Vroom-vroom

30 07 2008

Raai wie’t ‘n kar gekoop?

EK!

Ek kan hom/haar (ek moet nog op identiteit besluit) môremiddag oplaai. Ek is omtrent opgewonde! Een klein probleempie: die huurmotor is in my naam omdat Liefie se lisensie verval het. Liefie het intussen ‘n nuwe lisensie, maar net ek kan die huurmotor bestuur. So wie bestuur MY kar huistoe? Vir die eerste keer? Liefie. Hy lag lekker en ek lag nie saam nie.

So as julle wonder wie’s die sexy girl in die verkeer – dis ek! ;)





Pa se prinses

28 07 2008

Hoe gebeur dit dat ‘n pa se prinses mettertyd nie meer soveel van ‘n prinses vir hom is nie?

Ek is 7 jaar na my suster en 9 jaar na my broer gebôre. My pa wou nog ‘n seuntjie gehad het en was so oortuig dat ek ‘n seuntjie gaan wees dat hy voor my geboorte vir my ‘n geelhout riempies bank laat maak het, hoekom weet ek nie, maar nou ja. Ek is toe ‘n dogtertjie.

Mammie droom van ‘n dogtertjie met pienk strikke in haar hare en wat ballet doen. Pa droom van ek weet nie wat nie. Ek doen nie ballet nie, maar op een of ander manier kry ek die amper onmoontlike reg: ek ontwikkel buitengewone goeie verhoudings met beide my ouers. Toe ek oud genoeg word om dit te besef, kom ek agter dat ek my pa om my pinkie kan draai en dat ek regtig sy hart se punt is. Ek sê dit sonder bybedoelings en snaaksighede, dit is maar net ‘n feit.

Selfs deur my tienerjare fliek ek en my pa nog gereeld saam en as hy iewers heen gaan, gaan ek saam. Reg deur universiteit kom ek terug van klasse af en ek, ma en pa drink saam tee. Liefie se koms verander niks nie en ek en Pa bou voort op ons verhouding. Ek kom later agter hy begin effens onttrek en neem dit nie meer as vanselfsprekend aan dat ek saammet hom iewers heen sal gaan nie. Hy maak keuses sonder om my te raadpleeg.

Nadat my pa behoorlik aftree en see toe trek en ek in my eie plek intrek is dinge nie meer dieselfde nie. Ek weet nie of dit is omdat ek hom nie elke dag sien nie en of hy maar net besef het dat sy tyd as die “man in my lewe” gekom en gegaan het nie, maar somehow is ek nie meer “daddy’s little girl” nie. Dis seker ‘n kinderagtige gedagte van my kant af, maar ek is wragtag jaloers op my broer se dogtertjie, want in haar verhouding met oupa, sien ek dit wat ons eens op ‘n tyd gehad het.

Wat is die dinamiek van ‘n pa/dogter verhouding? Kan dit dieselfde bly nadat die dogter ‘n lewensmaat gekies het? Ek is half hartseer, maar ek kan nie my vinger plaas op dit wat ek verloor het nie.

Veels geluk met Pa se verjaarsdag.





My eerste dae terug

27 07 2008

Dit voel asof ek nooit weg was nie. Dis fantasties om terug te wees, maar net so woep-waps is ek weer in my ou/nuwe lewe teruggesuig.

Ek het die laaste paar dae ‘n klompie karre op toetsritte geneem en ek kan net my kop oor manlike verkoopspersoneel skud. Ek loop by die handelaar in, ek sê ek wil ‘n kar koop en wat ek kan bekostig. Liefie staan langs my en sê nie ‘n woord nie. Die verkoopsman stel homself aan Liefie voor en ignoreer my. Liefie word ingelig oor torque en kilowatts en petrolverbruik en enjin grootte. Die kontrole vir die radio op die stuurwiel en die grootte van die kattebak word aan my uitgewys. Een ou het so ver gegaan as om te sê die agtersitplek is groot genoeg vir kinderstoeltjies! Almal wys vir my die kleure waarin die kar kom en lyk dan verbaas as ek oor diensplanne en waarborge vra. Poepholle.

Ek en Liefie slaap weer knus in ‘n dubbelbed na ons aan ‘n king in Stockholm gewoond geraak het. Ek kan nie sê dis aangenaam nie en ons container beter vinnig opdaag! Ek is nie gewoond aan die koudkry binne die huis nie en my vel is erg droog van die Johannesburg lug. Verder is ek stokflou en is teen 9 uur elke aand in die bed. Ek vat maar alles stap-vir-stap en probeer om nie oorweldig te voel nie. Vrydag begin ek weer werk en ek weet nie mooi hoe dit gaan verloop nie!

Dit het ook nou onder my aandag gekom dat ‘n groot gedeelte van ons trougaste nie hulle uitnodigings ontvang het nie, want die Poskantoor dink duidelik nie dis belangrik om briewe af te lewer nie. My ma, broer en nog ‘n vriend van my bly almal in dieselfde dorp en nie een het ‘n kaartjie gekry nie. Verder het sommige van die Kaapse gaste kaartjies gekry, maar nie almal nie. Port Elizabeth is ook ‘n kaartjie-loos. Snaaks genoeg is posaflewering in Nylstroom, De Aar, Hannover, Oudtshoorn en Addo nie geraak nie. Al die oorsese gaste het ook hulle kaartjies gekry, so dis nie Sweedse pos se skuld nie. My probleem is nou dat ek nie genoeg ekstra kaartjies het nie, aangesien ek nie verwag het om omtrent al my kaartjies weer te pos nie en siende dat ek die kaartjies in Stockholm gemaak het, ek nie meer kaartjies kan maak nie, omdat ek nie die fisiese papier en ander goed het nie. Sal maar vir die mense met wie ek op ‘n baie gemaklike voet is vra om hulle kaartjies te skenk sodat ek dit sodoende kan “recycle” aan die ander gaste. My pa het vas geglo hy’s nie uitgenooi nie!

Die koraalboom in my tuin begin sy eerste rooi blomme uitstoot en ek’s verskriklik bly om terug in Suid-Afrika te wees.





Finish en klaar.

22 07 2008

My laaste blog uit Stockholm uit. Dit voel vreemd om te dink ek vlieg môre weg. Sê net so totsiens vir ‘n lewe wat nie meer gaan wees nie.

Ek het vanaand gemengde gevoelens. Ek praat vroeër met my ma en sy vertel my van vriende van ons wat met ‘n wapen aangehou is in ‘n winkel omdat die boewe vas geglo het die oom is die eienaar van die winkel (hy was net ‘n klant). Ek lees van ander bloggers wat hulle goedjies gaan pak en die teenoorgestelde roete as myne gaan volg. Land-uit. Ek lees dat 18% van huise wat deur wit mense besit word in die mark is omdat die eienaars die land verlaat. En ek pak my goedjies en vlieg met ‘n spoed land in . En ek is nog opgewonde daaroor ook. Ek wil nie teleurgestel word nie.

Op ‘n prettiger noot kry die “wat gaan ons eerste eet?” speletjie wat ek en Liefie al vir 15 maande lank speel nou momentum. Ek dink die wenners is braaivleis en biltong. Dis ook vir ons goed dat die twee gekombineer kan word. Ek het ook ‘n kaas-en-tamatie broodjie op Albany witbrood op my lysie. Ek weet die brood is wind en bevat geen voedingswaarde nie, maar teen die brood wat mens hier op die rakke vind en wat altyd ten minste twee dae oud is, gaan daai Albany sagte-sagte-sagte brood uit die boonste rakke wees.

‘n Paar ander gedagtes:

1.Ek het nogsteeds nie my “by-line” of watookal mens dit noem verander nie en die “Sweedse stories en ander nonsens” is na vanaand nie meer van toepassing nie. Help!
2. Is dit ‘n natuurlike effek van vlieg dat mens heeldag “Leaving on a jet plane” sing?
3. Gaan ek onthou om ‘n kar te bestuur?
4. Ek wonder of ek môre gaan huil?
5. Hoe gaan ek oorleef sonder onbeperkte internet teen ‘n stink spoed?
6. Gaan my sussie toelaat dat ek by haar blog?
7. Waaroor gaan ek van nou af blog?

Ek mag dalk vir ‘n paar dae stil wees – my to-do lysie is langer as lank en Liefie is nogal ‘n slawedrywer as hy die dag wil en ek is nie seker oor waar ek my volgende internet fix vandaan gaan kry nie, dink maar aan my!

Sweedse groete (vir ‘n laaste keer!!)

Hej då! :)

(ek is oorstelp van opgewondenheid!)





Die Skim is terug.

21 07 2008

Ek is terug!

Ek is ook vreeslik jammer dat ek net soos ‘n dief in die nag verdwyn het, maar ek het op die laaste nippertjie besluit om nie my rekenaar in te pak nie en die outjie by wie ons gebly het kon nie sy wireless network se wagwoord onthou nie en en en…

Duitsland was fantasties. Ons is flou gekuier! Ons gasheer is ‘n regte dinamo en sy energie ken geen perke nie. Hy het selfs 2 groot verrassings vir ons gereël en dit het tot gevolg gehad dat ‘n ander vriend van Frankfurt af gekom het vir ‘n aandete in Stuttgart en 2 ander vriende van Berlyn gekom het vir die naweek. Ons het omtrent gekuier! Ek het veels te veel geëet en kan eerlik sê dat ek nie baie vinnig weer duitse spesialiteite wil sien nie! Ek het ook my deel gedoen vir die duitse bierbedryf.

Nog iets fantasties in my lewe – Ons het ‘n vroeër vlug terug Suid-Afrika toe gekry! Ons vlieg Woensdagaand. Ek is omtrent uit my vel uit!





Wat pas nie?

10 07 2008

Terug by die huis! Hoe presies ek ‘n tydelike woonstel met 3 tasse as my aardse besittings as “huis” ervaar, weet net ek. Dis seker maar omdat ek terug is in Stockholm. Of omdat daar ‘n bad is.

Ons huur tans ‘n woonstel wat aan Liefie se werk behoort en aangesien ons eintlik net so 7 dae aan en af nog in Stockholm gaan slaap werk dit goed en goedkoper uit as ‘n hotel. Toe ons uiteindelik vanaand hier aangeland het van die lughawe af het ons vinnig gaan kos koop sodat ek darem iets vir aandete aanmekaar kon slaan. Toe ek begin rondsoek in die kombuis vir goed, slaan een van my snaakse maniere deur. Die kaste is nie na my sin ingerig nie en ek moes myself dwing om eers klaar te kook voor ek die kaste begin regpak het. Hoekom ek omgee hoe iets lyk waarin ek eintlik geen belang het nie, weet ek nie, maar dit moes net reg.

Ek is die tipe wat in Pick ‘n Pay die verlore blikkie groente wat iemand iewers anders gelos het terugneem na die regte rak toe. In Look & Listen groepeer ek die DVD’s sodat dieselfde titels bymekaar is. Ek kan myself nie keer nie. Dis onwillekeurig, as ek myself kry sorteer ek goed uit. Liefie gluur my al aan en dan doen ek dit as hy sy kop wegdraai. As daar ‘n rooi pen tussen die swart penne in CNA lê haal ek dit uit en sit dit by die swart penne. Dieselfde met Hallmark kaartjies, as ek ‘n verjaardagkaartjie onder die “Innige simpatie” afdeling sien wil ek omtrent crack. Ek skei die wit- en bruinsuiker pakkies in koffiewinkels, want ek hou nie daarvan as dit gemeng is nie. (Ek drink nie eens suiker in my koffie of tee nie!).

Ek weet nie wat ek groepeer en wat nie. Al my broeke hang byvoorbeeld nie langs mekaar in my klerekas nie, maar hemde, toppies en t-shirts is netjies gegroepeer. Handsakke is nie volgens kleur nie, maar volgens grootte. My CD’s is nie alfabeties of volgens genre nie, hulle val maar net waar hulle val.

My “maniertjie” pla my nou…





Daai gevoel

8 07 2008

Toe ek nog op universiteit was, was daar altyd ‘n tyd in die jaar, so skuins voor jaar eind eksamens begin het, wanneer daar iets in die lug en die gevoel van die stad was en ek het dit altyd vir myself beskryf as dit voel soos somer. Dit kon miskien ‘n liedjie op die radio gewees het of ‘n spesifieke manier hoe die son geval het wat my laat opmerk het dat dit soos somer voel, maar na ek daai eerste “gevoel” gekry het, was alles vir my sommer net reg.

Ons het vandag by talle klein kusdorpies ingery. Die strande is kalm en die kinders baljaar rond en die ou tannies is (ongelukkig) in hulle bikinis. Oral eet mense roomys en op die horison is seilbootjies sigbaar. Die huise se tuine is mooi versorg en daar’s ‘n algemene gevoel van vakansie. Daar was toe ‘n gegrom van donderweer en so ‘n jakkals trou met wolf se vrou reënbuitjie wat uitgesak het en toe ek die reën ruik, toe voel dit vir my soos somer. Ek het al vantevore opgemerk dat die brein en sy truuks my altyd onkant vang, maar dat ek eintlik net vir ‘n donderstorm gewag het om die somer te “aanvaar” bewys net weer my punt.

Dis vir my vreemd om somer sonder Kersfees te hê. Dis my tweede somer in die Noordelike halfrond en dit voel net nie vir my asof dit “my” somer is nie. Die Swede voel seker so oor ‘n Kersfees met baie son. Mens raak so geheg aan dit waaraan jy gewoond is.

Ek begin nou kriewelrig raak vir ‘n regte huis. Dit gebeur altyd met my nadat ek vir ‘n ruk gereis het, veral as ons baie rondbeweeg. Ek voel soos ‘n skurk omdat ek nie vanaand in die stad rondstap nie, maar ek vat vir eers ‘n blaaskansie.





Oor volkshelde en koringlande

8 07 2008

Ons is in die Skåne provinsie van Swede. Dis ‘n pragtige provinsie met die mooiste landskap. Die lande vol goue koring langs die blou see is te pragtig. In die middel van die rollende heuwels is daar nog groot bome en as afwisseling blom die aartappels spierwit teen die groen blare. Die koringlande het ook rooi poppies al langs die grense af en al die kleurskakerings is soos ‘n skildery. Daar’s padstalletjies wat vars aarbeie verkoop en die algemene gevoel van die area is net een van rustigheid en vrede.

Toe ek klein was, was daar ‘n paar tv programme wat hoog op my prioriteitslys was. Die een was Dawie die Kabouter en die ander was Nils Holgerson. Nils Holgerson se tuisprovinsie was Skåne. Die vlae by toeriste informasie punte wys dan ook die prentjie van Nils op die gans se rug. Swede se 20 kroon noot het ook vir Nils op. (Duidelik ‘n volksheld!).

Die wysie van die liedjie is ook al heeldag in my kop, maar ek kan tot die dood toe nie enige van die woorde onthou nie! Help! Dit pla my vreeslik! Ek het op youtube gaan loer, maar kry net die Nederlandse weergawe.

Ons het vanaand by vriende gaan eet en siende dat Liefie moes bestuur en die reëls baie streng in Swede is, kon hy glad nie iets drink nie. Ek word toe aangesê om sy kwota ook te drink. Ek sê maar net “hmm”. Môre oggend sal ek seker “grr” sê.

Ons ry môre al langs die weskus van Swede, op na Göteborg (Gothenburg) toe. Ek het visies van wit strande en palm bome. A girl can dream!





Die kamer wat ons ontwyk het

6 07 2008

Na ‘n 5 uur vertraging in ons vlug het ons skuins voor middernag in Kopenhagen aangekom. Ons het gelukkig ‘n hotel naby die hoofstasie bespreek en het nie baie gesukkel om dit te vind nie.

Kamer 034 is aan ons toegeken. Die grondvloer hou op by kamer 031. Die eerste vloer se kamers begin (duidelik) met 1. Terug ontvangs toe. Die ontvangs dame kan ook nie kamer 034 opspoor nie. Nooit ‘n goeie teken as die hotel personeel self nie ‘n kamer kan opspoor nie. Ons sleep ons tasse op en af in verskeie gange en ek raak meer en meer bedonnerd. Kamer 034 is op die eerste vloer, maar nie regtig nie, aangesien mens by ‘n (ongemerkte) stel trappe moet afloop en dan ‘n geheime (ongemerkte) deur moet oopmaak en dan kom mens by kamers 033-036 uit. Ek voel jammer vir die ou wat 032 vir homself gewen het, want daai kamer bestaan nie, tensy dit ‘n Harry Potter kamer is en mens net deur die muur moet loop om daarby uit te kom.

Kamer 034 is in die kelder. Die kamer het nie ‘n nommer op nie, maar ‘n stukkie papier op die rekenaar uitgedruk en met prestick op die deur vasgeplak. Kamer 034 se vensters maak nie behoorlik toe nie, want nie ‘n probleem is op ‘n warm aand soos gisteraand nie, maar wel ‘n probleem is as jou naaste bure ‘n stripclub is. Kamer 034 het ‘n bad.

Ek en Liefie besluit gesamentlik dat al die baddens in die wêreld nie kan opmaak vir die ligging van kamer 034 nie. Ons word verplaas na 221. Heel skaflik.

Ons begin ons oggend met my nuutste missie. Ek wil ‘n appel Danish in Kopenhagen eet. Dis vir my soortgelyk daaraan as om ‘n croissant in Parys te wil eet. Kan julle glo? Nie ‘n enkele appel Danish te vinde nie. Waar kom Suid-Afrika dan aan die naam? Vreemd.

Dit was ‘n verskriklike warm dag hier en ek het ‘n lekker tan gekry. Na meer as ‘n jaar in Stockholm is ek nie meer gewoond aan hitte nie. ‘n Goeie dag in Stockholm is so 24 grade, met ‘n effense bries. Vandag was baie warmer hier en die Netjane-Liefie span het hulself gereeld op parkbankies in die skaduwee bevind.

Ek het ‘n idee gehad dat Kopenhagen en Stockholm baie dieselfde gaan wees, maar ek kon nie meer verkeerd gewees het nie. Beide is stede met baie water, maar Kopenhagen voel vir my soveel groter en besiger. Amper asof Stockholm provinsiaal in vergelyking is.

Môre, so laatmiddag se kant, sal ons die trein van Kopenhagen na Malmö in Swede toe neem. Dit vat so 35 minute en ek is baie opgewonde om die brug tussen die twee te sien. Daarna pak ons die suid en weskus van Swede aan en ek hoop vir goeie weer, aangesien die kus die “riviera” van die Noorde is…





Ysland dag 6 (3 Julie) en FOTO’s!

4 07 2008

Môre vlieg ons Kopenhagen toe. Ek weet nie of ek opgewonde is nie, maar ek is seker dat ek nou gatvol is vir Ysland. Dis seker onregverdig om te sê, maar die weer was te goor vir een mens om te verdra!

Ons het nie vandag te veel gedoen nie, meestal net leeg gelê en darem een of twee toeriste goed gesien.

Vir die wat aanhou kerm vir foto’s – julle weet wie julle is – without further ado, I present to you: