gebid, want my ma en suster gaan duidelik die hele hel saammet hulle terugbring van die program af. Ek kon omtrent nie ‘n steek werk gedoen kry vandag nie, want ek is met bybelverse en RSG dominee preke bestook.
En wat antwoord mens as iemand pal vir jou wil bid? Ek word veral nou voor gebid nadat ‘n kliënt onlangs gevra het hoe ‘n Afrikaanse meisie ‘n Indiese van gekry het en ek toe geantwoord het dis my getroude van wou hy dadelik weet watter geloof ek is. Toe ek vir hom sê my antwoord is tweeledig deurdat dit eerstens niks van sy besigheid is nie en tweedens ek geen identifiseerbare geloof aanhang nie, het my kollega omtrent flou neergeval. Sy’t dan altyd gedink ek is ‘n groot Christen. So deur my menswees en gedrag het sy so afgelei – is dit nie genoeg nie?
Moet mense dan nie ook begin besef dat geloof nie eintlik by die werksplek kan bestaan nie?

Wie sê wat