NetLiefde

9 06 2008

Liefde is in die lug op die blogs, al is dit in die middel van Junie.

Pikkie het vertel van haar kerk romanse in Amsterdam en Reisiger het vertel hoe die rooi karre amper by mekaar verbygery het, maar gelukkig is daar ‘n plan gemaak en ek is getag om te vertel hoe ek en Liefie ontmoet het, al is dit nog nie heeltemal ‘n trou storie nie, maar darem amper!

In my eerstejaar op Universiteit oorreed my broer (9 jaar ouer as ek) my op met hom te chat op die Internet chat program ICQ. (Spreek dit mooi uit: I-seek-you). Ek dink eers alle internet chatters is freaks, want op daai stadium is dit nog die algemene gevoel, ek dink baie mense dink nogsteeds so en sluit waarskynlik bloggers onder die beskrywing in! Ek en boeta chat. Ek kom toe af op die “find random friend” knoppie en druk dit. Allerhande profiles kom op en jy kan kies met wie jy wil chat. Ek chat met ‘n Australianer en ‘n Kanadees. Ons is nogsteeds vriende.

Een aand laat pop daar ‘n boksie op: “Hallo!”. Ek was omtrent al oppad bed toe en is moeg en het die volgende oggende een van RAU se belaglike 07:30 klasse gehad en ek wik en weeg of ek moet antwoord. Ek ken nie die mens nie, daar’s min informasie in sy profile en dis tog net ‘n hallo. Ek antwoord toe maar terug en sê toe sommer ook dadelik ek’s moeg. Volgende dae gaan verby.

Toe ek weer oplog is die “hallo!” terug. En ons chat. Vir ure, dae, naweke, weke, maande. Oor alles. As my ma in die aande na 7 haar langafstand oproepe na haar susters toe maak sit ek en groot oë maak vir haar, want ek wil oplyn gaan! Niemand kom deur na die Netjane familie toe nie, die lyn is pal beset. Almal kry snuf in die neus, maar ek bevestig niks. My vingers vlieg oor de keyboard soos ‘n wafferse tikster, my studies kry ‘n ernstige back-seat en ek wag net vir die een naam om op my skerm te verskyn. Ek oortuig myself natuurlik dis niks nie… Eendag gee hy sy selfoonnommer en sê ek kan hom bel, maar net as ek wil. Weke gaan verby, met die selfoonnommer wat vir my staar. Ons chat nogsteeds op ICQ. Ek bel hom toe, hart woes aan die klop, en toe is die koeël deur die kerk. Sy stem! (jellie knieë!). Onthou dat ons nog nie foto’s uitgeruil het nie en eintlik glad nie weet hoe die ander lyk nie…

In April van my tweede jaar op Universiteit ontmoet ons vir koffie in Melville. Niks corny soos “ek sal die een met die rooi roos wees” nie. Ons het in September begin chat. Toe is die kalf in die put en sommer vir good measure die gort ook gaar. Ons is elke naweek bymekaar, kyk dieselfde flieks, hou van dieselfde goed, die lys hou net aan. Perfekte match. Maar ons is (en dis die offisiële standpunt wat ons handhaaf) net vriende. Op 25 Augustus 2001 soen hy my. Amper ‘n jaar nadat ons vir die eerste keer gechat het. (Fireworks!)

Op 25 Februarie 2007 raak ons verloof. Op 11 Oktober 2008 trou ons.

As mense ons vra hoe ons ontmoet het sê die een altyd om die ander een te vra, dan kyk ons na mekaar en sê met reguit gesigte: “In a coffeeshop in Melville” voor ons uitbars van die lag.

Toe die Finkelstiens later met hierdie liedjie vorendag kom om die Suid-Afrikaanse weergawe van ICQ, naamlik QQ te bemark, het ek presies geweet waaroor hulle sing, want dit was asof hulle oor my sing…

Ek tag vir Emil, Roer , René  en my Sussie om bietjie hulle liefdesverhale te vertel!


Aksies

Information

15 responses

9 06 2008
Pikkelik

Netjane, dis nou wat ek romanties noem! ‘n Baie moderne romanse… :lol: Ek’s mal daaroor!

9 06 2008
Adrie

Nice!!!

Ek het ook eenslag gewaag om ‘n ou van mxit te ontmoet. Ek wonder nog altyd of dit nie ‘n fout was nie. Never again.

9 06 2008
René

Ag dis nou sweet! :)

Ek aanvaar jou tag! Watch my space!! :mrgreen:

9 06 2008
Dellie

Mooi storie. Ek het al horror stories gehoor oor mense wat mekaar op die net ontmoet. Gelukkig is joune toe ‘n sprokie! :wink:

9 06 2008
Jaco

Sweet. :) Ek hou van happy endings.
En dan trou julle nog op die beste dag in Oktober :wink:

9 06 2008
reisiger

Baie romanties! Laat my dink aan die fliek “You’ve got mail!” :-)

9 06 2008
Wipneus!

Ja Reisiger ek het ook dadelik aan daardie fliek gedink, ons eie Meg Ryan hier op die blogs! :)

10 06 2008
maeree

cool!
ek het ook in my dae ge-icq … ongelukkig was die opsie ver oor die water.

10 06 2008
Roer

Ta. Ek’s deur Reisiger ook getag. Sal so gou moontlik daarby probeer uit kom. Julle het nogal ‘n unieke storie. Baie mooi.

10 06 2008
Da Mario

Gelukkig het hy nie uitgedraai om iemand te wees met te veel yskas spasie en ‘n begeerte om jou ooglede met superglue aan mekaar vas te plak nie… :lol:

10 06 2008
Ons storie « kruidjie-roer-my-nie

[...] Reisiger en NetJane het my [...]

10 06 2008
TristonJ

Ag sweet… so dalk is my ure op skype nie n total waits nie :wink:

13 06 2008
Die week in ‘n neutedop…. « Demoerin’s Klasak

[...] as hy op daaglikse basis die liefdessprokies van die ander prinsesse in die globale sprokie raaklees. Verhale kan soms in snaakse plekke afspeel, selfs in die woestyn of in Amsterdam (nie [...]

13 06 2008
Natasja

Om vir so lank vriende te wees en net te kan gesels is’n wenresep vir ‘n goeie huwelik. Vra my. Ek is al 6.5 jaar getroud en het my man ook in ‘n chat room ontmoet. Nogal Gesêlshoekie op Mweb (bestaan dit nog?!). Hier’s ons storie:

http://johanandnatasja.blogspot.com/2007/05/129-n-ware-sprokiesverhaal.html

17 06 2008
A Different View of Reality » Twee kastele, die Kaptein en ‘n fee

[...] vir Rene en Netjane dat ek so bietjie met die herhinneringe kan [...]

Lewer kommentaar