Ek het ‘n groot vrees vir ambassades en konsulate. Ek verpes my Suid-Afrikaanse paspoort net as dit by visa en ander reisdokumente se aansoek kom. Ek weet ek is ‘n groot mens en dat ek nie besig is om iets “verkeerds” te doen as ek ‘n visa aansoek oor die toonbank stoot nie, maar daai tannies (hulle is almal altyd vroulik) maak my vreeslik benoud. Ek sweet, ek mompel, ek bloos.
Maak nie saak hoe goed voorbereid jy is nie, iets is altyd fout met jou dokumente. Hulle aanvaar dit dan met ‘n groot sug en ‘n gerol van oe, maar “moenie laat dit weer gebeur nie”. Daar’s omtrent altyd lang toue en hoe meer mense weggewys word, hoe benouder word ek. Lees my dokumente en die aansoek vorm weer en weer en weer deur. Al die plekke is is Pretoria, wat beteken ek is al de bliksem in na ek deur die verkeer moes ry van Johannesburg af en ‘n paar keer in die rykmansbuurte verdwaal het. Verder bel die kantoor kort-kort om te hoor waar ek is. Die leesstof in die vertrek is gewoonlik in ‘n ander taal en as jy gaan piepie verloor jy jou plek in die ry.
Ek was al by vreeslike nice plekke (dankie Indie, visas is gratis) en vreeslike kwaai plekke (Nederland). Ek sal sommer jaarliks Italie toe toer as die Italiaanse wag by die konsulaat nog so oulik in sy polisie pakkie lyk. Ons toergids het (vermoedelik) iemand in Jordanie gebribe want ons het nie in ‘n enkele ry gestaan om ‘n visa op aankoms te kry nie en my paspoort het tot vandag toe nog nie ‘n plakker in nie. (Die mense wat in die ry gestaan het, het plakkers gekry). Spanje se papierwerk was pynlik, pynlik, pynlik. Rusland het ons as Suid-Afrikaners goed behandel aangesien hulle ‘n tit-for-tat manier van doen het en ons in Swede aansoek gedoen het. My Sweedse verblyfpermit het goed vir my gesorg deur Europa en kon ek dus die EU visas in totaliteit skip. Ek het nog nooit aansoek vir ‘n Amerikaanse visa gedoen nie, maar ek hoor dis omtrent erg.
Vanoggend loop Liefie met mening by die Japanese Ambassade in. Ek trippel agterna, voel alklaar benoud. Geen ry. Geen groot kennisgewings wat aandui hoe presies jou vorms aanmekaar gekram moet wees nie. Geen niks nie. Dis soos raai-raai-riepa. Die website het ook niks reels opgehad nie. Toe ek hulle gebel het, het hulle net een vorm as vereiste gehad. Ek moes geweet het dit sou nie so maklik wees nie…
Die gerol van die oe en die gesug het gekom. Dit was ‘n tannie en dit sal nie weer gebeur nie. Die ergste van alles? Hulle bespoedig Liefie se aansoek omdat hy more weer Swede toe moet vlieg. Hulle voel ‘n veer oor myne. Dit beteken ‘n ekstra rit Pretoria toe om myne weer te gaan haal. Dit beteken ‘n Jane wat debliksem is.
Dit beteken ook ek gaan amper Japan toe!
Wie sê wat