Ek blog omdat dit vir my lekker is. Ek kan nonsens praat nes ek wil en nou en dan lees ‘n handjievol mense dit en as ek die dag gelukkig is kry ek nog kommentaar ook. Ek kan dit wat ek ervaar met ander mense deel en hulle opvattings oor dieselfde saak hoor. Ek kan vir myself dagboek hou. Blog is vir my ‘n social networking medium, ‘n alternatiewe en meer vermaaklike weergawe van Facebook. Ek dink juis dit was op Mnr Muller se blog wat ek die term “Faceblog” raakgelees het.
Tussen al die lekker skryf en lees en kommentaar lewe slaan daar egter elke nou en dan ‘n stukkie blog anxiety deur. Blog blok. Sinne wat nie wil kom nie, of ‘n idee wat daar was met slaaptyd, maar teen die oggend weg is. Ek werk nie vir dae aan posts en skaaf hier en daar soos die tyd aanstap nie. Omdat ek nie oor vreeslike ernstig sake soos wêreldvrede blog nie is dit ook nie eintlik vir my nodig om baie navorsing oor ‘n saak te doen nie. Ek skryf maar net. As ek egter die dag ‘n idee vir ‘n post in my kop gekry het en daaraan begin tik het en die ding dan nie reg wil uitwerk nie, slaan die blog anxiety deur. Sien, my brein haak vas op daai een topic. Of hy nou wil werk of nie. Soos hierdie een…
