Ek en Liefie is nogal knaphande as dit nou by “home renovations” en so aan kom. Eintlik seker meer Liefie as ek, maar wat is ‘n man sonder die vrou wat sy hamer vir hom aangee? Ek het in ‘n huis grootgeword waar my ma iemand gebel het as iets fout was. So het dit dan ook gebeur dat die skottelgoedwasser tegnikus gereeld uitgeroep is vir olyfpitte in die filter. Geen kans dat pa net gou kan kyk of dit nie iets is wat hy kan regmaak nie. Eerstens, my pa is nie juis ‘n handyman se gat nie en tweedens, my ma is nie ‘n vrou wat tyd het vir “ek sal sien” nie. As sy die oggend so sit met haar koppie tee in die een hand en die Geelbladsye in die ander dan moes ons geweet het iets is aan die gebeur. Die enigste ding wat sy selfs gedoen het is om haar skilderye, borde en ander prente op te hang. Ek dink sy’t aandele in Hilti. Sondagoggende voor kerk het ons wakkergeword met die kap-kap-kap van die hamer en dan my ma se voete op en af by die leer om te sien of die ding net reg hang. (Sy wag altyd totdat my pa slaap of golf speel, hy bulder gereeld die huis gaan inmekaar val soos sy gate kap) Vir swaarder goed soos spieëls het sy gewoonlik ‘n ou afgetrede omie gebel en die het hemel en aarde versit net om vir Christa te kan help. (Mammie is vreeslik charming…). Nadat Liefie op die “scene” verskyn het en ek leer boor het (ek gaan daai sin nie eers probeer verduidelik nie) was Mammie vreeslik bly, want toe kon ek sommer vir haar haar goed ophang. Die ou omies het baie meer gereeld koffie en koekies gekry as ek….
Toe ek vir Liefie ontmoet het was ek verbaas oor die hoeveelheid gereedskap wat daar in die wêreld is. Daar is masjiene vir goed wat ek nie eers geweet het mense sal wil doen nie. Nie lank nie of Liefie koop ‘n duplex en Janey word verhef tot assistent. Nou enige iemand wat ‘n assistent is weet dis eintlik net ‘n man se manier om jou te laat belangrik voel, maar eintlik is hy te lui om elke keer van die leer af te klim om iets nuuts te kry en dis makliker om op die assistent te skree vir die verkeerde skroewedraaier as op homself. (Net vir ingeval hy hier lees: Liefie skree darem nooit nie) Ek en Liefie pak daai duplex aan met mag en mening en die ding lyk na ons renovations pragtig. Toe ons net mooi klaar is trek ons uit, want ons het ‘n huis gekoop. Die huurder geniet ons pragtige plek!
Met die dat ons in die huis intrek maak ek ‘n belofte dat ek nie weer gaan DIY doen nie. Daai belofte werk nie mooi uit nie en elke keer wat my ma my op ‘n Saterdag of Sondag oggend bel is ek in Builder’s Warehouse om vinnig ‘n nood skroefie of iets te kry. Soms alleen, soms saammet Liefie. Ek het geweet ek het ‘n laagtepunt in my lewe bereik toe ek in die kar spring en sommer so met my werksklere (die jean met die verf en grout en silicon sealant op en die gat op my gat) Builders Warehouse toe ry. Ons maak die tydelike verbeteringe net mooi klaar of ons kom Swede toe. Die huurder geniet die huis!
In Swede, so vertel ons onsself, kan ons mos onmoontlik iets wil doen of regmaak, want ons besit nie die plek nie. Ons het deure afgehaal om vloei te verbeter, nuwe ligte opgesit, ander gordynstokke en gordyne gehang en die tv drade ge”reroute”.
Ons kry vanoggend ‘n email van ons duplex huurder. Hy trek uit. Nou ons wou nog altyd die vloere in die huis vervang het (as ek sê ons bedoel ek Liefie, hy’t renovation miere) maar ek het gesê dis nie nou die moeite werd om so baie geld op die huis uit te gee en daai gemors te hê nie. Kom ek vanoggend met die idee vorendag (moes seker nog half aan die slaap gewees het) dat ons in die duplex kan intrek terwyl die huis se vloere gedoen word. No mess, no fuss. Ag hel.
