Skuins voor een, elke weekdag van Maandag tot Donderdag, hoor mens ‘n snaakse geritsel in die kantoor. Terwyl telefoonoproepe gemaak word en besprekinge gehou word gaan die geritsel voort. Sjjjjjrrrrrt. Tok-tok-tok. Sjjjjjjjrrrrt. Tok-tok-tok.
Klokslag om 1 uur draai daar ses dwarrelwinde deur die kantoor. Nie nou tyd vir praat of werk nie. Belangriker goed om te doen. Kos word in die kombuis warmgemaak en dan jaag al 6 deur stoep toe. Die met toebroodjies sit reeds daar. Niemand wil ‘n stoel met slegte mojo hê nie en langs wie jy opeindig neem baie beplanning. Die tyd het aangebreek. Kliënte moenie dink ons is daar vir hulle tussen 1 en 2 nie. Base moenie dink dis tyd vir vrae vra nie. Telefoonboodskappe word geneem. Dis Uno tyd.
Elke Maandag tot Donderdag tussen 1 en 2 speel die 6 junior prokureurs in die kantoor Uno. Ja, daardie kaartspeletjie wat eintlik vir 4 jariges bedoel is sodat hulle hulle syfers en kleure kan leer. Ons speel met oorgawe en drif. Almal in die kantoor is al nuuskierig oor die Uno kampioenskappe en ons het elke dag toeskouers. Ons speel vuil en kantoormaats wat normaalweg saamwerk en lessenaars langs mekaar deel raak haaks en vreeslik kwaai met mekaar. Die plus 4 strafkaarte word soos weapons of mass destruction gebruik en as een speler verskriklik ly, lag die ander hulle pap. Om meer rondtes in te kry het ons twee pakke kaarte, om sodoende skommel en deel tydmors te voorkom. Ons speel nie net vir speel nie. Ons speel vir punte. Ons het reëls. 4 spelers om ‘n kworum te vorm. Beste 3 tellings van elke week, mits jy al 4 dae gespeel het, anders moet jy maar vat wat jy het. Die prys? Gratis middagete op Vrydag. Vrydae is lunch-club in Rosebank.
Ek het die pas afgelope week gewen. Dit was fantasties.

Wie sê wat