Lui lui telefoon!

9 02 2010

Ek’s deesdae nie meer ‘n blogger se gat nie. Ek begin al dink ek moet maar my “out of business” bordjie hier begin ophang, dit pas mos by die huidige ekonomiese krisis.

Dit gaan nog goed met my. Dit gaan eintlik baie goed met my. Ek het ‘n hele klomp verassings hierdie maand gekry and things are looking up. Ek kan ongelukkig tot 1 Maart net in raaisels praat, so watch this space! Ek werk myself intussen verby vrek en raak omtrent elke aand op die bank aan die slaap. (Not good in die lurve maand van Februarie nie!) Verdere opgewondenheid is dat ek, so lief as wat ek vir my huidige kar is, ‘n nuwe kar gekoop/gekry het. Ek en Liefie wou nog altyd ‘n convertible gehad het en nou het ons een. So moenie meer uitkyk vir die jaagduiwel met die skreeuwende bande en klipharde rock kitare in die swart Polo nie, waai vir die pop in die silver pers Audi A4 met die afslaandak. :)

Hier’s ‘n vragie om oor te dink:
Ek het ‘n klagte by die werk van ‘n sekretaresse by ‘n ander prokureursfirma ontvang omdat een van my sekretaresses haar selfoon geantwoord het terwyl sy met haar op haar werkstelefoon gepraat het. Ek het toe die saak met haar opgeneem, gesê dis onprofessioneel, die kliënt kom eerste ensovoorts. Ek kon sien sy’t haar gat vir my gewip en toe wragtag gevra of ek nie oproepe van my man antwoord as ek reeds op die foon is nie. Ek doen dit glad nie. As my selfoon lui en ek is reeds op ‘n oproep, of die selfoon oproep nou ‘n werksoproep is of nie, ek antwoord nie. Ek sal nooit waag om vir die persoon op die lyn te sê “hou gaan aan” en dan op my selfoon te blah-blah-blah oor koeitjies en kalfies nie. Jy gee mos jou aandag aan die persoon met wie jy reeds praat, of hoe? Is ek te kwaai?





Elke sport het sy beserings

25 01 2010

Toe my pa nou die dag daar by ons kuier (ja, hy het kom kuier, ja, dis die eerste keer wat ek met hom gepraat het na die egskeiding, ja, ek weet dit maak van my ‘n slegte dogter, ja, ons is nou okay, ja, dit is ‘n storie vir ‘n ander dag) en loop vertel dat ‘n kennis van my broer se meisie/vrou ‘n rugbesering opgedoen het en nou nie meer kan dans nie het ek eers nie heeltmal besef hy bedoel dans soos in Teazers dans nie. Ek dog eers pappie is erg beswaard oor iemand wat nie meer sosiaal kan dans nie. Later het ons natuurlik begin wonder of sy die besering op die paal opgedoen het en of mens by die Workmen’s Compensation Fund kan eis…

My eintlike punt is dit: ek wil bitter graag na ‘n strip club toe gaan. Ek wil sien wat daar aangaan. En niemand wil my neem nie. My base en manlike werkskollegas wat glo “nooit” sulke plekke besoek nie, maar tog almal stories te vertelle het, uum en aah net as ek vra. Liefie sê as ek iemand kry om my te vat wil hy ook asseblief saamgaan, want hy was ook nog nooit by so ‘n klub nie, een of twee van die ander meisies by die kantoor wil ook gaan en die res dink ek is sif om te wil gaan. Ek en Liefie kan natuurlik nie alleen gaan nie, want ons twee sal ewe verskrik wees, ek wil saammet ‘n ou hand gaan.

Ek wil nie vir die boude en tieties en seks gaan nie. Ek wil net weet wat presies die aantrekkingskrag is. Is die meisies regtig sexy, is dit die “secrecy”, dans die vrouens so dat die mans beheer verloor, is dit die kos? Ek wil ook sien hoe die mans optree. Ek wil weet hoe mens ander mense in die oë kyk en ‘n gesprek voer en teruggaan na jou eie huis toe nadat iemand hulle ass in jou gesig geswaai het. Ek wil net bietjie sien wat daar aangaan. Ek wil sien hoe tree die dansers teenoor ‘n vrou op. Ek wil sien of daar lewe in hulle oë is, of hulle dit geniet, of is dit net ‘n werk en hulle is ver weg in hulle happy place.

Liefie het lank terug saammet ‘n ou van Nigerië gewerk. Hy was mal oor strip clubs. Uitgesproke daaroor. Sommer kwaad geraak as die meisies vet of lelik was, sy redenasie was: “I’m paying to see the ass, I can see a fat ass for free”.

Ek wonder of ek ongemaklik sal voel as ek eendag by so ‘n klub inloop.

Ek wonder of ek werklik sal gaan as iemand my nooi.





Enkeling, vreemdeling…

5 01 2010

Vandat ons Saterdag terug gekom het van Argentinië is dit so al vir my of my kop (meer spesifiek my brein) nie aan die res van my lyf gekoppel is nie. Ek dwaal en val so rond asof ek vir weke aaneen gedrink het en nou met ‘n vreeslike babbelas sit. Werk toe gaan Maandag was nie pret nie. Glad nie.

Ek wou nog oor my laaste bestemming in Argentinië blog (Buenos Aires), maar nou weet ek nie meer wat ek wou sê nie! Ek kan maar net my kop skop. Seker omdat ek al hoe nader aan 30 beweeg…

Gepraat oor werk: toe ek by die firma begin werk het was ons 22 mense. Insluitend die “tealady” en tuinjong. Nou trek ons al by die 35 en gister het daar nog 4 nuwe mense begin werk. Ek hou nie van al hierdie verandering nie. Nou sit mense by nuwe lessenare, telefoonuitbreidings het verander en ek bel pal verkeerde mense om oor die nuwe mense te skinder. Liefie sê ek klink nou soos ‘n regte brat, maar daar’s omtrent nie ‘n mens wat al vir die firma gewerk het of ‘n storie wat gebeur het, waarvan ek nie weet nie. Ek’s al ver te lank as wat goed is vir my daar. En nou kom al hierdie nuwelinge by my sake inmeng? Ek dink ek gaan die een wees waaroor hulle praat as hulle sê: “En wie’s daai weird girl in Aktes?”.

My kleuterskool rapport het al iets in hierdie lyn gesê: “Meng nie goed met ander nie en verkies alleen spel, behalwe as sy beheer oor verrigtinge kan neem”.

Volgende ding wat natuurlik gaan gebeur is dat iemand uit my koffiebeker gaan koffie drink en daarvan gaan ek net mooi niks hou nie.





Argentinie – Derde bestemming

1 01 2010

Patagonia

Ek dink nie mens kan Patagonia beskryf nie. Mense wat (soos ek) ‘n voorliefde vir die Karoo en ander groot, oop stil plekke het, waar die term hemelsbreed regtig verstaan kan word en dit wat jy sien veel meer as “niks” omvat, sal miskien hulleself kan indink hoe dit daar lyk en voel en klink, maar ek dink ook nie heeltemal nie.

Ek los julle dus met hierdie gedig deur Kate Clanchy:

I said perhaps Patagonia, and pictured
a peninsula, wide enough
for a couple of ladderback chairs
to wobble on at high tide. I thought

of us in breathless cold, facing
a horizon round as a coin, looped
in a cat’s cradle strung by gulls
from sea to sun. I planned to wait

till the waves had bored themselves
to sleep, till the last clinging barnacles,
growing worried in the hush, had
paddled off in tiny coracles, till

those restless birds, your actor’s hands,
had dropped slack into your lap,
until you’d turned, at last, to me.
When I spoke of Patagonia, I meant

skies all empty aching blue. I meant
years. I meant all of them with you.





Argentinie – Tweede bestemming

22 12 2009

Tweede bestemming: Salta

Ek en Liefie het oorspronlik besluit om na die noord-weste van Argentinie te kom omdat ons bittergraag op die “trein na die wolke” wou reis. Die trein volg ‘n roete  na Chile toe wat mens letterlik bo die wolklyn neem. Ons het tot ons spyt uitgevind dat die trein eers weer in Maart begin loop, maar aangesien die reisgids Salta as een van die mooiste dorpe in Argentinie beskryf en aangesien mens deur ‘n werelderfenis gebied kan ry het ons besluit om tog vir Salta by ons reisplanne in te sluit.

Ek vind die beskrywing dat Salta mooi is, vreemd. Die dorp le in ‘n vallei, tussen ‘n klomp berge en as sulks is die ligging mooi, maar die dorp is baie soos die ander dorpe wat ons sover gesien het, so half vuilerig en deurmekaar. Die winkels en huise vloei die een in die ander  in, oral is daar telefoonlyne en rondloperhonde. Die plek laat my dink aan sekere dele van die Kaapse vlaktes. Nie heeltemal shacks en townships nie, maar ook nie heeltemal eerstewerelds nie. Die karre hier is verby oud, die mense het te veel kinders, die kafees is te klein en te donker. Teenoor dit staan die goeie buurte, met die tuinjonge en bediendes en groot karre, die polo velde, die privaat klubs en golfbane. Die gaping is groot en mens kan dit aan hoe die mense lyk sien. Dis al of die “beter” klas mens van Spaanse afkoms is en die ander duidelike die inheemse bevolking is. Is dit nie maar amper altyd die geval nie?

Ons het ‘n motor gehuur en noord gery, deur die Quebrada de Humahuaca, ‘n werelderfenisgebied. Dis ‘n groot canyon met rotse in die mooiste kleure en klein dorpies al tussen die heuwels weggesteek. Om ‘n padwyser in Argentinie te wees gaan my voor my tyd oud maak. Die paaie verskyn en verdwyn, padnommers en bestemmingsborde bestaan nie, of bestaan net vir padnommers en bestemmings wat nie op my padkaart is nie, mens deel die pad met koeie, skape, bokke, hoenders en perde, asook die groot ou Ford pick-ups wat hier gery word asof die goed Ferrarris is. Verder volg die Argentyne nie internasionale standaarde deur padaanwysings deur middel van prentjies weer te gee nie, maar sit hulle ‘n groot geel bord op en verduidelik vir jou (in Spaans!) wat gaan gebeur. Dis handig as jy Spaans kan lees. Vir ons beteken dit dat ons die “precaution”verstaan en dan die woord “camino”wat pad beteken, herken. Goed dan, ons weet ons moet iets omtrent die pad oplet…

Ons het dan ook suid gery, deur ‘n tweede canyon, al langs die R68, wat tussen Salta en Cafayate loop. Alhoewel hierdie gebied nie die werelderfenisgebied sticker dra nie, het ek dit baie meer intens ervaar as die ander roete (langs die R9). Die panoramas was vir my groter, nader en die kleure meer intens. Cafayate is dan ook ‘n pragtige dorpie, tussen die berge en wingerde. Baie netjies en glad nie soos die ander dorpe wat ons al gesien het nie. Die winkeltjies is oulik, die restaurante netjies en die hele gevoel was net een van ‘n dorpie wat as naweekwegbreek sal dien. As mens net  1 dag het, sal ek regtig die Quebrada de Cafayate ver bo die Quebrada de Humahuaca aanbeveel.

‘n Vragie vir die wynkenners en boere: in watter toestande groei wyndruiwe die beste? In Cafayate het mens letterlik groot kaktusse tussen die wingerde sien staan. Die goed staan daar in die middel van amperse woestyn. Ek weet in Upington is dit ook so, maar is dit nie tafeldruiwe nie? Die son brand teen 40 grade af en in die middae reen dit.

Ons volgende stop is Patagonia. Ons ruil hitte vir koue – ek sien die temperature vir waarheen ons gaan is tussen 3 en 13 grade… Brr!





Argentinië – Bestemming 1

19 12 2009

Iguazu.

Daar waar die muskiete jou deur tabard byt dat die bloed (letterlik) loop, die son jou brand dat jy visioene begin sien en ook die tuiste van die wereld se wydste waterval en ‘n Unesco Werelderfenis gebied. Dis regtig iets om te beleef!

Ek is oor die algemeen nie mal oor oerwoude nie, nie omdat ek tot nou toe enige verwysingsraamwerk gehad het nie, maar omdat ek nie juis van goggas en gediertes hou nie en in die oerwoud kan die goed van bo af ook op jou val. Die miere is so groot soos my duim se eerste lid, die muskiete laat bytmerke waaruit die bloed vloei en die goggas is groot en vat nie nee vir ‘n antwoord nie.  Gelukkig bestaan ons dieet uit vreeslik baie knoffel, so die muskiete het net effens aan my geknibbel, maar ek het ander toeriste gesien wat gelyk het om hulle een of ander dodelike siekte het. Net rooi hobbels wat soos pruime onder die vel lyk,  waar mens kyk.

Ek was vreeslik opgewonde om op ons eerste dag 2 toucans te sien, minder opgewonde oor die iguanas en baie opgewonde oor die coatis, totdat ek agtergekom het dat die goed half soos die bobbejane by Kaappunt geraak het en toeriste eintlik maar net as ‘n bron van kos sien en blykbaar vreeslik aggresief kan raak. Hondsdolheid is nou nie eintlik op my lys van must haves nie. Ek wou baie graag ‘n capabera gesien het, maar nou ja, ek het seker nie hard genoeg gesoek nie. Ons het wel ‘n Capuchin apie met die mooiste gesiggie gesien – ek dink die apie in Night at the Museum is ‘n capuchin apie. Ek het dan ook besluit dat ek ‘n agoutie as ‘n troeteldier wil he. Die ding lyk regtig soos ‘n kruising tussen ‘n marmot en ‘n duiker bokkie. En oral is daar skoenlappers. Duisende skoenlappers. In elke kleur. Amazing.

Dis sleg om te dink dat al hierdie diertjies se habitat daagliks kleiner word.

Die watervalle is pragtig. Daai dun piepiestraaltjies wat ons in Suid-Afrika riviere noem is minder as ‘n stroompie teen hierdie rivier. Ons het aan die Argentynse kant begin en die paadjies en bruggies neem mens tot reg teenaan die watervalle en plek-plek word jy sopnat. Ons het dan ook die taxi-bestuurder se raad gevolg en na die Brasiliaanse kant ook gegaan. Vir R300 het Angel ons van die hotel na die park aan die Brasiliaanse kant en terug hotel toe geneem, al die grenspos werk vir ons gedoen en die 2 of 3 ure wat ons besig was vir ons gewag. Ek is nou nog verbaas dat ek Argentinie kon verlaat, Brasil kon binnegaan, Brasil kon verlaat en Argentinie weer kon binnegaan sonder om een keer uit die kar te klim of om my gesig aan ‘n beampte te wys.

 Dis goed om die twee kante van die watervalle te sien. Van Brasil af sien mens die hele groep valle as ‘n eenheid en kry mens baie mooi ‘n gevoel van hoe indrukwekkend dit regtig is en  aan Argentinie se kant kry jy stuk-stuk  met die groepe valle te doen en besef jy dat dit wat jy van ver gesien het eintlik baie, baie, baie groter is as wat mens eers gedink het. Die volume water en die hoeveelheid reenboe en die konstante geruis van water is asemrowend.

Ek skop nou net elke tweede minuut my eie gat omdat ek nie Spaans praat nie. Die ‘Teach yourself Spanish’ gids en CD’s le nou al seker ‘n goeie 3 jaar in die studeerkamer, maar nou ja. Op die oomblik moet gebare taal maar doen. Ons het vanoggend so beduie dat ons met 1 koppie koffie en 3 croissants opgeeindig het.

Next stop: Salta.





Totsiens 2009!

13 12 2009

Ek wou nog behoorlik baai sê voor ek Argentinië toe gaan en ek wou nog vir almal ‘n Geseënde Kersfees toewens, maar die laaste twee weke het so inmekaar gevloei, dat ek nou hier na ‘n groot partytjie sit en ‘n vinnige boodskap tik, voor ek môre oggend vroeg vlieg.

Geseënde Kersfees. Geniet Desember. Die wat vakansie gaan hou -julle verdien dit. Ek’s terug in Januarie, met baie fotos. Belowe.

Hasta la vista baby!





I’ve got soul, but I’m not a soldier…

4 12 2009

Net toe ek begin dink die jaar kan maar sy gat sien en dat ek niks meer omgee oor wat in die volgende week voor ek met vakansie gaan gebeur nie, toe gaan kyk ek gisteraand na The Killers.

WOW! Hulle mag maar…

Nou is my volgende probleem hoe om vandag wakker te bly!

Nog ‘n SOS: Wat de hel koop ek vir Liefie as ‘n Kersgeskenk?!?!





May the force be with you

23 11 2009

Ek gaan seker nou ‘n vraag vra wat ongevraagd kon gebly het, maar hoekom wil die super in your face christene altyd vir mens bid? Of liewer, vir mens bid as iets met jou gebeur of jy ‘n keuse maak wat hulle nie verstaan nie? Hoekom maar nie net sê “ek dink aan jou” nie? Of is dit dieselfde ding?

My ma en suster was vandag gaste in die gehoor op “Die Ander Kant” – die program op KykNet wat handel oor ‘n heldersiende vrou wat ook met die “ander kant” praat. Of jy nou dink dis kak of nie, wat maak dit saak? As dit nie jy is wat op die program gaan nie, as dit nie mense na aan jou is nie, as dit bloot ‘n werkskollega se ma en suster is, hoekom moet jy ‘n ophef daaroor maak as die kollega dit bloot in die verbygaan noem, omdat iemand anders gevra het of my ma lekker by my kuier? Daar word nou vir my ook gebid, want my ma en suster gaan duidelik die hele hel saammet hulle terugbring van die program af. Ek kon omtrent nie ‘n steek werk gedoen kry vandag nie, want ek is met bybelverse en RSG dominee preke bestook.

En wat antwoord mens as iemand pal vir jou wil bid? Ek word veral nou voor gebid nadat ‘n kliënt onlangs gevra het hoe ‘n Afrikaanse meisie ‘n Indiese van gekry het en ek toe geantwoord het dis my getroude van wou hy dadelik weet watter geloof ek is. Toe ek vir hom sê my antwoord is tweeledig deurdat dit eerstens niks van sy besigheid is nie en tweedens ek geen identifiseerbare geloof aanhang nie, het my kollega omtrent flou neergeval. Sy’t dan altyd gedink ek is ‘n groot Christen. So deur my menswees en gedrag het sy so afgelei – is dit nie genoeg nie?

Moet mense  dan nie ook begin besef dat geloof nie eintlik by die werksplek kan bestaan nie?

 





Haaalllloooooo!

16 11 2009

Ek is terug. Na ‘n lang gevroetel met die rekenaar (Die feit dat die ding onverklaarbaar nie wou werk nie het vir Liefie eindeloos geïrriteer en hy het as laaste uitweg ‘n heatgun gaan koop en die motherboard witwarm geblaas), en hey presto! Het julle my darem gemis?

Ek het ‘n vieslike week agter die rug en dit het Vrydag so middagete se kant goed stoom gekry toe ek in ‘n hewige geveg met ‘n kollega betrokke geraak het en sy toe vir almal wat wou luister vertel het ek is die duiwel. Liefie meen ek het niks om oor te spog tensy ek dit regkry om ‘n kollega te laat huil nie. Hierdie week is nog jonk! Mwahahahahahhhahaha!!!

Kersvader het vanaand ‘n vroeë geskenk kom aflaai en ek vermoed ek gaan vir ‘n rukkie weer minder aktief op die blogtoneel wees. My new best friend se naam is “Kindle” en dis awesome!

(Liefie se einde van die jaar funksie is black tie en toe meen ek ek trek sommer my trourok aan. Umm, ek is skaam om te sê ek moet omtrent asem ophou om al die hakies vasgehaak te kry. Beauty knows no pain?) Ek hoor dat die meeste mense 5kg in hulle eerste jaar van huwelik optel. Ek wil nie ‘n statistiek wees nie!