Die lys soekterme op my blog is omtrent dag na dag na dag dieselfde.
Dit verbaas my dat daar op die ganse web nie beter resultate vir die terme is as my blog nie. Toe toets ek maar die terme. My blog is die antwoord. Ek glo nog al die jare ek het al die antwoorde en as enige iemand iets wil weet moet hulle my vra, maar my ma het gesê ek moet ophou met my nonsens en my suster het mettertyd opgehou om my opgemaakte antwoorde te glo.
Siende dat ek iemand is wat daarvan hou om ander (reg te) help, wil ek net vandag ‘n paar dinge duidelik maak:
1. Hier is nie kaal vroue of vrouens op hierdie blog nie. Die Ysland post praat oor kaalvrouens, maar wys nooit kaalvrouens nie. Move on, of soek in Engels.
2. Hier is nie tieties, mooi tieties, kaal tieties of Afrikaanse tieties (?!) op hierdie blog nie. Weereens, die Ysland post praat oor tieties, maar wys nooit tieties nie. Move on, of soek in Engels. GLO MY, die resultate gaan beter wees.
3. Ek eet graag soetkoekies, maar het nog nooit ‘n resep vir soetkoekies geplaas nie. Hier’s een.
4. Ek het ingeskryf vir die Sarie Bruid van die Jaar kompetisie, maar nie gewen nie. Hulle het duidelik nie van my “look” gehou nie. Koop die Sarie Bruid tydskrif, vul die vormpie in, scan/faks/pos dit saammet die foto’s en skryf dit op jou maag.
5. Vir al die Sweede wat Ales Stenar soek: hoekom soek julle op ‘n Afrikaanse blog? Wikipedia. Dis die moeite werd om die endjie te stap, daar’s ‘n mooi see uitsig en die klippe is cool om te sien of Ales Stenar är et trevligt ställe at besöka.
6. Voorhuweliksekontrak/huwelikskontrak/buite gemeenskap van goed: ek belowe plegtig ek sal binnekort ‘n ordentlike post hieroor doen, want dis my werk.
7. As jy Ysland toe wil gaan, email my. Ek het baie navorsing gedoen voor ek gegaan het, so ek sal probeer help. Ek wonder dan ook, presies hoeveel Suid-Afrikaners beplan om Ysland toe te gaan? Ek vermoed ander tale noem ook die plek Ysland. Sover ek dit het is Ysland nie op meeste Suid-Afrikaners se “must see before we die” lysie nie…
8. Vir die ou wat “ek voel so aan my bas hier kom ‘n ding” gesoek het – ek kan nie help nie, maar ek voel dit ook.
9. As jy voel “tegnologie maak van my ‘n kluisenaar”, gaan uit, praat met regte mense daaroor, of leer hoe jou alarmstelsel of hek remote werk.
10. Matriekafskeid was vir my lank terug gewees. Moenie te veel worry oor die rok nie, die afterparty is dit waaroor almal later (nie) praat (nie).
Ek besef dat deur die terme weer te gebruik, ek die kanse dat die soekenjins weer my blog as antwoord gaan uitgooi, vergroot, maar nou ja, soms moet mens ander se belange voor jou eie sit. ![]()

Oe jong, ek het op ‘n stadium dieselfde frons tussen my 2 oe gehad, sowaar. Dit wat mense soek is effe ‘af’ soms.
Wonder egter oor die soet koekies. Of soetkoekies… Gee heel ander dimensie aan my kosblog, hahaha!
http://skoorblok.wordpress.com/search-engine-terms/
Gaan loer bietjie watse funny Search Engine Terms ek al moes verduur.
Jane, daai matriekafskeid-een kom na die tag-speletjie wat ons gespeel het met ons rokke. Ek kry die hit ook baie.
Klop jouself op die skouer, by my word oorwegend “ouma tieties” gesoek.
Sien, nou het jy sommer jou goeie daad vir die dag gedoen deur al hierdie soekers reg te help!
Dankie, jy maak my dag.
Sommiges laat my lag en wonder en ander is sommer net plainweg disturbing!
Ek wonder nou oor daai een van “ek voel so aan my bas hier kom ‘n ding”
[...] ek dink BAIE keer gaan hulle BAIE teleurgesteld wees. Partykeer moet mens dalk maar net die mense reghelp. Soos met die oulike stukkie van hoe om die kaf van die koring te skei – Ag ek bedoel dames [...]
Dis nogal vir my ‘n leemte in WordPress – ek sou graag ‘n file wou kon aflaai met alle soekterme wat my ooit getref het.
Die snaakste een van onlangs was: “oorsake van oorbevolking” – ha ha, ek weet net van een!
DIS nou vir jou ‘n ding…