Liefde is in die lug op die blogs, al is dit in die middel van Junie.
Pikkie het vertel van haar kerk romanse in Amsterdam en Reisiger het vertel hoe die rooi karre amper by mekaar verbygery het, maar gelukkig is daar ‘n plan gemaak en ek is getag om te vertel hoe ek en Liefie ontmoet het, al is dit nog nie heeltemal ‘n trou storie nie, maar darem amper!
In my eerstejaar op Universiteit oorreed my broer (9 jaar ouer as ek) my op met hom te chat op die Internet chat program ICQ. (Spreek dit mooi uit: I-seek-you). Ek dink eers alle internet chatters is freaks, want op daai stadium is dit nog die algemene gevoel, ek dink baie mense dink nogsteeds so en sluit waarskynlik bloggers onder die beskrywing in! Ek en boeta chat. Ek kom toe af op die “find random friend” knoppie en druk dit. Allerhande profiles kom op en jy kan kies met wie jy wil chat. Ek chat met ‘n Australianer en ‘n Kanadees. Ons is nogsteeds vriende.
Een aand laat pop daar ‘n boksie op: “Hallo!”. Ek was omtrent al oppad bed toe en is moeg en het die volgende oggende een van RAU se belaglike 07:30 klasse gehad en ek wik en weeg of ek moet antwoord. Ek ken nie die mens nie, daar’s min informasie in sy profile en dis tog net ‘n hallo. Ek antwoord toe maar terug en sê toe sommer ook dadelik ek’s moeg. Volgende dae gaan verby.
Toe ek weer oplog is die “hallo!” terug. En ons chat. Vir ure, dae, naweke, weke, maande. Oor alles. As my ma in die aande na 7 haar langafstand oproepe na haar susters toe maak sit ek en groot oë maak vir haar, want ek wil oplyn gaan! Niemand kom deur na die Netjane familie toe nie, die lyn is pal beset. Almal kry snuf in die neus, maar ek bevestig niks. My vingers vlieg oor de keyboard soos ‘n wafferse tikster, my studies kry ‘n ernstige back-seat en ek wag net vir die een naam om op my skerm te verskyn. Ek oortuig myself natuurlik dis niks nie… Eendag gee hy sy selfoonnommer en sê ek kan hom bel, maar net as ek wil. Weke gaan verby, met die selfoonnommer wat vir my staar. Ons chat nogsteeds op ICQ. Ek bel hom toe, hart woes aan die klop, en toe is die koeël deur die kerk. Sy stem! (jellie knieë!). Onthou dat ons nog nie foto’s uitgeruil het nie en eintlik glad nie weet hoe die ander lyk nie…
In April van my tweede jaar op Universiteit ontmoet ons vir koffie in Melville. Niks corny soos “ek sal die een met die rooi roos wees” nie. Ons het in September begin chat. Toe is die kalf in die put en sommer vir good measure die gort ook gaar. Ons is elke naweek bymekaar, kyk dieselfde flieks, hou van dieselfde goed, die lys hou net aan. Perfekte match. Maar ons is (en dis die offisiële standpunt wat ons handhaaf) net vriende. Op 25 Augustus 2001 soen hy my. Amper ‘n jaar nadat ons vir die eerste keer gechat het. (Fireworks!)
Op 25 Februarie 2007 raak ons verloof. Op 11 Oktober 2008 trou ons.
As mense ons vra hoe ons ontmoet het sê die een altyd om die ander een te vra, dan kyk ons na mekaar en sê met reguit gesigte: “In a coffeeshop in Melville” voor ons uitbars van die lag.
Toe die Finkelstiens later met hierdie liedjie vorendag kom om die Suid-Afrikaanse weergawe van ICQ, naamlik QQ te bemark, het ek presies geweet waaroor hulle sing, want dit was asof hulle oor my sing…
Ek tag vir Emil, Roer , René en my Sussie om bietjie hulle liefdesverhale te vertel!
