Ek het reeds op ‘n vorige geleentheid geblog oor my fasinasie/obsessie/verslawing aan Scrabulous op Facebook.
Vandag het die wonderlikste ding gebeur. (Ek raak opgewonde oor die kleinste goedjies en dit vat nie baie om my gelukkig te maak nie). Die outjie (wel, ek moet seker vir hom oom sê – in ‘n nie Jurie-Robbie manier) teen wie ek gereeld speel en ek het nou al so ‘n halwe vriendskap opgebou. Sy dogter is ‘n omroeper by een van Engeland se universiteitsradiostasies. Ek sê toe sommer vir hom hy moet haar vra om ‘n liedjie vir my te speel op haar show vandag. En sy het!
Ek het nog altyd ‘n liefdesverhouding met die internet gehad, want ek weet watter fantastiese goed kan daaruit voortspruit, want dit maak regtig die wêreld kleiner en hierdie gebeurtenis het dit net weer vir my geïllustreer.
Ek dink nou aan Da Mario se post waar iemand vir hom gesê het hy is nie regtig soos wat hy op sy blog voorgee om te wees nie. Toe wonder ek sommer oor myself. Ek het vir Liefie ontmoet toe ons randomly met mekaar begin chat het op ICQ. Na 8 maande se chat het ons mekaar uiteindelik ontmoet. Na nog 4 maande se kuier en vriende wees het ons (uiteindelik!) ‘n couple geword. En dit was omtrent 7 jaar terug. Ons trou in Oktober. Ek vra elke nou en dan vir hom of ek “anders” is in die regte lewe as wat hy gedink het ek gaan wees. Hy antwoord net altyd hy weet nie. Ek weet ook nie.
Ek het in daai tyd wat ek met Liefie begin chat het ook met 2 ander mense gechat. Ons is vandag nogsteeds vriende. 1 in Australië en 1 in Kanada. Is dit regte vriendskappe? Kan dit regtig wees? Ek het waarskynlik meer met hulle kontak as sommige van my ander regte lewe vriende. Wat is bloggers vir mekaar? Ek blog nog nie baie lank nie (so 8 maande of so), maar ek glo julle het ‘n goeie idee van wie ek is, daar’s darem al ‘n gesig, al is daar nie ‘n naam nie en ek het ‘n goeie idee van die wese van meeste van die bloggers by wie ek gereeld gesig wys.
Interaksie tussen mense verander elke dag. Of is dit nou so dat hoe meer ons wys, hoe meer steek ons weg?

Wie sê wat