Ek het vanoggend heeltemal verslaap (11 uur is darem bietjie erg vir ‘n weeksoggend) en my hare staan in wilde rigtings. Vir my om so te slaap dat my hare in windrigtings staan is ‘n nogal iets om te bereik. Dis alweer Maandag oggend. Ek weet nie wat laasweek gebeur het nie. Ek het werk om te doen en take om te verrig, maar ek wil nie. My hart is swaar. Ek is moeg daarvoor om in hierdie limbo-fase van “ek is amper by die huis” te wees.
My brein kan altyd vir myself mooi die goed uitdink en verduidelik. Ek weet ek kan nie ophou lewe hier in Stockholm net omdat ek amper hier moet weggaan nie. Ek weet ek moet nogsteeds kos koop en huis skoonmaak en dat ek maar mag uitgaan vir koffie en koek. Ek mag maar dink aan goed wat na die trek gaan gebeur, maar in my hart is daar hierdie groot gebeurtenis om eers agter die rug te kry voor ek hoegenaamd kan aangaan met iets anders. 27 Junie word ons goed gepak. Dis totaal en al belaglik, ek weet, maar ek weet nie hoe om verby dit te kyk nie.
Ek verstaan dat ek seker op een of ander vlak ‘n groot vrees het om terug te gaan Johannesburg toe. Ek weet ek het in my tyd weg verander. Ek weet die mense wat agtergebly het het ook verander, lewens kan nie stilstaan nie. Dit voel vir my of ek ‘n karretjie is wat in ‘n baan vinnig bewegende verkeer moet inskiet, die ander karre gaan nie stop net omdat ek terug is nie.
Intussen het ek baie lief geword vir Stockholm, ek en Liefie het vir onsself ‘n routine en ‘n ritme opgebou wat vreeslik lekker is. Ons verhouding met mekaar het selfsugtig geword, want ons het eintlik maar net mekaar gehad. Ons belowe daagliks vir mekaar dat soos ons nou is werkbaar is in Johannesburg, maar ek weet dit kan nie dieselfde wees nie. Ons het nou ‘n kokon van saamwees. Geen regte verantwoordelikhede nie, behalwe dat Liefie moet gaan werk. Ons loop lang ente saam langs die water in Stockholm, ons lê leeg in die parke, ons is veilig. Ons moes maniere vind om onsself besig te hou, want daar is nie iets “ready-made” nie. In Johannesburg sal ons gaan fliek. Hier is dit te duur. In Johannesburg sal ons boeke deurblaai by Exclusive Books en koffie drink by Seattle, hier bestaan die begrip van boeklees & koffiewinkel nie. In Johannesburg kuier ek by my vriende en suster, hier kuier ons met mekaar of by vriende. In Johannesburg ry ons en koop kos by Woolworths of Pick ‘n Pay, hier stap ons supermark toe. In Johannesburg het ons weer regte lewens, dit voel vir my of die tyd in Stockholm net speel-speel was.
Ek weet ek het iets groot gedoen deur in te stem om Stockholm toe te kom, alles wat vir my bekend is te los en ‘n sukses van die tyd hier te maak. Ek is trots op myself. In ons tyd hier het ons baie gesê “as ons terug is by die huis….” en ek dink ons het Johannesburg begin ophemel. Dis goedkoper, die mense is vriendeliker, die weer is beter, ons het weer ons huis en ons goed, ons gaan ‘n groot verskeidenheid van keuse hê… Ek is bly om weer te kan werk en om weer daai verantwoordelikheid te kan opneem, maar wat as ons terug is en dis nie lekker nie?
Ek voel soos so ‘n bangbroek vanoggend en dis nie eintlik hoe ek is nie.
