Ek dra nog rompe en rokke wat bo my knie sit. Ek dra sulke netjiese snyerspakkie rokkies werk toe en oor naweke dra ek graag rompe. Ek dra dit nie omdat ek vreeslike mooi bene het nie, maar omdat my bene nog netjies is en ek dit nog kan doen.
Baie mense wil nog goed doen, maar kan nie noodwendig nie. Wat my by my vraag bring: wanneer moet iemand ophou om iets te doen? As hulle nie meer wil nie, as hulle nie meer kan nie, as ander mense dink hulle kan nie meer nie, as dit ‘n kombinasie van wil en kan is? Wanneer moet mens ophou mini’s dra? Wanneer moet mens ophou werk? Wanneer moet mens ophou kinders hê? Is daar reëls of sosiaal aanvaarbare praktyke? Of behoort ons so vry in ons besluitneming te wees dat “wil” bo “kan” die deurslaggewende faktor moet wees?
Ek vra al hierdie vra, nie omdat ek noodwendig oor my mini dra wonder nie (ek gaan ophou sodra ek 30 is, terloops), maar omdat ek saammet ‘n bejaarde dame werk. Sy is verder ook nie vreeslik gesond nie, en het veral die afgelope jaar vreeslik met haar gesondheid gesukkel. Sy kom werk egter nou elke dag, is vriendelik, het die nodige bekwaamheid om die take te verrig, maar alles dit maak nie op vir die feit dat sy oud is nie. Sy is stadiger as die res van ons. Sy raak ongeduldig as goed nie onmiddelik na haar sin verloop nie. Sy het nie heeltemal die memo oor die nuwe Suid-Afrika gekry nie en is vreeslik uitgesproke oor haar geloof. (In die kantoor is ‘n Hindu dame getroud met ‘n Jordaniese moslem, ‘n ateïs, ‘n stil gelowige Christen en ek – nie heeltemal wat ek ‘n gebedsgroepie sal noem nie).
Op ‘n BBC Lifestyle program sien ek ‘n ma en pa van ‘n tweeling (3), waar die verskil tussen ma (28) en pa (62) 34 jaar is. En die kindertjies is heel in hulle moere in. Was dit regverdig van die pa om nog in te stem om kinders te hê? Net omdat hy kan en wil, beteken dit hy moes?
Net omdat vrouens kan boks, beteken dit hulle moet?
Net omdat ek nog ‘n sjokolade wil eet, beteken dit ek moet?
Of het die hele storie niks met my uit te waai nie?
Wie sê wat