Dood het nog nooit in my lewe ge”feature” nie. Ek het al troeteldiere verloor en die een ouma wat ek gehad het is dood op 83, maar vir my was dit nooit ‘n hartseer ding nie, dit was maar net dat sy oud is.
Ek moes nog nooit met hartseer saamlewe nie. Ek was nog nooit die een wat agtergebly het nie, moes opstaan, aangaan, aanhou lewe nie.
My ma se vriendin is siek. Baie siek. Kanker siek. Vir die tweede keer. Sy is ‘n tyd terug met borskanker gediagnoseer en het vir die mastektomie en chemo gegaan. Sy het toe al belowe dat sy nooit weer in haar lewe vir chemo sal gaan nie. Einde verlede jaar het die pyne en skete begin. Hoofpyne, seer nek, knieë wat nie wil loop nie, pelvis wat nie lank wil sit nie. “Gaan na ‘n dokter toe” was ons refrein, maar M se “can do” attitude wat altyd vir my so ‘n ligpunt en inspirasie was het duidelik nie na haarself toe gestrek nie. Hardkoppig soos min is sy. En nou. Gebakte pere. Die persoon wat uiteindelik die scans gedoen het het opgemerk “your body lit up like a christmas tree”.
M het laas week vir 1 chemo sessie gegaan. Sy sê sy gaan nie weer terug nie. Sy wat so sterk is en links en regs skoppe onder gatte uitgedeel het as dit nodig was, is verslane. Die pyn is te veel. Die seer is te veel. Die lyding is te veel. Sy kan nie. Sy wat altyd kon.
M het mettertyd vir my soos ‘n ma geword. Veral toe my ma hulle afgetree en weggetrek het en my suster hulle Qatar toe is en Liefie in ander dorpe en stede gewerk het was sy die een wat altyd daar was met kos en raad en tee.
Ek en my suster was gister daar. Ek voel so magteloos. Ek weet dis woorde wat almal wat al in die situasie is uitspreek, maar ek weet nie hoe om dit wat ek ervaar te voel nie. Ek is nie ‘n mens wat goed gevoelens hanteer nie. Ek dink, ek voel nie.
Ek’s heel van track af.
Wie sê wat