So elke nou en dan tref dit my dat ek eintlik binnekort trou en dan skrik ek wakker en trek my leêr en to-do list nader en raak beangs en spring dan aan die werk vir so ‘n uur of twee, net om weer oor twee weke die oefening te herhaal.
Vanoggend was so ‘n oggend waar ek wakker geskrik het, besef het ek het eintlik nog niks gedoen behalwe om vir myself ‘n trourok te organise nie (die bruid moet mos met haarself begin!) en het toe maar iets op die to-do list gekies om af te handel. En as ek sê afhandel, meen ek op die NJ manier, waarvolgens die item oor gedink word, ‘n antwoord gekry word en die antwoord nie noodwendig uitgevoer word nie…
In elk geval, ek sit nou al ‘n geruime tydjie met ons spyskaart en die wynlys van die onthaalplek. Ek is gelukkig met die spyskaart en dis darem iets wat afgemerk kan word as ten volle gedoen, maar die wynlys, o hel!
Ek drink nie. By enige wynproe of toer is ek die aangewese bestuurder. Dis maar net ‘n smaak wat ek nog nooit aangeleer het nie, en ek voel buitendien vreeslik vrot die volgende dag, of ek nou een slukkie of ‘n bottel drink, nou los ek dit maar. Dis vir Liefie swaar dat ek nie wyn drink nie, want dit beteken hy moet alleen sy bottels opdrink…
Waar begin ek met wyn kies? Ek het die heel oggend spandeer om vergelykende pryse vir die wyne op die lys bymekaar te kry en selfs met die corkage wat die venue vra is dit meestal nogsteeds goedkoper om die wyn in te koop. Makro lyk vir my het die beste pryse en ‘n groot verskeidenheid.
Ek gee nie om wat die “nose” of “volume” van die wyn is nie. Die “hints of dark berries, warm chocolate, roasted mocha and exotic spice flavours” beteken vir my net mooi niks nie. So hoe kies mens wyn vir ‘n troue?
Liefie hou nie van detail nie, hy verwag ‘n kortlys van my af, gebasseer op ons budget waarskynlik, maar ek sal wyn kies op die mooiste etiket! Ek verstaan die wyn moet by die kos pas, maar baie goed pas mos by baie kos. Daar’s seker ook sekere tipes wyn wat meer geskik is vir ‘n troue met middagete, soos ons s’n, as ander. En gaan mens vir baie van dieselfde tipe wyn, of ‘n groter verskeidenheid? Ons het eintlik maar ‘n klein troue, nie meer as 70 mense nie. Is ‘n duur wyn noodwendig beter? Is ‘n goedkoper wyn noodwendig sleg? Mens kan ook nie net iets kies omdat jy daarvan hou nie, smake verskil, so op ‘n troue moet mens seker meer “middle of the road” wyne kies. Is daar so iets?
Is die beste oplossing maar om ‘n redelike wynlys te hê vir ‘n verskeidenheid van smake en dat die mense self kies eerder as om die standaard wit en rooi reeds op die tafels te hê?
En moet ek dringend die John Platter guide begin lees?
Help!
