Ek is so_opgewonde_dat_ek_duidelike_spasies_tussen_my_woorde_moet_sit, want anders sal ek nie asemhaal nie.
Ek en Liefie trou in Oktober. (Yay!) Ons het voor ‘n troudatum al die wittebrood begin bespreek. Met die dat ons so mal oor reis is het ons eintlik net die honeymoon as ‘n verskoning vir ‘n moerse vakansie gesien. “Waarheen gaan ons?” vra ek vir Liefie. “Margate toe” spot hy. En toe, sonder om my ‘n oomblik te gee om myself voor te berei kom hy vorendag met “Japan!”. En ons is omtrent beïndruk met onsself. Toe besef ons dis Oktober in die Noordelike halfrond en besluit toe sommer self dit gaan koud wees en skrap net daar die Japan planne. Ons het glad nie ons besluit basseer op enige betroubare informasie nie.
Volgende bestemming is toe Argentinië, met ‘n droom om ‘n draai op die Easter Eilande te gaan maak. Soos dit ons manier is doen is toe ook niks verder om aan die besluit uitvoering te gee nie, maar praat met almal asof ons reeds ons tasse gepak het en heeltemal voorbereid is, meanwhile back at the ranch het ons nie eens vliegkaartjies of ‘n benul wat dit sal kos nie.
Fast forward vandag toe. Ek moet wasgoed en huiswerk doen en dan surf ek moes eers. (En ek praat nou nie van die wasgoedpoeier Surf nie). Ek kyk toe bietjie na vlugte Buenos Aires toe. En as ‘n laaste huldeblyk aan die doodgebore Japanse planne na vlugte soontoe ook. Die eerste paar R40 000 + tariewe wat deurgekom het vir Japan het my nie afgeskrik nie en toe besluit ek Emirates is die antwoord. EN DIT WAS!! R8076 per persoon al die pad tot in Tokyo. Insluitend al die goed wat hulle gewoonlik net in die fine print bysit. Net daar is ek uit my vel uit en ek google toe maar Japan se weer vir Oktober.
En ek kom op hierdie pragtige sinnetjie af:
“Still warm, but not hot and humid anymore, the weather in October is very comfortable for traveling. In northern regions and higher elevations, trees are turning colors.” Net onder die sinnetjie volg ‘n oulike tabel met minimum en maksimum temperature en die minimums lê hier by 15 grade rond en die maksimums by 23 grade.
So ek kan honeymoon hou, in JAPAN en die herfsblare sien. Jackpot.
“Turning Japanese, I think I’m turning Japanese, I really think so…”
