Anybody out there?

30 05 2008

Ek lees vanoggend op die CNN webtuiste oor die sogenaamde “Uncontacted tribes” in die Amasone. Daar is bykans 100 van hierdie groepe mense wêreldwyd, waarvan meer as die helfte in die Amasone bly. Hulle het nog nooit met ander mense buiten die van hulle stam in aanraking gekom nie.

Daar’s ‘n organisasie wat spesifiek rekord hou van díe stamme in Brazil en dis ook hulle wat die nuuste foto’s, wat vanuit ‘n klein vliegtuig geneem is, vrygestel het. Daar word blykbaar al vir 20 jaar lank boek gehou oor die stamme. ‘n Woordvoerder van die organisasie dui dan ook aan dat een van die doelstellings van die organisasie is om hierdie mense te beskerm teen kontak van die buitewêreld en teen veral siektes.

Dit was vir my eers vreeslik amazing dat daar nog mense in die wêreld is wat nog nooit met die “regte” wêreld in aanraking was nie. Dis soos ‘n regte time-warp. Die ouens op die foto’s lyk omtrent kaal en staan met hulle pyle en boë reg om die “indringer” vliegtuig te skiet. Dit pla my toe dat hierdie beskermingsorganisasie sê hulle wil die mense beskerm, maar tog met vliegtuie oor hulle blyplek vlieg. Dit pla my ook dat hierdie “uncontacted tribe” al vir ‘n hele lang tydperk vliegtuie sien, maar nog nooit besluit het “right, vandag is die dag,ek gaan oor die rivier loop en die vlieënde ding soek” nie. Hoe moeilik is dit om deesdae ander mense op te spoor? Iewers moet daar tog bosbou bedrywighede of iets wees? Of is hierdie mense net verskrik, en besef hulle dat die vyand sterker as hulle is, so hulle handhaaf maar ‘n lae profiel.

Deur te weet van die mense, maar hulle tog te beskerm voel dit vir my asof mens van hulle sirkusdiere maak. Wie is ons om in te meng? Wie is ons om nie in te meng nie? ‘n Groep kan tog net ontwikkel deur in aanraking met ander, meer ontwikkelde groepe te kom?

En hoe de donner het dit gebeur dat hierdie outjies nog heeltemal gelukkig is om op so basiese manier voortebestaan? En is dit amazing dat die mensdom op daai stadium was en nou is waar ons is, of is dit net hartseer? Want eintlik staan ons nogsteeds reg met ons pyl en boë om indringer vliegtuie af te skiet.

Die wapens is miskien anders en die vliegtuie is miskien nie vliegtuie nie, maar ons skiet nog al die tyd.

 

 

 





Nog ‘n kykie in die verlede

28 05 2008

Lyk my die bloggers is deesdae met die verlede en almal se ouderdomme gepla. Die jongste tag vra vir babafoto’s. Wipneus! het my dan ook getag. Ek kan ongelukkig nie baba foto’s wys nie, aangesien daai foto’s iewers in ‘n boks in Johannesburg lê, maar ek het ‘n laerskool foto hier in Stockholm.

Ek wil ook dieselfde cute/oulik/aah comments hê wat die babafoto’s gekry het!

 

 





Bra slegte ervaring

28 05 2008

Rosa het ‘n ruk terug geblog oor haar stryd om ‘n bra gekoop te kry en ek het lekker saam gelag, maar van lekker lag kom lekker huil né?

Ek is gewoond om by Woolworths in te stap, my grootte te vat en uit te stap. Die bra pas. As dit (miskien) nie pas nie, gaan ruil ek dit later om. Ek dog toe ek sal dieselfde hier in Swede kan doen, darem net een of twee aanpas, agterkom watter winkel werk vir my and Bob’s your uncle. Toe nie.

Sweedse girls het vreeslike klein en petite tieties. Jammer om die manne se fantasieë op te donner, maar dis die waarheid. Hulle is maer en blonde en lank, met vreeslike mooi blou oë, maar hulle tieties is klein. Winkel een (H & M – ‘n baie groot en bekende Sweedse groep) het omtrent net push-up’s. Nou kyk, as ek begin push-up’s dra sal mans nooit ooit weer in my oë kyk nie. Die bra’s wat nie push-up is nie, is maternity bra’s.

Winkel twee het bra’s in meer kleure as wat ek geweet het bestaan. Ek raak opgewonde. Totdat ek agterkom ek moet my grootte in die “Generous” afdeling gaan soek. Toe strip my moer sommer. Iets soos ‘n 46 FF is “Generous”. 36C is nie generous nie. Dis heel normaal. Nog erger is dat mens bra’s in sentimeters hier koop. So die rug groottes klink so groot om mee te begin!  Ek sluk toe maar my moer en kyk deur die “Generous” bra’s en besluit toe ook om ander klere aan te pas.

Ek het niks winter klere in Stockholm gekoop nie, want die modes was too terrible, so ek het seker ‘n jaar laas in ‘n Sweedse aantrekhokkie ingegaan. Met die ingaan onthou ek weer dat die hokkies nie sluit nie. Jy trek die deur toe en hoop vir die beste. Die deure gaan so van jou knieë tot by jou nek, so as jy ‘n lang blonde Sweedse meisie is, steek jou kop bo die deur uit en ander mense kan dus sien daar’s iemand in die hokkie. As jy Jane is, gebeur dit nie. Ek pas my bra’s aan. Daar’s 360 grade spieëls en daai helder beligting wat mens net in aantrekhokkies kry. Dis eintlik onmenslik in ‘n vroue aanpaskamer. Eweskielik verskyn daar ‘n blonde kop bo-oor my deur. Soos ‘n kameelperd wat na weiding soek. “Umm” sê ek, te verskrik om my bates te bedek. Die kop beweeg aan. Dit gebeur ‘n rukkie later weer en toe WEER! ‘n Groot gedeelte van die dames in my buurt weet nou hoe lyk my tieties. Ek het nie ‘n bra in winkel twee gekry nie.

Winkel drie se bra’s is ingevoer van Italië af en ek snak om die R800 te betaal. Ek loop maar aan. Winkel vier het cross-your-heart and hope to die (wat jy sal doen as iemand jou ooit in so lelike bra sien) vir my grootte. Hou verby.

Winkel 5 het mooi klere. Ek begin toe maar klere koop en vergeet heel van die bra’s. Hulle aantrek hokkies sluit ook nie. Ek hang toe maar my nommer buite op die handvatsel en dit het gewerk. Daar’s ook nie aparte hokkies vir mans en vrouens nie. Vreemd.

Met die uitloop kyk ek tog deur die bra’s. Daar’s wragtag bra’s met sulke plastiek opblaassakkies binne-in. Amazing.

 

 





Toebroodjies

26 05 2008

Toe ek in Standerd 2 was is my ma en pa vir 8 weke oorsee. My pa moes in London gaan werk het en daarna het hulle op ‘n uitgebreide Europese toer gegaan.

My suster was in Standerd 9 en my broer was in die weermag. Ek en sussie het babysitters gekry. Die een wat die eerste skof gehad het, het by ons kom inwoon om sodoende my angstigheid te verminder. Vir die tweede skof sou ons na ‘n ander tannie toe gaan en in haar tuinwoonstel bly. Sy’t 4 seuns gehad. Ek het my verbeel hulle gaan my almal so terroriseer soos wat my broer geneig is om te doen.

Die middag voor my ma-hulle gevlieg het is ek omgekoop met ‘n Barbie.

Die tweede babysitter het kom inloer of die eerste babysitter haar werk doen. Tannie nommer twee het gemeen “vrou” nommer een (sy was ongetroud en het ‘n kind gehad, in daai dae ‘n no-no, maar ek het baie van haar gehou) doen nie ‘n goeie job nie en voor jy kon sê “christelike opvoeding” is ek en sussie in die tuinwoonstel. Lank voor ons daar moes wees.

Tannie twee, of haar kombuis regterhand, maak getrou broodjies vir die kinders om skool toe te neem. Nie net twee snye soos ek gewoond is nie, maar vier. Die twee broodjies het verskillende goed op. Daar is ‘n patroon. Of moontlik is patroon nie die regte woord nie, want die broodjies verander nie van dag tot dag nie. Broodjie een: ham, kaas, tamatie, blaarslaai. Met botter. Ek eet nie botter op my brood nie. Ek eet ook nie ham nie, want dis nat. Broodjie twee: kaas en konfyt. Met botter. Ek eet nie botter op my brood nie. Ek eet ook nie kaas en konfyt op een broodjie nie, tensy die broodjie sopas uit die toaster uitgekom het.

Ek bly in ‘n huis wat nie my eie is nie, ek slaap in ‘n bed wat nie my eie is nie, ek kry broodjies waarvan ek nie hou nie, en my ma-hulle kom nie vinnig genoeg huis toe nie. Ek is uiters pligsgetrou, het ‘n groot sin vir verantwoordelikheid en sê vir niemand as daar iets fout is nie. Ek verstaan dis nie goeie maniere om kos weg te gooi nie, maar die kosblik kan nie vol teruggaan kombuis toe nie. Ek eet elke dag my broodjies.

Ek onthou nie baie van daai tydperk nie, maar ek eet deesdae ook nie eens meer kaas en konfyt op toast nie.

 

 

 





Bollywood baby!

23 05 2008

Ek is mal oor reis en hoe meer ek sien, hoe meer wil ek sien. Ek hou omtrent van al die plekke wat ek besoek, sommige meer as ander en neem van elke plek iets besonders weg (al is dit net: “vir jou sien ek nie weer nie, hasta la vista baby!”).

Die een plek wat egter so diep in my hart gekruip het, onder my vel kom sit het en in my siel ronddraai, is Indië. Love it or hate it. Ek dink dis die enigste twee opsies wat daar is vir Indië. Mens kan nie ‘n louwarm gevoel oor die land hê nie. Dis nie ‘n “okay” land nie. Dis ‘n “ek het dit gehaat!” of ‘n “dis fantasties, fabulous, amazing, wow!” land. Ek val in die tweede kategorie. As ek môre ‘n klomp geld wen of vliegkaartjies na enige plek in die wêreld, gaan ek weer Indië toe, al was ek al daar, want ek dink jy kan ‘n hele leeftyd daar spandeer en nogsteeds meer wil sien.

Ek is ‘n regte magpie en enige iets wat blink is vir my fantasties en ‘n absolute moet-hê. Ek is ook mal oor kitch. Enter India. Glitter capital of the world! More is more and less is a bore. As iets moerse bright is en blink en al aan garish begin grens, dan sit hulle nog iets by. Fantasties!

So gebeur dit ook dat ek verlief raak op al die Indiese slipper skoentjies wat so met sequins uitgewerk is en onder streng sensuur van Liefie net (?) 3 paar koop. Die sari winkels is net so pragtig en ek loop uit met 2 saris, maar eers nadat die winkeleienaar so verskriklik bly was om ‘n Westerling in sy winkel te sien dat elke liewe sari in die winkel om my drapeer was en ek “running commentary” van die res van die klante gekry het. ‘n Mens moet dan ook na die armband winkels toe gaan en armbande wat by jou saris pas koop.

Toe ek die eerste winkel sien (winkels is volgens klas gegroepeer, so rye en rye winkels verkoop soortgelyke items) is dit asof my asem uit my ligaan verdwyn. Bollywood se moer! ‘n Hele winkeltjie vol goed wat blink. In alle kleure. As die groottes nie reg is nie, maak hulle net daar vir jou ‘n armband in jou grootte, in kleure van jou keuse en embellish dit met rhinestones.

Hier is ‘n foto van ‘n gedeelte so ‘n winkeltjie.



Die tweede foto wys my in my weergawe van die hemel. Ek kon nie kies nie. Ek wou ‘n stel in elke kleur koop en teen die pryse was dit regtig moontlik, maar teen daai tyd het ons al so geshop dat ons tasse vol was, ons sakke naby aan plat was en ons nog nie halfpad deur die toer was nie. Ek het toe maar net 7 stelle gekoop. Daai armbande is my gunsteling accessories. Ek dra hulle asof hulle diamante is. Elke nou en dan haal ek hulle uit die laai uit net om weer ‘n bietjie Indië te sien en te hoor.

 Hier’s van my armbande:

 
En my eerste verskyning in ‘n sari – dis nogal vrek moeilik om die ding reg te kry, net ‘n lang stuk lap wat mens op een of ander manier moet plooi en drapeer! 


 





Indringer spesie

22 05 2008

Ek en Liefie kom gisteraand laat by die huis na ete saammet ‘n groep vriende. Ek staan in die badkamer en haal half traag my grimering af, dink by myself dat die afhaal van wat jy nounet opgesit het my pyn met make-up is. Dink toe aan hoe mens as 18-jariges moeg geparty sommer net in die bed geval het, niks make-up om af te haal nie. Toe sien ek iets in die spieël glinster. Ek maak dit toe af as ‘n “trick of the light”, maar die glinstering wil nie stop nie. Ek soek en soek. Dis ‘n haar. Ek skrik myself koud. ‘n Gryshaar!

Liefie word ingeroep om die saak te bevestig en die haar uit te trek. (Ek vermoed elke vrou wat haar eerste grys haar ontdek doen dieselfde) Hy lag en sê “You’re getting old!”. Toe hy sien dit was nie presies die regte antwoord vir die scenario voor hom nie, kyk hy verward rond en voeg by: “Don’t worry, it’s just a stray one”. Nou hoekom moet die haar op my kop kom verdwaal?

Ag hel. Ek gaan nou nooit weer in die spieël kan kyk sonder om te soek vir nog ‘n verdwaalde haar nie. Nou as die son op net so ‘n hoek val dat mens die lyntjies om jou oog in jou sonbril gereflekteer kan sien gaan ek fyn kyk vir die fyn lyntjies. Ek gaan aandag aan die revita-lift en ander liegstories wat die skoonheidshuise adverteer begin gee. Kinders sê vir my tannie.

*sug*

 





Die hoop beskaam nie

20 05 2008

Ek sit hier en kyk die semi-finale van die Eurovision Song contest. Ja, toemaar, ek weet ook nie hoekom nie. Nou kyk, die kompetisie het al groot naam wenners opgelewer soos Abba en Celine Dion (wat vir Switserland opgetree het), maar wat ek vanaand gesien het, het my net my kop laat skud. Eurotrash. Alive and well. En hoekom mag Israel deelneem in EURO-vision?

Dit was nie eintlik my punt nie. Soos wat die lande aangekondig word besef ek hoe sleg my aardrykskundige kennis van groot dele van Oos-Europa is. Daai deel wat altyd net die VSSR in my handboeke was. Toe begin ek maar lees op een van my gunsteling sites. Die CIA World Factbook. Vergeet Wikepedia, hierdie outjies het snaakse feite. Ek begin toe maar met die gasheer land Serbia (wat volgens my nog laas bekend gestaan het as Serbia & Montenegro), maar ek sien Montenegro is al van 2006 onafhanklik. Dit het my verbaas hoe groot Yugoslavie was en hoe die land eintlik kleiner en kleiner geraak het soos wat meer en meer groepe onafhanklikheid verklaar het. Ek onthou toe van al die moord en doodslag wat meeste van hierdie onafhanklikheids verklarings voorafgegaan het. Ek was nog net nie oud genoeg om te veel aandag aan hierdie gebeurtenisse te gee nie, maar somehow was dit altyd die Ethnic (sit enige naam in) teen die ander, of andersom. Verander geskiedenis nooit nie? Is ons nie juis veronderstel om uit die verlede te leer nie? En wat “cleanse” ‘n gemeenskap regtig met “ethnic cleansing”? Die haat word nooit uitgewis nie.

Die laaste land wat ek opgesoek het was San Marino. Hier’s ‘n naam vir ‘n land en moontlik iets waarna die hele wêreld kan streef: The Most Serene Republic of San Marino. Gaan ons ooit by ‘n “Most Serene” republiek uitkom? Ek hoop so.

 





Wyn vir die pyn

20 05 2008

So elke nou en dan tref dit my dat ek eintlik binnekort trou en dan skrik ek wakker en trek my leêr en to-do list nader en raak beangs en spring dan aan die werk vir so ‘n uur of twee, net om weer oor twee weke die oefening te herhaal.

Vanoggend was so ‘n oggend waar ek wakker geskrik het, besef het ek het eintlik nog niks gedoen behalwe om vir myself ‘n trourok te organise nie (die bruid moet mos met haarself begin!) en het toe maar iets op die to-do list gekies om af te handel. En as ek sê afhandel, meen ek op die NJ manier, waarvolgens die item oor gedink word, ‘n antwoord gekry word en die antwoord nie noodwendig uitgevoer word nie…

In elk geval, ek sit nou al ‘n geruime tydjie met ons spyskaart en die wynlys van die onthaalplek. Ek is gelukkig met die spyskaart en dis darem iets wat afgemerk kan word as ten volle gedoen, maar die wynlys, o hel!

Ek drink nie. By enige wynproe of toer is ek die aangewese bestuurder. Dis maar net ‘n smaak wat ek nog nooit aangeleer het nie, en ek voel buitendien vreeslik vrot die volgende dag, of ek nou een slukkie of ‘n bottel drink, nou los ek dit maar. Dis vir Liefie swaar dat ek nie wyn drink nie, want dit beteken hy moet alleen sy bottels opdrink…

Waar begin ek met wyn kies? Ek het die heel oggend spandeer om vergelykende pryse vir die wyne op die lys bymekaar te kry en selfs met die corkage wat die venue vra is dit meestal nogsteeds goedkoper om die wyn in te koop. Makro lyk vir my het die beste pryse en ‘n groot verskeidenheid.

Ek gee nie om wat die “nose” of “volume” van die wyn is nie. Die “hints of dark berries, warm chocolate, roasted mocha and exotic spice flavours” beteken vir my net mooi niks nie. So hoe kies mens wyn vir ‘n troue?

Liefie hou nie van detail nie, hy verwag ‘n kortlys van my af, gebasseer op ons budget waarskynlik, maar ek sal wyn kies op die mooiste etiket! Ek verstaan die wyn moet by die kos pas, maar baie goed pas mos by baie kos. Daar’s seker ook sekere tipes wyn wat meer geskik is vir ‘n troue met middagete, soos ons s’n, as ander. En gaan mens vir baie van dieselfde tipe wyn, of ‘n groter verskeidenheid? Ons het eintlik maar ‘n klein troue, nie meer as 70 mense nie. Is ‘n duur wyn noodwendig beter? Is ‘n goedkoper wyn noodwendig sleg? Mens kan ook nie net iets kies omdat jy daarvan hou nie, smake verskil, so op ‘n troue moet mens seker meer “middle of the road” wyne kies. Is daar so iets?

Is die beste oplossing maar om ‘n redelike wynlys te hê vir ‘n verskeidenheid van smake en dat die mense self kies eerder as om die standaard wit en rooi reeds op die tafels te hê?

En moet ek dringend die John Platter guide begin lees?

Help!

 

 

 





Act your age!

19 05 2008

Wipneus! van Onder-die-maan-en-sterre het ‘n algemene tag uitgegee waarin sy vra dat mens jou ouderdom openbaar deur ‘n video van ‘n liedjie van in jou geboorte jaar ‘n hit was op jou blog te sit. Nou ja, siende dat my dag nie vandag so goed verloop nie het ek gesoek vir ‘n lekker harde song! Hier is hy, nie veel van ‘n video nie, maar ‘n lekker song en moet nie dat ek sien julle speel nie saam air-guitar nie!





Trek los

19 05 2008

 

Ek het vanoggend heeltemal verslaap (11 uur is darem bietjie erg vir ‘n weeksoggend) en my hare staan in wilde rigtings. Vir my om so te slaap dat my hare in windrigtings staan is ‘n nogal iets om te bereik. Dis alweer Maandag oggend. Ek weet nie wat laasweek gebeur het nie. Ek het werk om te doen en take om te verrig, maar ek wil nie. My hart is swaar. Ek is moeg daarvoor om in hierdie limbo-fase van “ek is amper by die huis” te wees.

My brein kan altyd vir myself mooi die goed uitdink en verduidelik. Ek weet ek kan nie ophou lewe hier in Stockholm net omdat ek amper hier moet weggaan nie. Ek weet ek moet nogsteeds kos koop en huis skoonmaak en dat ek maar mag uitgaan vir koffie en koek. Ek mag maar dink aan goed wat na die trek gaan gebeur, maar in my hart is daar hierdie groot gebeurtenis om eers agter die rug te kry voor ek hoegenaamd kan aangaan met iets anders. 27 Junie word ons goed gepak. Dis totaal en al belaglik, ek weet, maar ek weet nie hoe om verby dit te kyk nie.

Ek verstaan dat ek seker op een of ander vlak ‘n groot vrees het om terug te gaan Johannesburg toe. Ek weet ek het in my tyd weg verander. Ek weet die mense wat agtergebly het het ook verander, lewens kan nie stilstaan nie. Dit voel vir my of ek ‘n karretjie is wat in ‘n baan vinnig bewegende verkeer moet inskiet, die ander karre gaan nie stop net omdat ek terug is nie.

Intussen het ek baie lief geword vir Stockholm, ek en Liefie het vir onsself ‘n routine en ‘n ritme opgebou wat vreeslik lekker is. Ons verhouding met mekaar het selfsugtig geword, want ons het eintlik maar net mekaar gehad. Ons belowe daagliks vir mekaar dat soos ons nou is werkbaar is in Johannesburg, maar ek weet dit kan nie dieselfde wees nie. Ons het nou ‘n kokon van saamwees. Geen regte verantwoordelikhede nie, behalwe dat Liefie moet gaan werk. Ons loop lang ente saam langs die water in Stockholm, ons lê leeg in die parke, ons is veilig. Ons moes maniere vind om onsself besig te hou, want daar is nie iets “ready-made” nie. In Johannesburg sal ons gaan fliek. Hier is dit te duur. In Johannesburg sal ons boeke deurblaai by Exclusive Books en koffie drink by Seattle, hier bestaan die begrip van boeklees & koffiewinkel nie. In Johannesburg kuier ek by my vriende en suster, hier kuier ons met mekaar of by vriende. In Johannesburg ry ons en koop kos by Woolworths of Pick ‘n Pay, hier stap ons supermark toe. In Johannesburg het ons weer regte lewens, dit voel vir my of die tyd in Stockholm net speel-speel was.

Ek weet ek het iets groot gedoen deur in te stem om Stockholm toe te kom, alles wat vir my bekend is te los en ‘n sukses van die tyd hier te maak. Ek is trots op myself. In ons tyd hier het ons baie gesê “as ons terug is by die huis….” en ek dink ons het Johannesburg begin ophemel. Dis goedkoper, die mense is vriendeliker, die weer is beter, ons het weer ons huis en ons goed, ons gaan ‘n groot verskeidenheid van keuse hê… Ek is bly om weer te kan werk en om weer daai verantwoordelikheid te kan opneem, maar wat as ons terug is en dis nie lekker nie?

Ek voel soos so ‘n bangbroek vanoggend en dis nie eintlik hoe ek is nie.