Ek was nog in die hoërskool toe ek die eendag kerm en kla oor iets wat my ontneem is en wat volgens my, my toekom, toe my pa so in die middel van my sin heel droog opmerk “jou ouers hou jou darem terug né?” wat seker ‘n mooi manier was om te sê “jammer om van jou kak te hoor”. Daai sin het van toe af ‘n standaard tussen my en my sussie geword. Enige ding wat nie ons kant toe kom nie word spottenderwys verklaar met “my ouers het my teruggehou”. Soos in ek kon Miss World gewees het, maar “my ouers het my teruggehou”. My ma en pa weet van hierdie spot en later het die ding so hand uit geruk dat as ek kla oor die weer in Swede my ma sommer antwoord met “jou ouers het jou teruggehou”.
Ek praat vanoggend met my sussie en sy vertel my dat haar seuntjie ‘n dolfyn koek vir sy verjaarsdag wil hê. Nou kyk, ek sê nie maklik ek haat iets nie, maar ek haat dolfyne. Nie die regte egte goed wat in die see swem nie, die dolfyne op goue hangertjies en kerse en posters en duvets. Ek haat dit. En ek haat daai spesifieke blou-kleur wat daarmee saamgaan. Ek kan dit nie verklaar nie, dit is nou maar net eenmaal so. Ek sê toe vir haar sy moet hom oortuig dat hy eintlik ‘n ander koek vir sy verjaarsdag wil hê. Sy antwoord natuurlik “jy’t nooit ‘n dolfyn koek gehad nie, want jou ouers het jou terug gehou”. Ek lag lekker vir ons ou standaard grappie, maar toe begin ek sommer vir die pret daarvan daaroor na te dink. Waarvan het my ouers my regtig teruggehou?
Snaaks genoeg is die eerste antwoord wat by my opkom Voortrekkers. Ek wou nooit ‘n Voortrekker gewees het nie, maar dis nie die punt van die “jou ouers het jou teruggehou” storie nie. Ek het net geweet ek sou nie een kon wees nie, want my ma het iets daarteen gehad. Ek dink dit was volgens haar te Transvaals. (Sy’t in Tamboerskloof in die Kaap grootgeword en sit ook nooit haar mond aan pap en sous nie, dis ook te Transvaals). Ek het dus ook nooit gekamp nie en het vandag toe nog nooit in ‘n tent geslaap nie. Die feit dat ek ‘n tent kan gaan koop en kan gaan kamp aangesien ek nou groot is het nog nooit by my opgekom nie. Ek wil nie kamp nie.
Ek het tasse vol Barbie poppe gehad, maar nooit ‘n Ken nie. Dit val my nou by. My ouers het my teruggehou.
Ek het nie ballet gedoen nie, ek is nie as ‘n vegetariër grootgemaak nie, ek het nooit Formula One gekyk nie. My ouers het my teruggehou!
Ek gaan Woensdag Suid-Afrika toe om bietjie by my ma-hulle te gaan kuier, ek dink ek gaan hulle mooi vertel hoe ver hulle my eintlik teruggehou het. Ek vermoed my pa gaan hierdie keer vir my sê jammer om van jou kak te hoor…
Ek weet dis nie eintlik iets waaroor ek moet spot nie en dat daar baie mense is wat regtig beperkinge in hulle lewens ervaar as gevolg van hulle ouers, maar ek het nou maar eenmaal nie in so ‘n familie grootgeword nie, so in die gees van April Fools – waarvan het jou ouers jou teruggehou?



Die bome sonder hul blare in die sneeu is vir my verskriklik mooi.



Wie sê wat