Yippee vir my!

30 04 2008

Glitters Glitterized by FLMNetwork.com

Hoop julle almal geniet die vakansiedag wat verkeerdelik Werkersdag heet en eintlik NetJane dag moet wees. (almal saam: “Dankie Jane!”)

Hoop verder julle geniet vreeslik die bonus dag wat aan julle toegestaan is omdat 1 dag net te min is vir so ‘n cool mens soos ek om op fees te vier. (weereens almal saam: “Dankie Jane!”)

Ek gaan op reis na die noorde van Swede en hoop om vreeslik bederf te word.

Hoe oud is ek nou hoor ek julle vra? Oud genoeg om van beter te weet en jonk genoeg om nie om te gee nie…





Slim vang sy baas

29 04 2008

Ek is slim. Ek weet dit want dis wat die kinders op skool my genoem het. Ek weet dit ook omdat ek eerste die antwoorde geken het. My ma het ook altyd vir my gesê “sussie, dis nie genoeg om slim te wees nie.” My pa het niks gesê nie – seker net aangeneem as hy die pa van die kind is moet die kind slim wees. Op laerskool het hulle my op Vrydae vir verrykende klasse saammet ander slim kinders gestuur. Die woord wat toe gebruik was is “begaafd”. Die ander kinders het aangeneem dat daar ‘n verhouding tussen begaafd en beskaafd is en net met die ander slim kinders op skool begin speel. Ek het my maatjies gehou, ek dink ek het seker daarvan gehou om novelty value te hê. Ek wou eintlik op Vrydae middae tennis gespeel het (iets wat ek vandag nogsteeds nie kan speel nie).

Deur hoërskool was ek nogsteeds slim, maar daar was ander slim kinders ook en die seuns was slimmer as ek in fisika. Op Maandae oggende moes ek lank voor skool begin het by die skool wees om in daardie tyd en gedurende saal periode ‘n sewende vak te neem. “Vir wat?” wou my ma weet. My pa het niks gesê nie, my net afgelaai. Ek wou eintlik sit in ginnegaap en grappies maak saammet die ander kinders in saalperiode, maar my slimheid het swaar op my gehang, slim kinders neem 7 of 8 of 9 of 10 vakke. Ek het my slimheid as vanselfsprekend aanvaar en begin kyk hoe min kan ek doen om maksimum resultate te kry. Bitter min.

Ek het gaan swot (met ‘n beurs) – my minimum input, maximum results manier van doen het nogsteeds gewerk. Ek het sommige vakke net-net deurgekom, maar ‘n pass is ‘n pass né? Ek het toestemming by die Dekaan gekry om meer as die maksimum aantal krediete in een jaar te loop om sodoende my laaste jaar af te sluit met die minimum aantal vakke. Dit het goed gewerk en almal het my geprys omdat ek so slim plan gemaak het. Ek het Latyn gevat in plaas van die Afrikaans wat eintlik vir die Engelse kinders bedoel was en eintlik net ‘n stop-gap vak was. Ek het stilweg superior gevoel, terwyl ek eintlik net wou kuier saammet my pelle wat die Afrikaans vir die Engelse studente bedoel gevat het en dus elke klas kon bunk. My ma was te bly dat ek alles deurkom sonder dat sy haar naels hoef af te kou soos toe my broer geswot het – sy minimum input het soms minimum results ook gelewer. My pa het Latynse frases aan my voorgehou en hom verbeel die inheemse reg handboek wat hy vir een of ander rede in sy besit gehad het is steeds relevant.

Ek het gaan klerk. Ek was ‘n goeie en getroue slaaf en soos dit ‘n slim mens betaam het ek die akte – en notariseksamens gedurende my klerkskap afgelê en deurgekom om sodoende gelyktydig as Prokureur, Aktevervaardiger en Notaris toegelaat te word. Die enigste een daai dag in die hof. Ek was stilweg afgepiss toe die Regter geen mooi boodskappie vir my het nie, maar eerder vir die meisie langs my ‘n gelukkig verjaarsdag vir die volgende dag toewens. Ek het gedurende my klerkskap dae weer onthou van my ma se deurlopende boodskap “sussie, dis nie genoeg om slim te wees nie.” My pa was baie trots en het aan almal wat wou luister vertel oor sy dogter. Ek het besluit dis over-rated om slim te wees.

Ek wil mooi (ook) wees.





Laduma!

29 04 2008

Liefie werk tans saammet ‘n interessante groep mense wat twee Duitsers, ‘n Amerikaner, ‘n Deen, ‘n Sweed, ‘n Franse Belgiër en ‘n Hollander insluit. Meeste van hierdie mense is ver van die huis af en leef van Maandag tot Donderdag in hotelle. So gebeur dit ook toe dat meeste van hulle sokker fans is. Blykbaar groot fans. Ek is nie seker oor die Deen nie, dis ‘n “sy”. Vanaand is daar blykbaar ‘n belangrike sokkerwedstryd op tv en Liefie (barmhartige samaritaan wat hy soms is) besluit om die mense oor te nooi sodat hulle die sokker by ons kan kom kyk, want sien, ons het ‘n “projector” en dit gee nuwe betekenis aan die term “big screen”. Almal aanvaar die uitnodiging binne 5 minute na die email uitgestuur is. Almal antwoord ook met een of ander voorspelling oor die wedstryd en snedige opmerkings oor die ander span en so aan. Die Hollander spreek sy spyt uit omdat hy op ‘n vliegtuig sal wees ten tye van die game. Die Belgiër stuur ‘n hele boodskap in Spaans. Dis toe wat ek besef ek beter google wie speel. Manchester United teen Barcelona. Ek neem aan die Belgiër is ‘n Barcelona ondersteuner.

Nou kyk – ek en Liefie “doen” nie regtig sport nie. Ek kan nog bo-langse praatjies oor rugby en krieket maak sonder om my naam heeltemal gat te maak, maar Liefie is een van daai rare mans wat net mooi niks van sport af weet nie. Wat hom besiel het om ‘n sokker paartie te reël weet ek nie. Ons moet seker ook ‘n span kies om vanaand te ondersteun! Ek is aangesê om versnaperinge (mal oor daai woord!) te gaan koop en ek neem aan goed soos hotdogs en chickenwings en pizza sal die ding doen. Ook aangesê om bier te gaan koop. Ek drink nie juis bier nie en weet glad nie wat om te koop nie, wat dit erger maak is dat die drankwinkel vol staan van biername wat ek nie ken nie… Wat maak ‘n goeie bier? Weereens, Liefie is een van die rare mans wat niks oor bier weet nie….

Intussen oefen ek solank kliphard aan my “laduuuuuuuuuuuuma!” en “goal goal goal goal goal goal goal goooooooaaaaaaaal!!!!” krete. Weet net nie vir watter span nie…





Myne!

28 04 2008

Aaaaaaahhhhhhh…. Soos in ‘n groot vet sug van absolute aaaahhhhh-ness. Die huis is weer stil en leeg en myne.

Ek is op die beste van dae nie vreeslik sosiaal nie, mense sal dit nie maklik sê nie, want ek is heel goed met die small talk en so aan, maar ek kies gewoonlik aan watter gesprekke ek wil deelneem, ek het vreeslik baie me-time nodig. Dit was nog altyd so gewees, maar ek word al hoe erger in my oudag (haha) en veral noudat ek in Swede woon en soveel me-time kan hê as wat ek wil, ek hoef nooit eens uit die bed op te staan en klere aan te trek nie, ek kan heeldag tussen die bloggers en my boeke wees.

Met die kuier in SA is my me-time erg ingeperk, nie dat ek omgegee het nie, ek het lekker gekuier, maar ek het so uitgesien na my terugkeer na absolute stilte in Stockholm. Met my tas wat agtergebly het in London en die gas wat kort na my aankoms gearriveer het, was my terugkeer na Stockholm nie juis dit waarna ek uitgesien het nie. My tas het gister hier aangekom en lê omgedolwe op die slaapkamer vloer, met die wasgoed wat letterlik vir my lê en loer en ek weet ek moet aandag daaraan gee, maar vir nou asem ek net eers weer my lewe in.

Ek het sopas teruggekeer van die stasie af waar ek my gas veilig afgesien het. Die kuier het goed afgeloop en hy is ‘n maklike mens om mee saam te leef, dis net dat ek en Liefie nog nooit ons Stockholm nessie met iemand moes deel nie. Ons is gewoond aan kuiergaste ontvang in ons huis waar hulle hulle eie “quarters” het… En bo en behalwe die “quarters” het ek ook ‘n Stefina. Ek haat huiswerk en ‘n derde mens in ‘n klein plekkie los sy merk (of miskíen is dit net in my verbeelding?).

Ek is vreeslik selfsugtig (tel bietjie hoeveel keer is die woorde my/myne/ek hierbo gebruik) en deel nie graag nie. Was sommer jaloers omdat ek Liefie na ‘n maand met iemand anders moes gedeel het. Ek wil my panties op die draad kan hang, hard kan poep en kaal kan rondloop in my huis. Ek het nou sommer my pyjama broek gaan aantrek en lê lekker op die bank en tik – because I can!





Heeelllloooo!

25 04 2008

Ek is in Stockholm. My tas is nie. Ons los dit maar daar… (T5 strikes again!).

Die son skyn vir Afrika in Stockholm en die mense loop met moulose klere rond (idiots!). Ek kan nie glo dat ek nog handskoene gedra het toe ek hier weg is nie en nou is dit behoorlik lente, ek is so opgewonde. Daar word ‘n boodskap op die trein van die lughawe af gespeel en ‘n dit eindig met “welkom in Stockholm en vir die van julle wat hier woon, welkom terug.” Ek woon hier. Dit maak my bly.

Ek het altyd gedink mens woon waar jou huis is, of waar jou goed is of waar jy gemaklik is, maar ek besef nou weereens “home is where the heart is”. Ek het vreeslik na Liefie verlang en na my lewe hier verlang en na my eie bed verlang. Ek was ‘n besoeker in Suid-Afrika. Iemand anders bly in my huis daar en ek het nie ‘n kar nie, ek moes uit ‘n tas gelewe het. My bed in my ma-hulle se huis was nie my grootword bed nie, maar my vakansiebed, so selfs daardie huis voel nie soos “huis” nie, maar soos vakansie. My hart trek alreeds ‘n knop vir die weggaan hier…

Môre kry ons gaste. Wel, ‘n gas. Ek dink nie hy besef dat hy op die bank sal moet slaap nie… Volgende naweek gaan ons vir my verjaarsdag op Noorde toe en ek sien vreeslik uit om daardie deel van Swede te sien – ek hoop vir mooi weer en sonskyn.

Liefie het nie juis huisgehou terwyl ek weg was nie en die huis is nie eintlik gereed vir die gaste (gas) nie. Ek is heel lyfseer van die vlug en is min lus vir huiswerk. (Hoe mis ek klaar vir Hannah en Sylvia met hulle sagte Afrika lywe).

Lekker naweek vir julle almal, ek gaan die geleentheid kry om my aangenome stad met ‘n gas te deel en toergids te speel, weird gevoel eintlik!





Brokkies

21 04 2008

Ek lewe nog. (Dis lekker in Afrika!)

Ek kuier ‘n hond uit ‘n bos uit met almal wat wil kuier en selfs die wat nie wil kuier nie. Al die laat nagte en vroeg opstaan is nie goed vir my “looks” nie, maar ek sal weer die slaap opvang as ek terug is in Swede.

Ek het ‘n trourok gekry!! Yippee! Wel, die rok word gemaak, maar ten minste is ek en die ontwerper op dieselfde blaadjie en besef sy ek doen nie tiaras en marshmallow rokke nie.

Het vanoggend vir my ou werk gaan terugvra en hulle het ge-umm en ge-aah. So enige iemand wat ‘n aktevervaardiger en notaris in die noord weste van Johannesburg soek – laat my weet, ek is moontlik in die mark.

Ek mis vreeslik vir Liefie en wil nou terug huistoe gaan, snaaks hoe Stockholm nou al soos huis voel. (About time!).

Gaan netnou tandarts toe. Grr! (Letterlik en figuurlik…)

Ek mis die bloggery en die bloglees en die bloggers vreeslik baie, maar teen Vrydag  is ek terug in Stockholm en vang ek weer op met al die lees en skryf. Belowe! So – don’t you forget about me!





You’re beautiful

13 04 2008

Ek het vanoggend wakker geword en toe ek myself in die spieël raaksien besef ek dat ek nuwe betekenis aan die term “deur die kak lyk” gee. Ek lyk nie elke oggend so as ek wakker word nie, net nou en dan as my slaappatroon nie op ‘n goeie ritme geëindig het nie en die kussingvoue ekstra duidelik sigbaar is. Soos vanoggend.

 

Ek onthou toe dat ek onlangs gelees het dat die verskeie redakteurs van die groot Britse modetydskrifte beplan om bymekaar te kom sodat hulle die hele kwessie van “editing” kan bespreek. Daai editing wat tot gevolg het dat mense sonder boobs op die voorblad verskyn met sulke bates dat Pamela Anderson se tieties soos ‘n “A” cup lyk. Daai editing wat modelle onmenslike klein heupe en middellyfies gee, perfekte bruin vel gee, groot blink Bambi oë gee, voue uit rokke haal, alles “perfek” maak, maar wie se idee van perfek? Die redakteurs het besluit dat die editing nou nuwe hoogtes (laagtes) bereik het en dat daar uitsluitsel oor die saak gekry moet word. Advertensies skep die begeerte vir iets wat nie eens bestaan nie.

 

Ek glo almal is bewus van Dove se “Campaign for Real Beauty”. Ek dink dis ‘n goeie idee, al is dit effens waaghalsig. Hoekom werk advertensies? Omdat dit altyd ‘n beter lewe/huis/gesig/man/vrou/werk belowe. So wil iemand ‘n produk koop deur ‘n normale mens geadverteer? Wil ek weet supersterre is maar net mense? Wat maak ‘n model? Wat maak ‘n mens mooi? Daar’s ‘n video op Youtube wat wys hoe ‘n model (doodgewone gesig) deur grimering verander word. Na die grimering word al die fotos wat geneem word nog verder verander en enhance dat mens later nie eens meer die model kan herken nie. Die video is as deel van die Dove veldtog gemaak, seker ‘n tipe van wake-up call vir verbruikers (julle sal maar self moet soek – ek sidder om Youtube met hierdie dial-up aan te durf!).

 

Toe ek so na myself staar terwyl ek tande borsel het ek nogal gewonder hoe ek sal uitdraai met ‘n paar lae grimering en ‘n hele klomp photoshop.





F(r)okkerasies!

7 04 2008

Ek kuier vreeslik lekker en die troureëlings gaan voor die wind – die enigste GROOT UITSTAANDE KWESSIE is my trourok…

 

Hier is my paspoort storie (soos geskryf kort na die gebeurtenis!):

Outjies, ek tik hierdie terwyl ek nog in ‘n toestand van skok is (waar’s my Rescue Remedy as ek dit nodig het?) Ek land mooi by Heathrow, almal staan in die tonnel wat die vliegtuig met die gebou verbind en kan nie verder gaan nie want al die deure is gesluit en “alarmed”. Ek glimlag lekker, dink dat mense durf om Suid-Afrika ‘n derde wêreld land te noem en gaan toe maar aan.

Deur sekuriteit, en met die dat mens glad nie aan die mandjies waarin al jou persoonlike goed gescan word mag raak nie kan ek toe net aanskou hoe my paspoort tussen die silwer rollertjies deurval en iewers onder die scanning masjien land. Die wag merk dit nie op nie en loop weg. Ek gaan toe maar na die ander sekuriteit toe en vra mooi beskaafd dat iemand onder die masjien inklim en my paspoort vir my gee. Iemand doen dit toe ook. Geen paspoort. Ek bly kalm. Ek vra mooi dat as hulle nie dink my paspoort is hulle energie werd nie of hulle supervisor moontlik anders sal dink. Supervisor soek ook. Geen paspoort. Ek maak praatjies met al die ander mense wat hulle skoene weer aantrek terwyl ek hoop op ‘n mirakel.

Supervisor kom met die idee vorendag dat ek moontlik nooit ‘n paspoort gehad het nie en dus verbeel het dat die ding geval het. Ek vra hom (kalm) of die dames by die BA toonbank ook gedroom het toe hulle my paspoort nommer ingetik het net nadat ek op Heathrow geland het. Verder wonder ek toe ook (kalm) hardop hoe ek moontlik van Stockholm tot in London gekom het sonder ‘n paspoort. Supervisor sê hy dink ek moet my tas en handsak uitpak en dat hy my persoonlik sal frisk, want moontlik het ek eintlik die paspoort by my. Ons doen dit. Daar is nie ‘n paspoort nie.

Ek kon deurgaans kalm bly want ek het my nuwe paspoort met my nuwe Sweedse visa ook in my besit. (Geen idee hoekom ek die nuwe een ingepak het nie, die “ou” ene is nog geldig tot aan die einde van Augustus). Ek het natuurlik vir niemand gesê ek het ‘n ander paspoort ook nie, want dan sou niemand vir die ou een gesoek het nie. Toe dit uitkom dat ek ‘n nuwe paspoort het word ek met agterdog bejeën. Ek wonder weer hardop (nogsteeds kalm) dat ek meer geld kon gemaak het om my ou paspoort te verkoop as om dit eerder net randomly weg te moer en as ek sou besluit het om my paspoort weg te moer sal ek dit nie doen terwyl ek in transit is nie, maar nadat ek reeds die nuwe land binnegegaan het om sodoende refugee status te claim.

Supervisor kom tot die besef dat my paspoort deur die rollertjies geval het en in ‘n leë mandjie op die onderste conveyor belt beland het. Iemand anders het dus nou (sonder dat hulle dit weet, of miskien weet hulle, maar hou net daarvan om na my paspoort foto te kyk want hulle dink ek is sexy) my paspoort.

Teen hierdie tyd is my liggaam nog in skok mode, (“maar jy het nog ‘n paspoort!” hoor ek julle almal sê, ja, maar ek is ‘n girl en sulke goed onstel my) en ek is baie kalm. My penarie word ooral oor gewalkie-talkie en ek word begelei Customer Services toe. My nuwe paspoort nommer word by die sisteem ingevoer. Almal dink alles is reg en verstaan nie hoekom my onderlip bewe nie.

Ek vaar by WH Smith in koop ‘n sak vol tydskrifte omdat dit die enigste goed is waarop ek op daai oomblik kon gefokus het. Retail therapy. Ek sien dat my hande bewe. Ek koop water ook, maar weet dat ek eintlik net ‘n klomp drank wil hê.

Ek besluit om daaroor te blog.

Ek voel beter!

My enigste hoop is dat iemand my paspoort het, besluit om die ding te hou, my te Facebook en dan te poke. Happy ending and all that. Die waarheid gaan wees dat een of ander Nigeriese druglord (at best) of ‘n radikale islamiet (at worst) nou my paspoort het en dat ek van nou af jare se bollies by immigrasie gaan hê.

Ten minste het my tas gearriveer.





Leaving on a jet plane

2 04 2008

Ek vlieg vanmiddag Suid-Afrika toe. Wel, eerste London toe en dan van daar af. Liefie het sy frequent flyer miles geskenk (dankie Liefie!) en my trippie is dus nie te duur nie. Ek vlieg deur die nuwe Terminaal 5 by Heathrow. Daardie een waar die groot nonsens aan die gebeur is en hulle vlugte links en regs kanselleer en daar duisende tasse lê wat nie mooi by hulle bestemmings en eienaars uitgekom het nie. Ek reis redelik baie en tot dusver (touch wood!) het daar nog nooit iets groot fout gegaan nie. Die ergste was met ‘n vlug uit Indië via Bahrain het ons so 3 daggies in Bahrain gescore wat ons nie wou gehad het nie omdat verbindingsvlugte nie mooi verbind het nie.

Ek is ‘n redelike goeie traveller, raak nie te opgestres nie, ken die tricks en so aan, maar meestal trap ek nog in my spoor. Liefie, byvoorbeeld, gaan check sommer by die besigheidsklas ry in al vlieg hy ekonomies – die een keer wat ek dit probeer stuur hulle my na die ander ry toe terug! My lekkerste bederf was toe ek die laaste keer uit Suid-Afrika terugvlieg en ek opgegradeer (of moet dit opgeklasseer wees?) word besigheidsklas toe. As ek eendag groot is gaan ek net Eerste Klas vlieg. (Dream on!)

Met vliegery kom daar allerhande dinge ter sprake. Mens moet baie naby iemand sit wat jy nie ken nie (ek praat as ‘n reël nie met mense op vliegtuie nie…), mense hoes en nies en jy moet daai lug vir hoeveel ure inasem. Babas skree. Die vlug ruik na eier. Babas skree. As jy ‘n gang sitplek het sal dit so uitwerk dat die mens wat langs jou sit elke 20 minute moet opstaan om rond te loop of te gaan piepie sodat jy naderhand jou sitplek opgee vir hulle s’n net om bietjie rus en vrede te hê. Daar sal ‘n Duitser met ‘n hout kameelperd langs of ten minste naby jou sit en die kameelperd sal as ‘n eregas behandel word, soveel so dat niemand naby die ding mag verbyloop nie. Die persoon oorkant jou sal met een van daai oogmaskertjies slaap, maar syne sal van pienk satyn wees want sy vrou het dit op die laaste oomblik vir hom ingepak, wat sal beteken dat jy die hele vlug lank moet seker maak jy kyk nie na hom nie anders bars jy uit van die lag. Daar sal een dronk en luidrugtige doos wees. Daar sal een poephol wees wat die lugwaardin probeer opchat (is dit net ek of is lugwaardinne nie meer deesdae mooi nie en vreeslik oud?) Baie mense sal snork. Jou voete sal koudkry, maak nie saak hoe jy die kombersie om jouself probeer draai nie. Jou oorfone/skerm/remote sal nie behoorlik werk nie wat tot gevolg sal hê dat jy net The Little Mermaid deel 8 kan kyk.

Wat ek eintlik probeer sê is dat as ek vanaand al die bogenoemde deurmaak (behalwe nou die Kameelperd Omie, dis vir die vlug terug) en ek kom môre oggend by O.R Tambo aan en my tas is nie op daai belt nie gaan ek crack.