Ek en Liefie hou die afgelope ruk ‘n vink dop terwyl hy sy nessie bou. Die volgende naweek bou dieselfde vink nog ‘n nes reg langs die ander een. “Hy’t groot planne” dink ek nogal by myself. Ons sien vanoggend hoe hy sagte stukkies bossies afpluk om die nes uit te voer en toe ek my hare kam vlieg hy af en gryp die los hare wat val ook. Die arme ding werk hard. Mens sien net flitse geel heen-en-weer vlieg.
Vanmiddag eet ons buite toe ons sien hier’s nou grootskaalse aksie by die een nes. Me(toekomstige)vrou het kom inspekteer. Vinkie dans sy voëltjie dans, dis net vlerke wat gewapper word en tjirp-tjirp-tjirp. Vlieg mooi na die nes se ingang toe “kyk hier poppie, dis waar jy moet ingaan om saammet my te bly”. Poppie bly sit op die tak. Tjirp-tjirp-tjirp, weer na die ingang van die nes toe, wapper-wapper-wapper, hierso! Poppie vlieg met een laaste kyk weg.
Ek het ‘n middagslapie gehad en toe ons nou buite sit vir ‘n koppie tee sien ek die stukkies nes lui afwaarts grond toe val. Moertoe.
Ek dink hardop dat dit soms erg moet wees om ‘n man te wees en lief te wees vir ‘n vrou, elke nou en dan word jy geskop dat jy daaaaaar trek. (Vrouens se harte word natuurlik ook gebreek, maar ek dink altyd mans is sulke patetiese sagte goed dat dit vir hulle baie erger moet wees).
Ek sien die vink is weer besig om takkies uit te kyk en begin weer een te stroop vir ‘n nuwe nes. “Haai Liefie, kyk, hy gaan weer probeer!” (Romantiese ek, wat in liefde en rose en engele wat op harpies speel glo).
“He wants to get laid, babe. Of course he’ll try again. That’s how the world works. The bottom line is that he wants to get laid.”
Dankie Liefie.


Wie sê wat