Een van my gunsteling Sondag gebruike is my chai in die middag. Chai, letterlik die indiese woord vir tee, is ‘n lekker melkerige tee met baie speserye in. Chai is nie die klaar verpakte nonsens wat Twinings of wie ookal in Pick ‘n Pay verkoop nie. Dis definitief nie wat mens in koffiewinkels kan bestel nie. Chai is dit wat jy in ‘n stegie in Indië uit ‘n erdeware bekertjie drink. Dit kom stomend uit die kan en word van ‘n hoë hoogte in die bekertjie gegooi om dit sodoende af te koel. Daai bekertjie word dan na die tyd summier op die grond stukkend gegooi en iewers, in ‘n ander stegie, sit iemand en maak weer nuwe bekertjies.
Chai is ‘n tyd om asem te haal. Dit vat langer as gewone tee om te maak, aangesien al die bestanddele in ‘n pot op die stoof gekook word. ‘n Stukkie lemongrass blaar word ingegooi en die los teeblare word sorgvuldig ingemeng. Dan die afmeet van die spesery mengsel. Die spesery mengsel bevat wit en swart peperkorrels, kaneel stokkies, neutmuskaat, kardamom sade, naeltjies en gemmer. Alles word dan saam fyngemaal. Wie’s die gaste? Hot or not? Ek hou van my tee sterk, beide die tee en die skop. Die lekker brand in die keel is vir my ‘n tonic. Net daar voel ek wakkerder. My suster hulle kom ook nou al op Sondae middae aangestap vir hulle koppie chai.
My koppie chai vat my reguit terug Indië toe. Die chaiwalla (outjie wat tee verkoop) wat op en af in die trein se gange loop met een eenvoudige deuntjie wat hy skree: “chai, chai, chai, chai, chaiiiii!” Die nou straatjies in Jaipur met die Indiese mans wat skaam skaam vir my plek maak op die bankie langs hulle en die eienaar van die stalletjie wat probeer verduidelik dat die tee te warm gaan wees vir my en my wit vel. Die westerse hotelle wat ‘n afgewaterde chai vir die toeriste bedien en ons wat net beduie ons soek die “real stuff” en ons wat dan omtrek stik en sluk as ons dan die “real stuff” kry.
Soveel as wat ek in my kombuis probeer om my chai soos die chai in Indië te laat proe, kry ek dit nie reg nie. Ek vermoed dit het iets te doen met die hoog met ‘n boog gooi tegniek van die verkopers, of die erdeware bekertjies, miskien is my kombuis te skoon, die gaste langs my verstaan my te maklik, daar’s nie koeie wat net rondwandel nie, mens ruik nie wierook nie en die kleure wat jy sien is nie skokkend helder nie, maar ek probeer.
Indië, my hart trek ‘n punt na jou toe.

Ek is terug in die groot stad. Ek kan nie sê ek hou van die gedagte dat ek môre weer moet begin werk nie, maar dis darem altyd vreeslik lekker om weer in jou eie bed te slaap na ‘n tydjie weg.
Teen die tyd dat die eintlike troue aanbreek is mens poegaai van al die pre-wedding events. Die rituele en kos en alles wat daarmee saamgaan was vir my interessant om te ervaar, maar teen my derde sari was ek ook half gatvol, soos die gesigsuitdrukking aandui… Hier’s dan ‘n paar fotos van my Bollywood Extravaganza by. (Ek en Liefie gaan natuurlik toe beide na die troue toe met kameras met pap batterye. Ook maar lekker stupid!)

Verder is hier ‘n paar fotos van die res van die vakansie in die post. Ek pos iets lekker vir die een wat eerste 5 van die plekke in die fotos identifiseer. (die goed wil nie vandag doen wat ek hulle aansê om te doen nie – kyk maar so heen en weer en deurmekaar!)






Wie sê wat