May the force be with you

23 11 2009

Ek gaan seker nou ‘n vraag vra wat ongevraagd kon gebly het, maar hoekom wil die super in your face christene altyd vir mens bid? Of liewer, vir mens bid as iets met jou gebeur of jy ‘n keuse maak wat hulle nie verstaan nie? Hoekom maar nie net sê “ek dink aan jou” nie? Of is dit dieselfde ding?

My ma en suster was vandag gaste in die gehoor op “Die Ander Kant” – die program op KykNet wat handel oor ‘n heldersiende vrou wat ook met die “ander kant” praat. Of jy nou dink dis kak of nie, wat maak dit saak? As dit nie jy is wat op die program gaan nie, as dit nie mense na aan jou is nie, as dit bloot ‘n werkskollega se ma en suster is, hoekom moet jy ‘n ophef daaroor maak as die kollega dit bloot in die verbygaan noem, omdat iemand anders gevra het of my ma lekker by my kuier? Daar word nou vir my ook gebid, want my ma en suster gaan duidelik die hele hel saammet hulle terugbring van die program af. Ek kon omtrent nie ‘n steek werk gedoen kry vandag nie, want ek is met bybelverse en RSG dominee preke bestook.

En wat antwoord mens as iemand pal vir jou wil bid? Ek word veral nou voor gebid nadat ‘n kliënt onlangs gevra het hoe ‘n Afrikaanse meisie ‘n Indiese van gekry het en ek toe geantwoord het dis my getroude van wou hy dadelik weet watter geloof ek is. Toe ek vir hom sê my antwoord is tweeledig deurdat dit eerstens niks van sy besigheid is nie en tweedens ek geen identifiseerbare geloof aanhang nie, het my kollega omtrent flou neergeval. Sy’t dan altyd gedink ek is ‘n groot Christen. So deur my menswees en gedrag het sy so afgelei – is dit nie genoeg nie?

Moet mense  dan nie ook begin besef dat geloof nie eintlik by die werksplek kan bestaan nie?

 





Haaalllloooooo!

16 11 2009

Ek is terug. Na ‘n lang gevroetel met die rekenaar (Die feit dat die ding onverklaarbaar nie wou werk nie het vir Liefie eindeloos geïrriteer en hy het as laaste uitweg ‘n heatgun gaan koop en die motherboard witwarm geblaas), en hey presto! Het julle my darem gemis?

Ek het ‘n vieslike week agter die rug en dit het Vrydag so middagete se kant goed stoom gekry toe ek in ‘n hewige geveg met ‘n kollega betrokke geraak het en sy toe vir almal wat wou luister vertel het ek is die duiwel. Liefie meen ek het niks om oor te spog tensy ek dit regkry om ‘n kollega te laat huil nie. Hierdie week is nog jonk! Mwahahahahahhhahaha!!!

Kersvader het vanaand ‘n vroeë geskenk kom aflaai en ek vermoed ek gaan vir ‘n rukkie weer minder aktief op die blogtoneel wees. My new best friend se naam is “Kindle” en dis awesome!

(Liefie se einde van die jaar funksie is black tie en toe meen ek ek trek sommer my trourok aan. Umm, ek is skaam om te sê ek moet omtrent asem ophou om al die hakies vasgehaak te kry. Beauty knows no pain?) Ek hoor dat die meeste mense 5kg in hulle eerste jaar van huwelik optel. Ek wil nie ‘n statistiek wees nie!





So dood soos disco

8 11 2009

My rekenaar is gebreek. As dead as disco, soos wat my broer sal se. Dit is deels te danke aan die spesifieke HP-model wat se ietsie-ietsie te naby aan die ietsie-ietsie anders is en daarom moes die ding al eintlik lankal die gees gegee en ek moet eintlik bly wees dat dit so lank gehou het en deels te danke dat ek die rekenaar laat val het. Nie hard nie, dit het skaars ‘n geluid gemaak, maar nou boot die ding nie meer nie. Of iets… Bottomline is dat ek hoogs verveeld en demoerin en kwaai is. Liefie probeer paai en het al die nuwe part bestel en het belowe om dadelik ‘n heel nuwe rekenaar te gaan koop, sou ek dit wou he, maar ek kan mos nou nie ja se en geld mors nie…

So – ek is dus nou van lyn af. Dis waarskynlik goed want ek het ‘n hele klomp goed om te doen, maar my rekenaar is my lewenslyn… Ek huil sommer.

So (snik-snik), totdat ek julle weer raaklees…





Oomblik vir oomblik

3 11 2009

Ek en Liefie het toe mos ewe braaf ‘n hele ruk terug die besluit geneem om ons Dstv lidmaatskap te beëindig. As die hoof tv kyker in die huis het ek die R500.00 (of watookal) fooi ‘n maand betaal en in ruil daarvoor het ek aand na aand se Liefie se “*sigh* there’s nothing on tv, it’s all the same crap, *sigh*, what a waste of money” geluister. Ek het met hom saamgestem en helfte van die tyd het ons net iets gekyk omdat ons nou buitendien voor die tv gesit het. Mens verloor eintlik ‘n hele klomp tyd deur net so deur die kanale te hop. Ons kyk nie sport nie en aangesien ons (nog nie! – dis ‘n storie vir ‘n ander dag…) kinders het nie, mis ons ook nie die cartoons en Cbeebies nie.

Ons besluit toe om op Pushplay in te teken, ‘n kontrak by die dvd winkel uit te neem en dan af en toe vir ons ‘n reeks dvd’s te koop – dit alles werk goedkoper as Dstv uit en ons het sommer meer tyd en eet minder junk. Wen-wen.

Ons raak toe ook so vasgevang in Rome (dis ‘n fantastiese reeks, kyk dit!!), dat dit my ‘n hele tydjie vat om te besef dat ek vir ‘n geruime tyd lank nie enige aflewerings van Pushplay ontvang het nie. Ek kak hulle toe goed uit, net om die antwoord te kry dat hulle aflewering in Gauteng gestop het aangesien die poskantoor glad nie enige dienslewering in ‘n geskikte tyd kan bied nie. Ek voel jammer vir die ouens, maar terselfdertyd sit ek nou met my hande in my hare. Ek is nie ‘n groot tv kyker nie, maar ek wil nou ook nie niks kyk nie!

Ek is ernstig op soek na House seisoen 5, maar Kalahari hou net aan om die datum waarop die beskikbaar is uit te stel. Grr!!

Ons snuffel toe vir Shogun by Look & Listen uit en siende dat dit effe voor my tyd op tv was, oortuig Liefie my “this was hot shit back in the day” – (hy besef toe later hy het eintlik aan Noble House met Pierce Brosnan gedink het, maar nou ja…).

Ons kyk nou die reeks en ek geniet dit baie, veral aangesien ons ‘n tydjie in Japan spandeer het. Hoekom ek eintlik hieroor blog is omdat die volgende gedagte/lewenswyse in die reeks gereeld aan die Westerling verduidelik word: daar is nie ‘n môre nie, daar is net vandag en meer nog, daar is net hierdie oomblik.

Iets om te onthou…





Toe nie

29 10 2009

Ek het gedink ek is okay met my ouers se egskeiding en tot dusver het alles goed verloop.

Vandag is die dag.

Ek is toe nie so okay nie. Ek’s eintlik heel verpletter.





Ek kan nie meer wag nie!!

28 10 2009




Sondagaand nota

25 10 2009

Ek lees vanoggend in my “die sterre voorspel” (Ek’s ‘n bul, vir die wat wonder) dat ek so hard gaan werk dat ek nie my kop gaan kan lig nie. What’s new?

Na aanleiding van die kommentaar op ‘n blog so ‘n ruk gelede waarin ek gevra het hoe mens dit regkry om meer tyd te hê, sit ek nie meer my rekenaar in die aand aan nie. Dit werk soos ‘n bom vir my wasgoed en boek lees en me-time, maar nie so goed vir my bloggery nie. Ook nie vir bloglees nie. Vir die wat ek afskeep – ek is jammer. Ek lees nogsteeds, maar teen die tyd wat ek kommentaar wil lewer is die nuus effe oud!

Ek was vroeër die week lekker omgekrap. Ek dink ek is ‘n hele goeie pel. Nou nie die wêreld se beste nie, maar jy kan my maar in die middel van die nag bel en ek sal help, as ek kan. Ek sal jou vloek en mooi laat verstaan dat jy my wakker gebel het, maar ek sal daar wees. Nie veel song en dance van my kant af nie. Ek is nie een vir groot gebare en get togethers nie. Nie een vir girls nights en elke “Woensdagaand drink ons koffie” tipe goed nie, maar ek probeer bel as ek aan jou dink, sms graag, sal ‘n poskaart stuur as ek toer. Ek koop geskenke as ek iets sien waarvan iemand sal hou, sommer net vir sommer. Wat my so omgekrap het is dat ek ‘n boodskap deur persoon B kry dat persoon A vreeslik in die gesig gevat voel omdat ek nie meer moeite gedoen het om haar te sien terwyl sy uit Engeland hier kuier nie.

Met die dat ek nie een vir song en dance is nie, is ek ook nie iemand wat vir almal vertel hoe erg dit in my lewe gaan of hoe ek nie cope nie of hoe moeg ek is nie, of hoe ek eintlik ‘n groot hartseer het oor sommige dinge nie. Ek staan elke dag op en stap aan. Dis hoe ek cope. Maar in my coping, kom ek soms nie by ander goed uit nie. Soos om tyd te maak om iemand te sien wat van oorsee af hier kuier nie. Ek weet dis my eie skuld as ek nie oor goed praat nie, maar regtig, die lewe is nie altyd net jou parade nie.

Hoe moeilik is dit om vir ‘n minuut te stop en te dink, “miskien het daai mens ook nou baie hooi op haar vurk” of “kom ek bel haar”. Dis so maklik om te nagekom te voel.

Die woorde van een van Live se vroeë songs bly my altyd by:

I know that I should think about giving
And think about
Helping out
And think about living
But I can’t seem to rescue myself

Almal het elke dag ‘n pad wat hulle stap. Almal het hulle eie shit. Mense doen nie noodwendig goed aspris en net om jou kwaad te maak nie.





Volterra en die verdomde eiers

15 10 2009

Daar lê ‘n dorpie met die naam van Volterra in die distrik van Toskane in Italië.

Wikipedia sal vertel dat die dorp eens ‘n belangrike dorp vir die Etruscans was en ek kan vertel dat daar goeie Romeinse strukture agtergebly het en dat die dorpsmuseum interessante stukke en baie mooi religieuse ikone bevat. Die nou straatjies is lekker om in rond te loop en die dorp se ligging op ‘n hoë heuwel maak ‘n mooi prentjie van rooi teël dakke teen die blou-blou lug met ‘n goeie uitsig oor die landskap reg om die dorp. Ek het my lekkerste cappucino in die hele Italië daar gedrink.

Ek was ‘n strooimeisie op ‘n skoolvriendin se troue en na die Italiaanse opskop (waarvan ek nie ‘n woord verstaan het nie) het ek en Liefie toe op ‘n Tuscan roadtrip gegaan. Ons het nes geskop in een of ander villa en lui-lekker rondgery na al die omliggende dorpies toe.

Hoe mooi Toskane is en hoe lekker ons gekuier het kan ons nie vergeet nie, maar die een ding wat totaal en al uitstaan van die hele tydjie is die verdomde eiers in Volterra.

Die area waarin Volterra geleë is, is veral bekend vir die albaster (ek dink dis die Afrikaanse woord) wat daar in die heuwels voorkom en in Volterra is daar baie vakmanne wat produkte uit albaster maak. Ondermeer die eiers. Elke tweede winkeltjie het hulle eintlik gehad. Ek wou met die eerste oogopslag van die eiers hê, maar toe later begin dink hulle is te kommin en eintlik is ek net in ‘n toeriste slaggat gevang. Die eiers was glad nie duur nie en ek en Liefie besluit toe tog maar om ‘n paar te koop. Bietjie later. Ons het mos baie tyd en ons bly vir lank in die omgewing en ons kom mos elke aand dorp toe om iets te eet en vir wat wil ons nou al swaar goed dra en ‘n duisend ander verskonings.

Kom ek maak ‘n lang storie kort. Dit was Oktober 2005. Ons is nou in Oktober 2009. Ons het nooit die eiers gekoop nie. Ons is weg uit Volterra en ek dink nie ons sal weer daar uitkom nie.

Die episode staan nou bekend as “those eggs”. So ver ons reis en ons iets wil koop maar wik en weeg beaam Liefie altyd vir my of ek vir hom: “it’s going to turn out like those eggs”.

In 2006 gaan ons Mosambiek toe. Ons ry verby ‘n straatverkoper en wil opslag ‘n hele ry mannetjies hê. Die klomp figuurtjies vorm ‘n hele prosessie van by die 2 meter lank.  Ons oem en aah weer, het nie geld nie, het nie plek nie, kan nie besluit of dit eintlik maar kitch is nie en stap aan.

Die mannetjies word “those little men” en ons raas omtrent met mekaar oor “those eggs and those little men”, die eiers se wonde is weer oopgekrap en met die dat die mannetjies nou help om die pyn erger te maak,  belowe ons mekaar ons gaan nie ‘n “those….” situasie vir onsself skep nie.

Toe ons op hierdie reis Mosambiek toe buite ons slaapplek stop staan daar ‘n ry mannetjies vir ons en loer. Those little men het ons kom soek en gekry!

Hulle staan nou op my eetkamertafel. Ek weet nie mooi waar om met hulle te gaan nie.





Ook ‘n mens

14 10 2009

Ek is vanoggend so half huilerig. Lekker stupid, weet nie eens hoekom nie. Seker maar deel van vrou-wees.

Ek hanteer oor die algemeen nie emosie baie goed nie en intense emosie laat my altyd maar half hande in die sye staan. Weet nie waar om te vat of te los nie. Weer toe so gister toe ‘n kollega vreeslik en ontroosbaar huil oor haar kat wat ‘n operasie ondergaan. Al die ander meisies deel hugs en ag shames uit en ek staan maar net daar. Voel altyd so om iets te sê gaan buitendien nie help nie. Ek doen praktiese goed. Vir haar gaan tee maak, lekkers uit die laai gekrap, daai tipe van ding. Ek sê toe maar later vir haar dat ek jammer is dat ek nie meer van ‘n “grand gesture” tipe mens is nie en dat sy mos weet ek’s nie so goed met emosie nie – toe sê sy sy weet en dis okay… (Die feit dat ander mense dit ook so ervaar het my nogal omgekrap, weer een van daai goed van my wat ek as ‘n swakheid ervaar, maar nie wil hê ander mense moet agterkom nie!)

Ek wens soms ek was nie so nie. Ek weet nie of dit iets is waaraan mens moet werk nie en of dit nou maar net een van daai eienskappe is waarmee mens gebore word nie…

Die Pretenders sing ‘n mooi liedjie, ek haal ‘n paar reëls aan:

“Well, there’s blood in these veins – and I cry when in pain - I’m only human on the inside – and if looks can deceive – make it hard to believe - I’m only human on the inside”





Bietjie nuus

7 10 2009

Ek skeep my blog vreeslik af, ek weet en ek is baie jammer daaroor. My lewe meng net op die oomblik so bietjie in! (Hoe durf jy lewe?!)

Girlie maak cartwheels in my kommentaar boksie (dankie, Girl, jy het my aandag getrek).

Ek wil nog bitter graag oor die reünie blog en ek wil oor my marknavorsing gisteraand blog (wat is fout met mense dat hulle so baie oor mayonaisse dink dat hulle vir 3 ure daaroor kan praat?!) en oor my stryd om ‘n bikini gekoop te kry (groot borste is eintlik in die somer ‘n pyniging).

Miskien blog ek Vrydag daaroor. Of die naweek. Of Maandag.

O, nee. Wag. Ek gaan op ‘n strand in Mosambiek lê en drankies drink. Ek is Sondag vir ‘n hele jaar getroud! ;)