Ek het onlangs ‘n sin in Agaat raakgelees wat my net daar vir ‘n ruk lank laat ophou lees het. Ek weet nie hoe dit gekom het dat ek so verskriklik aangegryp is deur een sin in ‘n boek van 718 bladsye nie. Erger nog, ek kan nie die sin onthou nie, maar slegs die begrip.
Ons is almal iemand anders se argief.
Ek het eerste die begrip ontstellend gevind. So asof ons lewe om ander mense se stories en lewens te onthou, maar wie onthou ons s’n? Ek het dit veral ontstellend gevind omdat ek besef het wat ek kies om in my argief te hou. Nie die blye gedagtes en herinneringe nie. Die pyn en seer word gestoor. Sodat mens later weer die rofie kan afkrap om te voel of dit nog seer is… Stories oor geliefdes wat ek miskien tweedehands gehoor het, maar stoor as my eie. Issues wat ek geërf het by my ma en my pa, omdat hulle gekies het om daai issues in hulle argief te hou.
Ek het vir ‘n hele week met die begrip van iemand se argief wees rondgeloop voor ek besef het dat ander mense daagliks ‘n argief van my lewe ook word. Eers selfsugtig gekerm oor wat ander mense aan my gedoen het, voor ek besef het dat ek miskien ook besig is om onuitwisbare herinneringe en gevoelens by ander te skep.
Elke mens lewe eintlik met ‘n verskriklike verantwoordelikheid. Wat kies jy om van ander te onthou en wat gee jy ander om van jou te onthou?

Wie sê wat